Ek is amper 30 jaar oud en ek het nie kind of kraai nie.

[caption id="attachment_141221" align="alignnone" width="600"]Foto's: Facebook Foto's: Facebook[/caption]

My ma is maar te dankbaar, want sy het nog ’n 11-jarige laaitie in die huis – stel jou voor sy moes ouma ook wees!

My ouma, aan die ander kant, se hoofbekommernis is: “Nou, Annami, wanneer kry ek ’n agterkleinkind?”

Ek dink heimlik sy gee nie meer om of die kind heeltemal deur die “regte kanale” kom nie, en sê gereeld: “A nee a! Jy moet van die rak af kom.”

Liewe Ouma, ek hoor jou lied. Dit is nie asof die samelewing my nie gereeld herinner aan my rakstatus nie.

Facebook maak dit onmoontlik om my skool-, universiteitsmaats en elke bleddie Jan Rap se verhoudingstatus, verlowings, swangerskapsaankondigings, SONARFOTO’S(!), swangerskapfotosessies, stralende liefdesbetuigings, eerste babafoto’s en elke verdere tree wat die kleingoed gee, te vergeet.

Die ergste van alles is, my onstabiele hormone laat my reageer op die derduisende (en ek is seker daarvan ek oordryf nie) babafoto’s. Ek LIKE dit. LIKE! Soms LOVE ek dit met Facebook se pienk hartjie wat gloeiend hiervan getuig.

My lyf/ouderdom/hormone sê duidelik vir my: jy soek ’n kind, hoewel my kop – wat stewig op my skouers geplant is – kliphard skreeu: jy soek beslis nie nou dadelik ’n kind nie. En dit is oukei. Dit is heeltemal oukei. 1. Ek het ’n interessante werk wat my stimuleer (en ek werk in die bedryf waarvoor ek gestudeer het, wat glo nie so ’n algemene verskynsel is nie). 2. Ek het al van piepklein dorpies in die Bosveld tot in drie van die land se grootste stede gewoon.

3. Ek het wonderlike vriende reg oor die wêreld (dankie, Facebook!).

4. Ek het al bepaal wat my dwelm van keuse is en al ’n bietjie hiermee geëksperimenteer (’n man het my al met ’n machete in die Noord-Kenia klipwoestyn opgepas, ek het al geheul op die strate van Addis Abeba, ek was al in ’n bomskuiling in Israel, die mees romantiese aand in my lewe was op ’n piepklein eiland in Indonesië, my klein Ford Figo met sy Limpopo-registrasieplaat was al tot in die middel van die Mosambiekse kuslyn, ek het al langs seekoeie gestap in Swaziland, ek het al in die voue van die Himalaja gemediteer, dae lank gedwaal in die Annapurna’s in Nepal, ek het al gesien hoe lyk Everest, ek het al voor die Taj Mahal gestaan, ek het al gekyk hoe mense ’n faks aan God stuur, ek het al fietsgetrap om die Bodensee, ontbyt gehad in Oostenryk, skoolgegaan in Duitsland, die Franse platteland verken, myself in ’n kerk toegesluit gekry in die Switserse Alpe en ek het al die krag van die Mekong Delta onder my gevoel).

5. Ek kan Arabies lees en skryf (die praat gaan nog sukkel-sukkel), ek praat so bietjie Duits, ek lees gedigte en dik romans in Nederlands. 6. En soms droom ek ek wil ’n skrywer wees wat gedigte publiseer en ’n boek skryf wat mense so sal roer dat dit in soveel tale en in soveel huise sal wees as dié van my held, die Afgaans-Amerikaanse skrywer Khaled Hoesseini . . . en dan skryf ek so sit-sit so, sommer net om te voel ek kom nader aan my droom. 7. Maar ek het baie drome: Ek droom daarvan om eendag humanitêre werk te doen in ’n afgeleë wêrelddeel en glo my, ek het al ’n paar keer probeer. ’n Goeie vriend het my een keer aangespreek oor al my drome. “Jy droom te veel, Annami.” Ek was hoogs geaffronteerd. (Hy’t natuurlik twak gepraat, maar oor een ding is hy reg: Dit help veel jy droom alles en jy doen niks.) 8. Ek het selfs al liefgehad, hy het my net nie so lief gehad soos ek hom nie.

Ek praat baie van ek, want ek is ’n alleenloper – nie omdat ek mans haat nie. Nie omdat ek nie plek het vir “ons” in my woordeskat nie, nie omdat ek nie ’n ma wil wees nie, maar omdat ek hoë standaarde het.

Ek wil iemand hê wat my liefhet EN saam met my die wêreld wil sien, proe, ruik en voel – en nee, ek dink nie dit is te veel gevra nie.

Terloops, as ons ’n kleinding het, sal julle ook op Facebook derduisende foto’s sien van al die rakker se avonture, maar ek trek die streep by sonarfoto’s.

? Annami Mailovich is die aanlynredakteur van Huisgenoot.