Ek sit en dink oor Nuwejaarsvoornemens en besef byna geen gesprek, toneelstuk of fliek is deesdae sonder vloekwoorde of vuil taal nie.

Selfs wanneer jy by die werk, ’n gesellige braai of ’n sportbyeenkoms met gewone, godsdienstige Suid-Afrikaners gesels, kan jy maar luister na die taalgebruik. Sommige vloekwoorde het immergewilde trefwoorde geword – en is oënskynlik ook aanvaarbaar!

Nou wonder ek of mense nog “ophou vloek”-voornemens maak. Is vloek dan vandag aanvaarbaar? Tawwe, aantreklike ouens in die flieks vloek. Fikse sportlui vloek. Jou vriende vloek. Dis een ding om dan en wan ’n lelike woord te sê as jy jou toon stamp of jou vingers brand, maar vloekwoorde is deesdae deel van feitlik enige gesprek.

Vloekwoorde kom beslis in alle tale voor en mense het tog soms nodig om uit frustrasie, woede of wanneer hulle baie seerkry ’n kragwoord te laat val.

Vir die meeste van ons is ons voorkoms baie belangrik; ons wil ’n goeie indruk skep. Doen vloekwoorde nie ons voorkoms en goeie naam leed aan nie? Jou taalgebruik maak immers ook ’n indruk op ander mense.

Vloekwoordjie,

Bloemfontein

Vloek jy? Pla dit jou wanneer mense vloek? Is dit dalk jou Nuwejaarsvoorneme om minder (of meer?) te vloek? Deel jou storie met ons en stuur dit na web@huisgenoot.com.