So wat maak jy as jy op 44 vermoed jy is swanger? 

Veral as dit geensins deel van jou beplanning was nie en jy eintlik dink dis net hormone en die begin van menopause . . . Alishia van Deventer, leser en publisiteitsbeampte vir talle van ons grootste sterre in die vermaaklikheidsbedryf, deel hier haar swangerskapsreis.

[caption id="attachment_137984" align="alignnone" width="600"]Alishia het met 'n skok uitgevind sy is swanger op 44. Sy deel haar storie met ons. Foto: Verskaf Alishia het met 'n skok uitgevind sy is swanger op 44. Sy deel haar storie met ons. Foto: Verskaf[/caption]

Ja, dís my verhaal! In 'n kwessie van 'n uur gebeur die volgende:

Jy koop twee tuisswangerskaptoetse - net vir ingeval die eerste een foutief is (en natuurlik glo jy die eerste een is foutief!).

Jy doen die tweede toets.

Die tweede een wys positief in minder as 2 minute!

En dan weet jy . . .

Jy raak lam van skok.

Jy raak naar – (eintlik is jy al 2 maande en 3 dae naar, maar jy het gedink dis net stres en . . . menopause).

Jy bel jou ma en jy huil (eintlik het jou ma 'n week terug met haar laaste kuier vir jou gesê jy lyk swanger, maar jy het dit baie duidelik gemaak dis nie moontlik nie en jou vererg!).

Jy WhatsApp jou naaste kollega en jy huil, maar dié keer huil jy eintlik oor Thailand, want jy het so 'n gevoel in jou maag julle gaan nie meer op daardie droomreis in Desember nie.

Jy bid.

Jy roep jou man, wys die twee stokkies en jy huil.

Hy skrik hom wasbleek vir 'n sekonde en dan lag hy en sê, "Dis ok - ons gaan ok wees". Hy druk jou vas en loop na sy seun van 15 (jou stiefseun) en vra doodrustig vir hom – “So, wat wil jy hê? 'n Boetie of 'n sussie?”

Jy vertel dadelik jou dogter (wat al 20 jaar oud is!).  Sy is geskok. "Mamma, ek het nie geweet julle doen dit nog nie!"

Jy bloos en weet nie regtig wat om te sê nie, so jy huil weer.

Jy kry onmiddellik 'n nood-afspraak by jou ginekoloog (want volgens jou is jy die eerste én enigste vrou wat al op 44 swanger geraak het).

En so het ek op 11 Julie 2016, op 44, uitgevind dat ek 2 maande en 3 dae swanger is.

Ongeloof, vrees en bekommernisse het die eerste paar dae deur my kop gemaal het. Die grootste van alles die ongeloof. Ek het kort-kort vir my man gekyk en gesê “ek kan nie glo ek is swanger nie.  Ek is 44, mense kry kleinkinders op hierdie ouderdom, nie kinders nie! Besef jy dat ons nooit weer alleen gaan wees nie?”.

Maar, toe ek die eerste keer daardie hartjie hoor en sien klop, het die ongeloof verdwyn, want daar was hy/sy! Veilig weggesteek in my maag! Ongelooflik!

Maar toe begin die bekommernis weer intree, want ek was 20 jaar terug swanger. Ek weet niks meer nie! Ek kan nie onthou hoe dit voel nie en ek het geen idee wat met my liggaam gebeur nie. Dankie tog vir Google! Oor die laaste twee maande het Google my beste vriend geword.

Die amniosintese was bespreek. Dit was nie suksesvol nie, want die dokter kon nie die naald in die sakkie rondom die baba inkry nie en moes weer probeer. Twee probeerslae later het hy gesê hy gaan liewers ophou en dat ons weer oor twee weke moet terugkom vir dieselfde prosedure.

Maar dis hier waar ek soos Bridget Jones gemaak het en my baba "gevat en geloop" het! Dit was traumaties. Ek en my man het daarna saam besluit dat ons nie weer vir nog 'n amniosintese gaan nie. Wat sal ons in elk geval doen as hulle op 23 of 26 weke (wanneer die uitslae kom) vir ons moet sê dit lyk of iets fout is?  Ons sal nie die baba kan laat verwyder nie. Nooit!

Aan die begin van die swangerskap was ek baie kordaat en vasbeslote dat as iets enigsins fout is, die swangerskap dadelik beeïndig moet word. Nou, op 19 weke, is daar vir my nie 'n keuse in my kop nie! 'n Nuwe lewetjie is hier binne my en ek voel haar reeds beweeg! (O ja, dit is 90% bevestig dat ons 'n dogtertjie verwag!). Ons glo en vertrou dat ons baba 100% volmaak en gesond gaan wees en sover lyk alle sonars en ander toetse 100%.

Ons is wel nou op die punt waar ons vir almal begin vertel dat ek swanger is, voordat mense dink ek is besig om net baie gewig aan te sit. Dit help ook met die aanvaarding dat dit nou met ons gebeur. Ons giggel ook lekker vir sommige mense se reaksies!

Die opwinding begin reeds opbou en al wat ek kan raaksien is babagoed!  Orals! Dis vreemd, want ek het dit nooit regtig raakgesien, maar nou is dit orals! Bottels, doeke, rokkies, prentjies en babas. Babas oral!

Almal vra vir my of ek nou in die tweede trimester van my swangerskap beter voel as die eerste drie maande. Die ding is, ek het net vir een maand van die eerste drie maande geweet ek is swanger!

So nee, die tweede trimester voel vir my erger, want ek wéét ek is swanger. Ek raak groter, het rugpyn en hoofpyn en is redelik kort van draad. Ek is effens stadiger as gewoonlik. Om aan die slaap te raak in die aand, is moeilik en opstaan in die oggend is nog moeiliker. Omdat ons publisiteit vir flieks en kunstenaars doen, moet ons gereeld funksies bywoon. Dis elke keer 'n uitdaging en ek is nog net 19 weke swanger!

Ek is ongelooflik gelukkig om die wonderlikste en mees ondersteunende man aan my sy te hê. Hy is permanent daar en daar gaan nie 'n dag verby dat hy vir my sê ek is mooi nie. Dis seker die mees ongelooflikste ervaring om hierdie avontuur saam met hom te beleef. Iets wat ons nog nooit saam beleef het nie en ook nooit gedink het ons sal nie!  Selfs ons twee kinders uit ons vorige huwelike is opgewonde en sien uit na die koms van die nuweling!

'n Wonderlike geskenkie is op pad vir ons! Ons het so hard gewerk en beplan aan 2016, maar in 'n oogwink het dit verander, want die plan vir ons lewens wat so lank terug al deur 'n Hoër Hand uitgelê is, moet nou tot vervulling kom. En sy is op pad!

Wat 'n avontuur!

  • Alishia sal elke twee weke haar swangerskapsreis met ons deel.