“Ek glo nie iets ergers kan met ’n mens gebeur nie. Hulle kon my eerder doodgeskiet het,” het Sandra Visagie* (toe 55) destyds vertel oor die voorval wat haar en Anneke* (toe 32) se lewe vir altyd sou verander. Hier is Anneke se storie:

2008 is ’n getal wat ek altyd sal onthou; dis nie net ’n jaar nie, nie net ’n getal nie. Ná agt jaar het ek besluit om te skryf, maar nie omdat ek wil hê mense moet weet nie. Ek wil dit agter my sit en nie meer ’n slagoffer wees en wonder nie. En miskien kan een ander mens dit lees en weet hulle is nie alleen nie.

Ek dink elke vrou en meisie wil glo en hoop “dit kan nie met my gebeur nie’’. Ek het ook.

Ek word in die Unie-hospital in Alberton wakker. Ek was in ’n diep slaap en ’n sekonde lank moet ek mooi dink hoekom ek daar is. Was ek in ’n ongeluk? Want ek sien hospitaal en verpleegsters en hoor: “Is jy oukei?’’

Ek sien my ma op ’n ander bed lê. Ons kyk ’n sekonde lank na mekaar en ek sien die seer in haar oë vir my. En die vrae in haar oë, met haar eie seer: “My kind, is jy oukei?’’

Dan flits alles wat gebeur het voor my en ek weet dit was nie ’n droom nie. Nee, ek was nie in ’n ongeluk nie. Ek smag na nog slaappille, want ek wil nie wakker wees nie.

Alles het op ’n doodgewone aand gebeur. Ek het tot agtuur gewerk en toe ’n paar drankies saam met vriende gaan drink. Dit was my verjaardag. Ek is – of was – ’n heel gewone mens met ’n paar goeie vriende; ’n gay vrou in haar 30’s.

Ek het net ná middernag by die huis aangekom en oudergewoonte het my ma wakker geword toe ek die deurknop draai. Ek het in die bed geklim en ’n verjaardag-DVD geluister, maar vinnig lomerig gevoel en geslaap.

Ek het nie lank geslaap nie en nie geweet hoekom ek wakker geword het nie, maar toe ek my oë oopmaak, staan vier mans voor my bed. Ek het my oë geknip en toe besef dit is nie ’n nagmerrie nie.

Ek het altyd voorheen gesê voor iemand my verkrag, moet ek eerder doodgaan. Maar in die vroeë oggendure van 17 Mei 2008 het ek ’n paar keer gebid vir oorlewing en wou ek nie doodgaan nie.

En dit terwyl ek deur nie een man nie, maar deur vier, verkrag is. Hulle het beurte gemaak met my en my ma . . .

Toe ek wou weet of my ma oukei is, het hulle my geslaan en met ’n asbakkie gegooi en is ek weer en weer verkrag. Ek was met kragkabels vasgebind. Hulle het kaal rondgeloop en was vermakerig; hulle het hulle verlekker in ons pyn.

Ek het besef dit gaan beter wees om stil te bly sodat ons kan bly leef, al was alles binne my klaar dood.

’n Mens hou op tel hoeveel keer. Jou liggaam verraai jou, duisende goed gaan deur jou gedagtes, dit voel of jy oor en oor doodgaan. Hulle het weer my klere vir my aangetrek en is weg met alles in die huis en my kar wat waarde gehad het.

Toe ek seker was hulle is weg, het ek my voete losgekry. Ek kon nie my hande loskry nie en het buitentoe gehardloop en mense in die woonstelblok gaan roep. Ek kon nie onthou hoe ek by hospitaal gekom het nie . . . Ons was te bang om in die huis aan te bly en het na ’n veiligheidskompleks in ’n ander deel van Boksburg getrek.

Die verwerking.

’n Mens dink alles is verby en daar moet verligting wees, maar ná so ’n beproewing is dit nie die einde nie; dit begin dan eers. Ek het dadelik in ontkenning gegaan en myself oor en oor vertel dit het nie gebeur nie.

Mense dink niemand wil ’n butch lesbiër verkrag nie. Voor die waarheid uitgekom het, het vriende en kennisse opgemerk ek is seker bly ek is lesbies, want anders sou “hulle” my wou verkrag. Ek het net my kop geknik en dit so verkies. Ek het ’n muur om my gebou en myself oor en oor vertel dit het nie gebeur nie. En nooit daaroor gepraat nie.

My ma het dit anders verwerk. Sy wou daaroor praat, die seer uit haar uitkry, maar ek wou nie. Vriende en familie het ons ondersteun, maar wanneer iemand met my wou praat, het ek toegeslaan of gevlug. Ek het die muur ál hoër om my gebou. Ek was dankbaar dat soveel mense omgee, maar ek het in ontkenning bly leef. Dit het nie met my gebeur nie.

Buiten die ontkenning het die skuldgevoel begin. Ek was kwaad; ek moes my ma beskerm. Hoekom het ek nie probeer nie? Ek het niks gedoen nie. Sy was nie baie gesond nie en het teen kanker baklei. Sy het vroeër jare amper in ’n groot ongeluk omgekom, maar sy het baklei om te leef, net om hierdeur te gaan.

En ek het dit toegelaat, het ek gevoel. ’n Maand lank moes ek profilakse drink om te verhoed dat ek die MI-virus opdoen. Dit het my naar gemaak, maar toe behandeling klaar was, wou ek nie hê dit moet klaar wees nie. Asof ek die pyn wou voel. Ek wou gestraf word omdat ek gevoel het ek het my ma te na gekom en dit toegelaat.

Op 6 Junie was die storie op die voorblad van die gemeenskapskoerant. Ek was baie kwaad, want nou het almal van my vernedering geweet. My werk het my vir sielkundige behandeling gestuur.

Ek het gegaan omdat ek moes, nie om heel te word nie. Steeds het ek alles ontken en myself probeer wysmaak dit het nie gebeur nie. Elke dag het ek die pyn en seer in my ma se oë gesien. Ten spyte van haar eie pyn, was dit vir haar sleg om te sien ek verwerk nie die gebeure nie, ek word nie beter nie.

Meestal het ek net gedrink en in my eie hoekie gesit. Mense het gedink ek is kortaf. Die haat en verwyt het dag ná dag opgebou, toe nog meer verwyt. Ek kon nie eenkeer met haar daaroor praat nie. Ek kon haar nie vashou of troos nie. Ek wou niks te doen hê met wat daai aand gebeur nie.

In 2010 is my ma oorlede. Ná die ongeluk, trauma en kanker kon haar liggaam en siel nie meer teen die wrede wêreld baklei nie. Sy was gereed om te gaan en te gaan rus. My ma is graf toe voor ek en sy ooit oor daardie aand gepraat het. Daaroor verwyt ek myself nog. Ek moes haar troos.

Ek het besluit om Kaap toe te trek, ’n nuwe begin te maak en alles agter my te sit. Niemand weet nie. Ek het gedink om weg te gaan, sal alles beter maak. Die herinneringe gaan beter wees. Maar ek het besef vir so iets hardloop ’n mens nie weg nie; jy moet dit verwerk, dit erken en hulp kry.

Maar dit het ek eers onlangs besef. Ek het mense na aan my afgebreek en seergemaak. Ek het dit gedoen om myself seer te maak, want ek het gevoel ek moet myself straf; ek verdien die pyn. Ek het ook geglo  niks kan erger wees nie; ek was klaar so gebroke.

Sommige mense het al gesê dit is beter as vreemdelinge jou so iets jou aandoen. Maar dan wonder jy jou lewe lank: Hoekom het hulle dit gedoen? Hoekom met my? Dan voel jy ook die gereg het jou in die steek gelaat. Hoekom is daardie mense nog op vrye voete? Hoekom het hulle nie betaal vir wat hulle van my en my ma weggevat het nie?

Soms het ek gevoel ek kan nie meer nie. Partykeer het ek kliniek toe gegaan en hulle het my antidepresante gegee vir posttraumatiese stressteuring.

Ek het dit nie gereeld gedrink nie omdat ek gedink het dis nie wat ek nodig het nie. Wat ek nodig het, is om myself te vergewe, myself te vind en die gebeure te erken, want dit het gebeur. Ek moet mense weer ’n regverdige kans gee en nie toelaat dat hulle of ek ly nie. Ek moet weer leef.

*Skuilname