Al ons familie en vriende was te bly om die begin van ons lewe saam te vier en heildronke in te stel op ons toekoms en die baie kinders wat sou kom.

[caption id="attachment_139976" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Ek en Tony wou vier kinders hê en het selfs hul name gekies. Nadat ons die besluit geneem het, het ons gedink dit sou beter wees om ’n paar jaar te wag voor ons met ’n gesin begin. Ons was jonk, pas getroud en het nog ons voete gevind.

Die stryd

Min het ons geweet ek sou sukkel om swanger te raak. Vier senutergende jare van vrugbaarheidsklinieke, laparoskopie en elke liewe vrugbaarheidstoets onder die son. Al wat ons gehoor het, was ons probleem is “onverklaarbare onvrugbaarheid” – dus is ek en Tony albei 100 persent volmaak, met geen rede hoegenaamd waarom ek nie kon swanger raak nie. Ek onthou ek was elke maand oortuig daarvan ek is swanger – en dan die verskriklike slag wanneer my maandstonde opdaag. Dit was meer as 48 maande van ’n emosionele tuimeltreinrit tussen uiterste hoop en algehele teleurstelling. Dis hier waar ek geleer het wat Spreuke 13:12 bedoel met: “Uitgestelde hoop maak die hart siek”.

Ek was innerlik gebroke en nie eens daarvan bewus voor ons swanger geraak het met ’n kursus in vitro-bevrugting (IVB) en ek op agt weke ’n miskraam gehad het nie. Ons is vier dae nadat ek ’n prosedure gehad het, Griekeland toe en ons huwelik was op ’n mespunt as gevolg van al die emosionele spanning.

Ons het glad nie geweet wat sou voorlê nie.

Ek glo die amper breekpunt in ons huwelik in daardie tyd kon miskien die rede wees waarom ons die volgende katastrofale been kon oorkom. As ons nie ons pyn hanteer het, die verbinding tussen ons herstel het en ons geloof in God versterk het nie, is ek nie seker ons sou oorleef nie.

Ons het weer probeer

Ons het ses maande later besluit om nog ’n kursus IVB te probeer. Op 38-jarige ouderdom het dit ons finansieel ’n knou toegedien, maar ek het geweet ons kan nie tyd mors nie. Ons het gehoop dit sou die laaste een wees wat ons swanger maak. Wel, dit was nie net suksesvol nie -- ons was swanger met ’n tweeling. Ons was lighoofdig van vreugde en kon nie wag om uit te vind wat die geslag is nie.

As gevolg van my ouderdom moes ek al die fetale evaluerings ondergaan, en dit was vir ons so opwindend, aangesien hulle ons al die geleenthede gegee het om ’n band met ons babas te smee. Op 13 weke het ons uitgevind ons verwag ’n tweeling (seun en dogter) en besluit om hulle Stelio (wat “pilaar van sterkte” beteken) na Tony se oorlede pa en Zopoula (wat “die fontein wat lewe gee” beteken) na my ma genoem.

Die familie was saam met ons in die wolke. Ek onthou by my pa se Naamdagvieringspartytjie het een van my neefs heelnag heildronke ingestel het “op die tweeling” en almal sou antwoord: op Stelio en Zopoula!” Soveel vreugde! Dit was die tweede deel van die teks uit Spreuke wat lui: “Maar ’n wens wat waar word, is ’n lewensboom!”

Die opwinding begin

Ek het destyds by ’n kleinhandelsmodewinkel gewerk, dus het ek ’n wonderlike tyd gehad met die koop van handelsmerkuitrustings vir ’n seuntjie en ’n dogtertjie. Ek het navorsing gedoen en ons tweelingstootwaentjie, die twee motorsitplekke, die twee basisse en twee van alles gekry.

My suster het vir my ’n fantastiese slee-bababedjie gegee en ons het, op aanbeveling, besluit om hulle die eerste paar maande saam daarin te sit. Ek het selfs spesifieke wense vir my ooievaarsparty gehad: dit moes ’n sjampanje-ontbyt wees vir my en Tony albei, sowel as al ons familie en vriende.

Daardie nag. . .

Twee dae voor dit alles kon gebeur, het ek die oggend om tweeuur wakker geword met pyn in my lae rug. Ons is hospitaal toe met wat in daardie stadium regte sametrekkings was. Hulle het my aarvoeding gegee ten einde te probeer om die sametrekkings te stop, maar ek was al 7 cm ontsluit.

Ons het gewag vir wat na ’n ewigheid gevoel het voor die narkotiseur opgedaag het (wat in werklikheid moontlik net ’n paar minute was) en ek dink ek het hom byna gesoen omdat hy die pyn weggeneem het. ’n Noodkeisersnee het ons eersgeborene, Stelio, verlos, maar ek het hom nie gesien nie en kon hom nie eens vertroetel nie – hy is na die ander kant van die vertrek weggeneem terwyl die ginekoloog gesukkel het om Zopi onder my ribbes uit te kry.

Zopoula het besluit om haar broer uit te skop ten einde meer plek te kry en haarself toe knus weggesteek. Hulle maak toe ’n vertikale snit ook, om sodoende ’n klassieke keisersnee (’n vertikale en horisontale snit) te maak. Zopi het ’n paar minute later uitgekom, gekneus en gehawend. Stelio het 1 kg geweeg en Zopoula 900 g – die gewig van ’n pakkie suiker.

Tony is saam met die babas weg terwyl ek toegewerk is. Ek is nie seker of die verdowingsmiddels my in la-la-land gehad het of wat nie, maar ek het eerlik geglo die tweeling sou oukei wees. Dit was 2013 en ons was net twee dae tevore in die ginekoloog se spreekkamer, met ’n ophemeling dat hoewel hulle 26 weke was, hulle die grootte van 28 weke oue babas was, dus sou die wetenskap sekerlik ’n plan kon maak.

Ek was so ver van die kol af. Albei babas was in ’n kritieke toestand en is onmiddellik op lewensbystand geplaas. Ek self was nie in ’n goeie toestand nie en kon eers 24 uur later na die neonatale waakeenheid gaan en toe vind ek uit hulle is elk in hul eie oop broeikas, met ’n miljoen pype wat aan hulle gekoppel is en masjiene wat vir hulle asemhaal. Die pediater het die volgende dag ’n dringende vergadering met ons aangevra en omdat ek steeds baie siek was, moes Tony my in ’n rolstoel daarheen stoot.

Dr. P. het ’n baie moeilike boodskap gehad om oor te dra – albei babas het graad 4-breinbloeding gehad en hulle was in ’n kritieke toestand. As dit ’n staatshospitaal was, sou die masjiene afgeskakel word, en indien dit was wat ons verlang, moet ons dit ernstig oorweeg. Dit was nie nodig om te besluit nie; ons sou vir ons babas veg en bid dat God hulle gesond maak. Ons het daardie aand ons familie en intieme vriende gevra om saam met ons by die hospitaal bymekaar te kom en vir ’n wonderwerk te bid.

Ek was die volgende oggend vroeg besig om melk uit te druk toe dr. P. nog ’n verskriklike boodskap oordra – Stelio is oorlede. Sy hart het gaan staan en dit het vir my gevoel asof myne ook stilstaan. Ek bel toe vir Tony, wat reeds op pad was hospitaal toe. Ons moes ons naaste familie bel om vir hulle te sê Stelio is weg.

Dit was die eerste en die laaste keer dat ek my seun kon vashou. Hy was in alle opsigte volmaak. Hy het net soos Tony gelyk, hy het sy bene, sy voete, sy liggaamsbou en sy gesig gehad. My kosbare seun, hoe het dit gebeur? Hoe kan ek jou laat gaan nog voor ek jou geken het?

[caption id="attachment_139981" align="alignnone" width="600"]Styliani en haar pa, Tony. Foto: Verskaf Styliani en haar pa, Tony. Foto: Verskaf[/caption]

Maar ons moes sterk staan

Ons moes met sy begrafnisreëlings voortgaan. Ek het dr. P. gevra of ek Stelio se begrafnis moet uitstel om vir Zopi te wag, maar hy het gesê ons moet voortgaan. Stelio het ons gebroke harte met hom saamgeneem, maar ons het nie tyd gehad om te treur nie, want Zopoula was in ’n kritieke toestand – haar organe was besig om in te gee en sy het bloedvergiftiging gehad. God het aan Tony ’n skrifgedeelte gegee waaraan ons vasgeklou het: Ps. 118:17. “Ek sal nie sterf nie maar lewe en verkondig wat die Here gedoen het.”

Een van die baie wonderwerke was die dag toe sy piepie en haar niere weer begin werk. Sy het die volgende vyf en ’n half maande (168 dae) in die neonatale waakeenheid wankelend op lewensondersteuningsmasjiene deurgebring. Op drie maande is Zopoula vir die eerste keer vir die dag per ambulans vervoer om ’n laseroperasie op haar oë te kry om ROP (retina van prematuurheid) te kry. Die volgende laserbehandeling op haar oë was in die 4de maand.

In die 5de maand het Zopoula haar eerste breinwisselingsoperasie ondergaan. ’n Week voor sy ontslaan sou word, het sy die penne uit haar neus gepluk en begin om self asem te haal. Die dag toe sy ontslaan is, was ’n feesdag – ongelukkig van korte duur, aangesien sy twee weke later weer opgeneem is omdat sy nie in staat was om genoeg te drink om haar aan die lewe te hou nie.

Haar volgende operasie was die G-buis/pen-operasie sodat sy deur ’n buis in haar maag gevoed kon word. Zopoula het oor die volgende paar maande gereeld na die hospitaal teruggekeer: ’n MRI, nog ’n breinoperasie, vervanging van die pen met ’n kleiner knoppie wat as ’n “mick-key” bekend is en een te veel aanvalle van brongitis/longontsteking. Daar was ’n goeie tyd van ses maande en toe is sy terug hospitaal toe vir ’n noodbreinoperasie (geblokkeerde wisseling vervang). Dit was toe dat sy die vreeslikste stuipe-aanvalle begin kry het.

[caption id="attachment_139974" align="alignnone" width="601"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Zopoula se lus vir die lewe

Haar amptelike diagnose is spastiese kwadruplegiese serebrale verlamming, met epilepsie, kortikale visuele gestremdheid en globale ontwikkelingsvertraging. Dit alles beteken sy kan nie loop, praat, sit of self eet nie en daar is onsekerheid oor wat sy kan sien. Maar haar uitdagings, of dit nou fisiek of kognitief was, het nooit haar gees gedemp nie.

[caption id="attachment_139975" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Sy het werklik ’n lus vir die lewe en sy oorkom elke struikelblok met vasberadenheid en moed. Ons het so baie by haar geleer – veral om deur die grootste teenspoed te glimlag. Jy hoef net een glimlag te sien en jy kan nie help om haar lief te hê nie. Sy is warm, teer, liefderik en ook astrant.

O, en laat ons nie vergeet van uitbundig nie (ek neem aan dis die eintlike kenmerk wat haar deur daardie naby aanrakings met die dood stoot). Hoewel sy nie kan praat nie, maak sy haarself verstaanbaar, maar net deur basiese dinge, soos of sy gelukkig of ongelukkig is. Ons volgende belegging vir haar sal waarskynlik die een of ander stuk kommunikasiegereedskap wees (slegs een item op die nimmereindigende lys).

[caption id="attachment_139983" align="alignnone" width="600"]Zopoula by terapie. Foto: Facebook Zopoula by terapie. Foto: Facebook[/caption]

Die afgelope drie en ’n half jaar was nie maklik nie, aangesien Zopoula eers om haar lewe geveg het en ons nou ’n werklikheid ervaar van die lewe met ’n kind met spesiale behoeftes. Maar deur dit alles was ons geseën deur die goedheid van mense wat ons bygestaan het – van maaltye wat vir ons by die hospitaal afgelewer is toe ons dae lank langs/in haar bed deurgebring het, tot ’n 8-jarige meisietjie wat die geld wat sy by die tandemuis gekry het, wou skenk vir Zopoula se geldinsameling.

Mense is kosbaar, en dis net te danke aan hierdie uitdagende reis dat ons in aanraking gekom het met van die ongelooflikste gevalle van uitreiking van die menslike hart en hand.

Goedheid van die mense verbaas ons elke dag

Ons het verlede jaar dié tyd tot die besef gekom dat die lewe van ’n kind met spesiale behoeftes bloot dit is, hulle het spesiale en bepaalde behoeftes (dikwels met ’n hoë prysetiket op). Hoewel ons mediese fonds die hoofstroomterapieë, soos fisioterapie, arbeidsterapie, ensovoorts, dek, moet ons die meeste van die onkoste self dra. Ons moes met ’n geldinsameling begin vir die groot toerusting, maar kon onsself net nie sover bring om vir mense geld te vra nie.

Ons was teen die planke toe ’n Griekse vrouevereniging van Kaapstad ons nader en vir ons die opbrengs van hul jaarlikse vasvra-aand-geldinsameling skenk, en ons was nog meer verbaas toe ek die saal daardie aand binnestap en so ’n warm verwelkoming kry.

Ons familie en vriende het ons gedra in tye toe dit gevoel het asof ons verdrink. Dit, en ons geloof in God, was ons redding.

Ons het onlangs ’n motorhuis-verkoping gehou om geld in te samel. Ek het nie woorde nie om te sê hoe nederig ons gevoel het by die aanskoue van al die goed wat aan ons geskenk is, die span vrywilligers wat dag en nag gewerk het om alles gereed te kry en pryse aan te heg, die lang ure op hul voete om dit te verkoop (met ’n vrolike gesig, moet ek byvoeg) en die vervelige taak van opruim en die oorblywende goed in bokse sit vir liefdadigheid.

Dit was ’n reuse-onderneming, maar ons ‘Team Zopoula’ het ons weer eens opgeraap en ons aangemoedig. Selfs ons Grieks-Ortodokse priester, vader Nicholas, het van oopmaaktyd tot toemaaktyd in die son gestaan en sy wêreldberoemde soewlaki gemaak en die opbrengs aan ons dogtertjie geskenk. Daar is ’n Griekse woord wat ons gewaarwording daardie naweek die beste beskryf het: Philotimo: om jou vriend te vereer.

Dit beteken jy moet jou lewe met deugsaamheid leef – gevul met liefde vir die wêreld om jou en vir jou medemens. Sinonieme: toegeneentheid, vrygewigheid en gasvryheid. Die philotimo was beslis tasbaar vir ons.”

Die storie eindig nie daar nie – nie vir Zopoula nie en ook nie vir ons nie. Ek het wonderbaarlik verlede jaar weer swanger geraak. Dit was werklik ’n wonderwerk, aangesien ek 40 was, oorgewig, oormoeg, en heeltemal oorstres en laat ons nie die onverklaarbare onvrugbaarheid vergeet nie. Boonop het ek en Tony meer nagte afsonderlik deurgebring omdat ek so baie tyd in die hospitaal deurgebring het met Zopoula.

Ek was 37 weke swanger en het die lewe geskenk aan ’n baie gesonde dogtertjie van 3,85 kg, met die naam Styliani (die vroulike vorm van Stelio).

[caption id="attachment_139977" align="alignnone" width="600"]Zopoula en Styliani. Foto: Facebook Zopoula en Styliani. Foto: Facebook[/caption]

[caption id="attachment_139982" align="alignnone" width="600"]Styliani lyk op 'n haar nes Stelio. Foto: Verskaf Styliani lyk op 'n haar nes Stelio. Foto: Verskaf[/caption]

Een van my gebede was dat God Stelio vir my in ’n droom moet wys sodat ek kan sien hoe hy lyk en hoe hy grootword. Wel, Styliani lyk net soos Stelio gelyk het en ek glo sy is God se geskenk aan my sodat ek kan sien hoe Stelio lyk. Ek het selfs op ’n dag vir Tony gevang waar hy oor die wiegie leun en vir Styliani fluister: “Stelio het jou gestuur, né?”

Ons, as haar ouers, is onverbiddellik in ons strewe om Zopoula te help om haar lewe op die beste moontlike manier te leef en ons doen al wat ons kan sodat sy kan ontwikkel en vooruitgaan (hoofstroom-, sowel al alternatiewe behandelings).

Maar ons is nou desperaat om haar aan die beweeg te kry, aangesien sy 15 kg weeg en sy raak nou te swaar vir ons om haar te bad, op te lig, vas te hou en te hanteer (sy is ook gefrustreer omdat sy in ’n liggaam vasgevang is wat nie wil saamwerk nie). Ons samel tans geld in ten einde toerusting te bekom wat ons hiermee kan help.

Indien jy wil bydra, stuur 'n e-pos aan Niki.

Volg asseblief haar reis op Facebook.