1377002_239433262872749_15569518_n

’n Mens sou dink ’n sielkundige weet net hoe om ingewikkelde vrae te vrae. Maar in vandeesweek se Dream School het Esta Hattingh vir leerlinge gevra om elkeen ’n kleidiertjie te maak wat die meeste oor hulle sê. Nadat die eerste falliese vorms en ’n groot gegiggel einde gekry het, het hulle met ’n paar interessante dinge vorendag gekom.

Ek is seker party van hulle het sommer net die eerste dier gemaak wat by hulle opgekom het, maar die meeste kleidiertjies het my beïndruk. Dis fassinerend dat 15 tieners uit soveel verskillende agtergronde  verskillende diere kon maak wat tog sulke eenderse eienskappe het.

Vincent het  ’n rot gekies. Vreemd, het ek gedink. Vincent is glad nie soos ’n rot nie. En wat ’n gedierte om te kies. Maar toe begin ek dink watter eienskappe en emosies hy bewustelik (of dalk onbewustelik) met die rot vereenselwig: ’n gehate diertjie vol siektes . . .  ’n stroom negatiewe idees het by my opgekom. Nuraan het weer ’n muis gekies – weer eens is daar so baie negatiewe verbintenisse: ’n pes, piepswak. Waunita en Nissaa het diere gemaak wat  met broosheid of swakheid vereenselwig kan word: ’n liewenheersbesie en ’n hasie. Trevor en Tsepho het die renoster gekies (bedreig, teiken van jagtogte). Selfs Thandeka, wat gewoonlik selfversekerd en vol stories is, het ’n dier gekies waarvan mense meestal nie hou nie: die slang.

Thandeka het ’n slag met woorde: Op haar eie, welsprekende manier het sy verduidelik watter soort dier sy as ’n verteenwoordiger wou hê. Dit het dalk vir die res van die klas iets gegee om na te streef: “As ek nie hierdie dier moes maak nie (’n dier wat haar verteenwoordig), sou ek ’n leeu gemaak het. Dit maak nie saak hoe honger ’n leeu is nie, hy sal nie gras eet nie.”

Kyk ek terug, het hierdie episode my ’n groot les geleer oor hoe die leerlinge hulleself beskou. Soos hul alter ego's van klei voel hulle asof hulle buite die samelewing staan, verstote, bedreig, swak. Ek dink ek het meer van hulle geleer in hierdie enkele les as wat ek sou as ek jare saam met hulle deurgebring het.

Ek hoop Dream School kan die bedreigde, magtelose prentjie wat hierdie jong mense van hulleself het, omdraai.

-         Kirstin Buick

Kyk vanaf 13 Oktober elke Sondag om 17:00 na MySchool Dream School op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic en M-Net Series.

Huisgenoot se skrywer Kirstin Buick was op die stel van Dream School en kon op ’n afstand kyk na alles wat aangaan. Bly op die hoogte met haar weeklikse blog oor eksklusiewe agter-die-skerms-ervarings.