DIE feit dat die son elke dag langer uitbly – en vasberade deur die koue breek om ons weer buitentoe te lok – beteken in Suid-Afrika een baie belangrike ding. En dis ’n ding waarvan ek baie hou. Dit beteken ons word oorweldig deur ’n skielike, onstuitbare begeerte om die braairooster skoon te maak en weer kos op ’n vuurtjie te gooi.

Ek is mal daaroor dat braai in Suid-Afrika oor soveel meer gaan as om kos op warm kole gaar te maak. Dis ’n nasionale tydverdryf, ’n wonderlik eenvoudige, betowerende manier om mense bymekaar te bring. En al weet ek ons geliefde Nasionale Braaidag wag nog ’n paar weke ver, het ek gedink ek sal jou solank lus maak en jou smaakknoppies aan die tintel kry oor wat op pad is. Ek bedoel, as ons so ernstig is oor braai, moet ons dit tog uitleef, of hoe?

’n Regte goeie braaihoender is so na as wat kan kom aan die heilige graal van braaigeregte. Ek weet lamstjops en boerie en liplekker steaks het ook hul trotse plek – maar daar’s iets aan ’n perfek bereide hoender (en hiermee bedoel ek ’n sappige, gevlinderde hoender bedruip met ’n klassieke tuisgebroude braaisous) wat veroorsaak dat ’n weermag my moet keer om dit te verslind voor ’n beskaafde tyd verloop het.

Hier is dus my weergawe, stap vir stap (hoe om die hoender te sny inkluis).

Ons gunsteling- tuisgebroude braaihoender

Braai chicken

JY HET NODIG

1 heel hoender, gevlinder, of 8 gemengde hoenderporsies met die vel aan (verkieslik vryloophoenders)

Hoe om ’n heel hoender in ’n plat hoender te verander

1 Plaas die hoender op ’n oppervlak sodat die boudjies boontoe wys.

2 Sny met ’n skêr al met die borsbeen langs.

Butterfly

3 Trek die hoender uitmekaar en plaas dit plat in ’n roosterbak.

4 Giet jou briljante braaisous oor (resep onder).

Add sauce

Braaisous

2 e olyfolie

2 e tamatiesous

2 e balsemieke asyn

1 e loperige heuning

1 e suurlemoensap

1 t Dijon-mosterd

1 t korrelmosterd

1 t brandrissievlokkies of 1 vars brandrissie, saadjies verwyder en gekap

1 t paprika

½ t droë koljander

½ t kaneel

½ t anys

½ t droë tiemie

2 huisies knoffel, grof gekap

ruim knippie sout en vars gemaalde swartpeper

Meng alles saam in ’n mengbeker en voeg 2 e warm water by om die mengsel losser te maak.

MAAK SO

1 Giet die braaisous oor die hoender en laat so lank moontlik in die yskas voor jy dit gaarmaak. (Dis selfs beter – maar nie noodsaaklik nie – om dit met kleefplastiek te bedek en oornag in die yskas te laat.) Haal uit die yskas en bring tot kamertemperatuur omtrent 20 minute voor jy dit wil begin braai.

2 Voorverhit jou braaier tot omtrent medium hitte as dit ’n gasbraaier met verstelbare temperature is. Braai 30-35 minute tot gaar (met die deksel op as jy een het) en draai halfpad om. Onthou om elke 10 minute of wat ekstra braaisous oor te verf.

3 Verwyder van die braai en sit voor met bygeregte van jou keuse. Ek hou van patatwiggies en ’n klein krakerige slaai, of selfs eenvoudige vars broodrolletjies met ’n goeie mayonnaise en hoenderskyfies hoog daarop gestapel.

En hier’s ’n paar braairesepte wat nie so vleiserig is nie

Geroosterde botterskorsie-en-lensieslaai

Butternut

JY HET NODIG

Slaai

1 middelslag-botterskorsie (sowat 750 g), in die helfte deurgesny

1-2 e olyfolie

½ t fyn komyn

½ t fyn koljander

1 blikkie lensies (in water, nie soutwater nie), gedreineer

½ rooi-ui

1 e gekapte vars kruisement of koljander

sout en vars gemaalde peper na smaak

Slaaisous

2 e olyfolie

3 e balsemieke asyn

bietjie vars suurlemoensap

1-2 t loperige heuning

gekapte vars brandrissie (opsioneel)

MAAK SO

1 Voorverhit jou braairooster (of stook daardie vuur, boet!). Mikrogolf die botterskorsie 9-10 minute in ’n mikrogolfbestande bak op hoog tot dit gaar is en ’n mes maklik daarin gesteek kan word.

2 Bedruip die botterskorsie met 1-2 e olyfolie en strooi die speserye oor. Plaas die bak met die botterskorsie op ’n bakplaat wat met ’n dubbele laag tinfoelie bedek is en plaas dit op jou braairooster. Braai nog 15 minute met die deksel toe (as jy een het), verwyder die botterskorsie uit die bak en braai 1-2 minute op die rooster om meer braaigeur te gee. (So nie, kan jy dit net teen 180 ºC in jou oond gaarmaak.)

3 Sny die botterskorsie in groterige stukke. Giet die lensies in ’n bak en voeg die gekapte rooi-ui en botterskorsie-stukke by. Roer die kruisement of koljander deur.

4 Meng die bestanddele vir die slaaisous, roer deur die slaai en geur goed met sout en peper.

Geroosterde brandewyn-clementines

clemengold

JY HET NODIG

4 ClemenGolds, gehalveer met die skil onbeskadig (jy kan ook lemoene, nartjies, nektariens of perskes gebruik)

4 t brandewyn

8 t moskovado-suiker

vanieljeboontjie-roomys vir voorsit

Jy sal ook ’n bakplaat nodig hê wat met ’n dubbele laag tinfoelie uitgevoer is.

MAAK SO

1 Voorverhit jou braairooster tot mediumhoog. Plaas elke vrughelfte met die oopgesnyde kant na onder op die rooster en rooster sowat 45 sekondes-1 minuut tot dit net effens swart gebrand is. Verwyder van die rooster en plaas die helftes in ’n vuurvaste bak met die gesnyde kant boontoe. 2 Besprinkel elke helfte met ’n bietjie brandewyn en suiker. Plaas op die voorbereide bakplaat op jou braairooster of onder jou oondrooster en rooster 5-7 minute of tot die suiker gesmelt het en die vrugte net begin borrel. 3 Verwyder van die hitte en sit onmiddellik met die roomys voor. Wenk Maak die segmente van die vrug met ’n skerp mes los voor jy dit gaarmaak. Dit sal dit makliker maak om te verwyder wanneer jy eet, want dis so heerlik dat dit gou ’n morsige affêre kan word! Afkortings

e = eetlepel

t = teelepel

- Sarah Graham

Sarah Graham Sarah Graham is  ’n kosblogger, kookboekskrywer en TV-sjef. Lees gerus haar kosmymeringe op haar blog. Jy kan haar kookboek bitten in boekwinkels koop of  op haar webtuiste. Kyk haar TV-program “bitten – Sarah Graham Cooks Cape Town” op Sondae om 16:00 op SABC3.

Lees Sarah se ander blogs vir Huisgenoot:

Ek proe al die lente

En skielik is ons mal oor bak

Sop, lieflike sop

Die pad vorentoe

Kosnostalgie