[caption id="attachment_58957" align="alignnone" width="400"]Mark Pilgrim en sy "meisies": van links Tayla-Jean, Alyssa en Nicole. Mark Pilgrim en sy "meisies": van links Tayla-Jean, Alyssa en Nicole.[/caption]

EK HOU daarvan om te dink ek is die man in die huis. Ek is vreesloos as dit kom by die beskerming van my gesin. Ek sal soos ’n verwoede bul op jou afstorm as jy dit te naby my meisies waag. As ek in die nag ’n geluid hoor, is ek soos ’n pyl uit ’n boog by die oorsprong daarvan. Ja, noem my sommer Jack Bauer.

Toe ek dus laas nag onder in die sitkamer besig is en my vrou in die boonste badkamer hoor skree, was ek vinniger aan haar sy as ’n koeël uit Piet Skiet se geweer.

Maar ek was nie voorbereid op wat ek daar aangetref het nie, en ek dink Nicole het die flikkering van besluitloosheid in my oë gesien. Tree ek dapper op en red die skone jonkvrou, of hol ek vinniger as sy by die trappe af?

Dit was ’n spinnekop. Johannesburg het ’n vreeslike klomp reën gehad en die agtpotige gogga het hom na ons huis gewend op soek na ’n bietjie droogte. Ek is nie seker hoekom ek so vir spinnekoppe gril nie, maar hulle laat my hare orent staan, veral dié met vlesige mae oortrek van klein haartjies.

Die enigste ding erger as om ’n spinnekop te sien . . . is om hom skielik nie te sien nie, en ek kon my al indink hoe ek drieuur die oggend badkamer toe gaan en meneer nie meer teen die blinding sit nie. En dan, terwyl ek op die toilet is, kruip hy onder die toiletrand uit en neem ’n klein happie uit my watsenaam.

Met daardie prentjie in my kop laat vat ek toe kas toe op soek na die beste stuk gereedskap waarmee ’n mens jou kan bewapen as jy van aangesig tot aangesig met ’n aragnoïed kom . . . en kry ek net plastiekbakkies daar. Ek gryp toe maar die grootste deurskynende een wat ek kon sien en voer daar en dan ’n Under the Dome van Stephen King uit. Ek het hom gekry!

the spider

Toe doen ek wat elke selfrespekterende huiseienaar in ’n kompleks sal doen . . . ek gooi die spinnekop met ’n boog tot in ons buurman se tuin. Ons gesin het soos klippe geslaap.

- Mark Pilgrim

Mark Pilgrim  Mark Pilgrim is ’n vryskutradio- en TV-aanbieder en is ’n omroeper op 94.7 Highveld Stereo en 94.5 Kfm. Volg hom by @MarkPilgrimZA of gaan na sy webtuiste.