Is ek al een wat daarvan hou om te sien daar is hope voormalige kindersterre wat grootgeword het en nou goeie TV-rolle vertolk?

Ja, vir elke voormalige kinderster wat kop verloor, soos Lindsay Lohan, is daar ’n Natalie Portman wat grootgeword en uitstekend gevaar het. Maar daar is ook ander wat ’n ruk lank weg van die skerms was, maar nie kop verloor het nie en nou terug op die kassie is.

Dit was die geval met Neil Patrick Harris, wat ná Doogie Howser, M.D. verdwyn het en later teruggekeer het as die briljante Barney in How I Met Your Mother.

Mayim Bialik, in die 90’s die ster van die reeks Blossom, het die akteursbedryf gelos om te studeer en ’n doktorsgraad in neurowetenskap verwerf. Sy het onlangs na die kassie teruggekeer as Amy in The Big Bang Theory.

En nou het ek nog een gevind! Ek is versot op die snaakse komedie Veep op M-Net Series, met Julia Louis-Dreyfus as die rampspoedige Amerikaanse adjunkpresident Selina Meyer. Julia sit nie ’n voetjie verkeerd nie – ná haar rol as Elaine in Seinfeld en die stapelgek en snaakse Christine of The New Adventures of Old Christine, het sy weer goud raakgeboor met Veep. Maar die Veep-aktrise wat my oog gevang het, was Anna Chlumsky. Onthou julle haar nog? Sy was in die 1991-fliek My Girl saam met Macaulay Culkin met die bekoorlike naam Vada Sultenfuss. Anna is nou 32 en speel Amy, die adjunkpresident se personeelhoof. veep1 Waarmee het sy haar besig gehou sedert sy moes toekyk hoe Macauley se karakter in My Girl sterf? Wel, eerstens sê sy in verskeie onderhoude dat sy 20 jaar laas met Macauley gepraat het.

Sy het universiteit toe gegaan, soos alle goeie kindersterre maak, en het feite nagegaan en was later die redaksionele assistent by ’n boekuitgewer. Maar sy het dit nie meer geniet nie en ’n waarsêer het gesê sy moet weer toneelspeel probeer.

“Ek was eendag sielsongelukkig en het ’n waarsêer op straat raakloop; ek is glad nie mal oor palms lees of sulke goed nie. Maar sy het op my skouer getik en sê: ‘Is jy daardie meisie van My Girl?’ En ek het “duh” geantwoord. Dit gebeur nog elke dag. Toe sê sy: ‘Jy wil nog in die vermaakbedryf wees. Jy is nog nie klaar nie.’

“Ek het gevries. Toe gee ek haar 40 dollar sodat sy 10 minute lank my palm kon lees. Ek het daardie einste week my voormalige agent gebel en sy het gesê: ‘Kom ons sit die bal aan die rol,’ ” het die aktrise aan GQ vertel.

Anna is uitstekend as die vuilbekkige Amy met haar pruilmond en dit lyk of sy goed uitgedraai het (hier is ’n rolmodel vir jou, Amanda Bynes). Sy reken om ’n blaaskans van die bedryf te neem was goed vir haar. “Ek is baie bly ek het dit vir ’n ruk gelos. Dit het my die nodige perspektief gegee om vir al die regte redes terug te keer,” het sy aan Esquire gesê.

En Vada, ek bedoel Anna, word binnekort ’n mamma! Die aktrise is getroud met Shaun So, wat in die weermag was en in Afganistan diens gedoen het. Hul eersteling word binne die volgende paar weke verwag.

With her co-stars in Veep - Veep is Dinsdae om 20:00 op M-Net Series te sien. My ander gunsteling voormalige kindersterre op TV

  • Madeline Zima Sy was in die 90’s die jongste dogter, Grace Sheffield, in die komedie The Nanny en is nou die vrypostige Mia in die reeks Californication. Sy was ook Charlotte, die meisie wat in die vierde seisoen van The Vampire Diaries vir Damon (Ian Somerhalder) ogies gemaak het.
  • Fred Savage Die ster van The Wonder Years, wat in die 80’s en 90’s op die kassie was, is nou ’n suksesvolle TV-regisseur en het ’n gasrol vertolk in die sitkom Two Broke Girls, waarvan hy ook ’n paar episodes se regie behartig het.
  • Anna Paquin Sy het as 11-jarige ’n Oscar gewen vir haar rol in die fliek The Piano (1993) en is nou groot en laat die klere waai in die reeks True Blood.
  • Claire Danes Ek was versot op haar as die tiener in My So-Called Life en ewe mal oor haar as die gekwelde agent in Homeland.

- Natalie Cavernelis