“Waar is jy nou my ou vris Dady. Hkm ons nou al verlaat. My dady wat altyd daar was vir my. My dady die trane rol oor ons almal se gesigte,” lees die briefie in pienk kinderskrif deur sy 14-jarige middelkind.

“Dady was nog altyd my super hero gewees. My dady. Ek verstaan dady jammer oor als en ek weet hier binne my hartjie is dady en sal altyd wees.”

Haar briefie is saam met dié van haar jonger 6-jarige sussie deur die gemeenskapskoerant Krugersdorp News bekom en op hul webtuiste gepubliseer. Die 6-jarige dogtertjie het net hartjies in swart pen in haar kaartjie geteken.


Marlin (37), onder sy vriende bekend as MP, se lyk is Maandagoggend 12 Desember in Kroningspark in Krugersdorp deur verbygangers aangetref nadat hy hom oënskynlik die vorige aand aan ’n boom teenaan Paardekraalweg gehang het.

Sy suster, Nicoline Farrel, het aan Huisgenoot vertel sy familie sukkel om sy dood te verwerk. “Dit is veral moeilik vir ons ouers,” het sy gesê. “Dit is vreeslik moeilik vir ons, veral so kort voor Kersfees. Al wat ons nou vra, is dat mense MP nou sal los en dat hy in vrede kan rus.”

Sy begrafnis vind Vrydag vanuit die Pinkster Protestante Kerk in Krugersdorp-Wes plaas.

“Hy was so moeg die laaste keer wat ek hom gesien het, en dit het gelyk of hy geldprobleme het, maar ek het nie vir ’n sekonde gedink dit gaan so sleg nie,” het sy eksvrou, Elsie Putter, aan die Krugersdorp News vertel.

Elsie het aan dié publikasie vertel haar eksman het sy werk onlangs bedank om sy eie onderneming as paneelklopper te begin.

“Hy was so stil en het selde gepraat oor dit wat hom pla.” Sy het bygevoeg hy was ’n goeie pa vir sy drie dogters sowel as vir sy drie stiefkinders.

In haar pienk briefie het sy 14-jarige dogter roerend bygevoeg: “Miss dady rrg super bja. Maar ek gaan dady trots maak. Ek gaan skool klaar maak en my droom waar maak. Dady ek wil net se hoe lief ek dady het. Love u lots.”

Bykomende bron: Krugersdorp News