DEUR MARITA VAN DER VYVER

KYK, jy kan sê wat jy wil oor die groot avontuur van rugsakreis terwyl jy jonk is, maar daar is dae wanneer die hele affêre rêrig die laaste sprankie van romantiek verloor.

Wanneer die gedagte aan nog ’n nag in ’n saal vol onbekende snorkers in ’n goedkoop jeugherberg nie die vaagste gevoel van opwinding oproep nie. Nog ’n dag van dwaal deur vreemde strate en keisteenstegies wat almal dieselfde begin lyk. Nog ’n ete van brood en kaas en ham op ’n klam bank in ’n grys park. Nog ’n hap eensaamheid wat saam met ’n koppie swart koffie op ’n kafeeterras afgesluk word.

Drie dae voor Kersfees bevind Sandra haar op ’n klein Kroatiese dorpie langs die Adriatiese See. Dis bibberkoud (minder koud as Londen, darem) en sy is honger en hartseer.

Dit was dalk nie so ’n blink idee om in Desember op haar eie deur Oos- Europa te toer nie. Daar is niks te sien op dié dorpie tussen Split en Dubrovnik nie. ’n Groepie gryskopvroue wat groente koop op ’n oggendmark, kwetterend soos spreeus, ’n kringetjie mans wat koffie drink by ’n tafel op ’n sypaadjie, waardig wagtend soos roofvoëls.

Waarop sou iemand wag in ’n gehuggie soos dié? Die volgende bus, beter dae, nuus van elders?

Oorkant die kafee is ’n kerk wat nog die letsels van die Balkan-oorlog in die vroeë jare negentig

dra. Minder as twee dekades gelede, dring dit weer tot Sandra deur. In hierdie streek, anders as in die res van Europa, is oorlog selfs vir jongmense soos sy nie ’n abstrakte begrip nie, maar ’n lewendige herinnering. Die kwetterende tannies op die mark het al twee oorloë oorleef. Die oudstes dalk drie.

Dis ’n gedagte wat haar keer op keer skok. Miskien dra dit by tot haar onvergenoegde bui, hierdie alomteenwoordigheid van oorlog. Of dalk is dit bloot die idee van Kersfees op haar eie wat haar mismoedig maak.