Vet sjef BAIE dankie vir al jul e-posse en goeie wense, dit beteken baie. Ek belowe dat ek elke e-pos sal beantwoord. En baie dankie aan Isobel Conradie van die mooiste Kaap vir hierdie week se inspirasie met haar vraag of sy die bier-potbrood van my vorige blog in haar prutpot kan bak. BROOD IN ’N PRUTPOT

Die antwoord is: Ek weet nie, maar ek wil graag weet! En dis hoekom ek nou probeer uitvind soos ek hier skryf. Die deeg staan al ? uur of wat sy ding en doen en dan gaan ons uitvind.

Brood 1

Ek moet erken dat ek so hier en daar oor die saak gaan nalees het en daar is resepte, maar ek wil dit eers met my eie twee oë sien voor ek dit as die waarheid verkondig.

Maar eers ’n bietjie meer oor prutpotte, ook bekend as Crock-Pots of slow cookers. Die prutpot word in 1970 in Chicago gebore as die Naxon Beanery All-purpose Cooker, maar die firma besluit in 1971 wyslik om die naam te verander na Crock-Pot. Dit verander vinnig in ? wêreldwye fenomeen en die rede hiervoor is eenvoudig – ’n basiese kookkennis en ? staanplek in jou kombuis is al wat jy nodig het om fantastiese kos te maak. Ek deel nou-nou een van my gunsteling-prutpotresepte.

1971_crockpot

 Voordele van ? prutpot

  • Die goedkoper vleissnitte (kyk gerus by http://www.huisgenoot.com/leefstyl/alles-wat-jy-moet-weet-oor-n-beesvoorkwart/) werk die heel beste. Omdat die kookproses so lank is, word die bindweefsel (kollageen) afgebreek en in ’n heerlike sagte taaigeit (gelatien) verander. Dis die goed wat die sous taai maak as dit op jou vingers kon.
  • Dit is amper onmoontlik om die kos aan te brand omdat die temperatuur laag gehou word.
  • Dit spaar hope tyd, want vanaand se ete is reg as jy by die huis kom. Al wat nodig is, is ? bietjie rys, pasta, pap of kapokaartappels. (Volgende keer as jy rys kook, kook sommer ? groot pot vol en vries die oortollige in etegrootte porsies.)
  • My persoonlike gunsteling: baie minder skottelgoed.
  • Jy berei goeie, gesonde tuisgekookte maaltye sonder om ure voor die stoof deur te bring.

Nadele van ? prutpot

  • Die lang kookproses kan sommige groente oorgaar maak en in sneespapier verander. Kies jou groente reg en sny dit in groter stukke – volg die reëls van potjiekos.
  • Ek verkies dit om altyd geblikte bone in my prutpot te gooi omdat daar bone is wat ? kookproses van minstens 10 minute nodig het om van gifstowwe ontslae te raak. (Dis amper soos sampioene, koop die goeie betroubare soort eerder as om die wilde soort self te gaan pluk.)

Genoeg nou van al die boring bits, ek gaan nou brood bak . . . probeer . . . in ’n prutpot.

Die deeg soos in my vorige resep berei het gerys, gerus en is op bakpapier gevorm. Die prutpot is voorverhit op sy hoogste stelling. Alle prutpotte is ongelukkig nie dieselfde as dit by hittestellings kom nie en dit jou pot kan dalk vinniger of stadiger as myne wees. Hier is my brood in die pot.

Brood 2

1½ uur later . . .

Ek het nou net die interne temperatuur gemeet. Dis nog nie die verlangde 95 °C nie en ek gaan dit nog ’n halfuur in die pot laat.

Nog ’n halfuur later . . .

Brood 3

Twee uur is altesaam verby en ons het ’n heerlike brood. Ek sou die kors ’n bietjie brosser wou hê, maar ek sal dit volgende keer net so doen. Ek vermoed die brood het ook minder krag gebruik as my oond. Die onderkant is mooi en goudbruin, maar die bokant lyk amper rubberig.

Nog ’n paar minute . . . Ek het die brood onder die oondrooster ingedruk en die probleem is dadelik reggestel. Brood 4 NOU VIR ’N MAROKKAANSE PRUTPOT . . .

Tyd vir vandeesweek se resep. Ek neem julle hierdie slag Marokko toe en kook hul bekendste gereg, tagine. ? Tagine is eintlik die kleipot wat soos ? Basoetohoed lyk, maar mense oor die wêreld heen noem nou al die bredie wat binne-in gekook word tagine; wie is ek dus om te stry?

Swart tagine

Ek is in elk geval versot op Marokkaanse kos, maak nie saak wat dit genoem word nie. ’n Prutpot is baie soos ’n tagine, net sonder die punthoed. Hier gaat ons:

Lamskenkel-tagine met gedroogde vrugte

Tagine

Maak seker jou pot is groot genoeg vir dié hoeveelhede, anders moet jy die bestanddele verminder.

 Jy het nodig

Bestanddele

  • 2 groot uie, grof gekap
  • 6 lamskenkels (altesaam 2-3 kg)
  • 6- 8 huisies knoffel, gekneus
  • 1 stuk gemmer van 5- 6 cm lank, geskil en fyn gekap
  • 1 kaneelstokkie van sowat 8 cm
  • 7 ml (1½ t) koljandersade
  • 7 ml (1½ t) komynsaad
  • 15 ml (1 e) fyn gemmer
  • 30 ml (2 e) paprika (ek verkies die gerookte Spaanse paprika)
  • 250 ml (1 k) pitlose rosyne of sultanas
  • 250 ml (1 k) gedroogde appelkose
  • 500 ml (2 k) gedroogde pruime (maak seker die pitte is verwyder)
  • 1-1½ L (4-6 k)  hoender- of groenteaftreksel (gewone water werk ook)
  • 250 ml (1 k) tamatiepuree
  • sout en peper na smaak (ek strooi gewoonlik my sout en peper op die skenkels net voor ek dit in die pot sit)

So maak mens

        Plaas die helfte van die uie onderin die pot.

2         Rangskik die skenkels bo-op die uie.

3         Strooi die res van die uie, die knoffel, gemmer en speserye bo-oor.

4         Strooi die droëvrugte oor.

5         Giet nou die aftreksel of water en tamatiepuree oor, maar moenie heeltemal bedek nie – prutpotte verloor nie baie vog nie. Alles in die pot, ongekook 6         Op laag kan jy dit 6-8 uur kook en op hoog 5-7 uur. Het jy nie ’n prutpot nie? Maak die bredie gewoonweg op die stoof gaar, maar berei dit soos ander stoofbredies – en onthou, dit moet baie stadig en teen ’n baie lae temperatuur prut. Seël die skenkels eers deur dit te braai, braai die uie en knoffel, voeg die gebraaide skenkels en die ander bestanddele by (jy kan meer vloeistof as met ’n prutpot gebruik) en roer die bredie gereeld. Voeg nog vloeistof by as dit lyk of hy wil aanbrand. En moenie vergeet dat die lekkerste bredies oornag rus sodat die geure behoorlik kan deurtrek nie. Dan warm jy dit net die volgende dag op en smul.  Wenke

  • Sit voor op koeskoes, rys of kapokaartappels.
  • Wees gewaarsku: Omdat die tagine so heerlik is, moet jy 2 skenkels per man (en, duf ek dit sê, per dame ook) bereken.
  • Die gereg werk ook baie goed met beesvleis.
Pleidooi

Moet asseblief nie ophou skryf nie. Ek geniet jul e-posse vreeslik. My e-posadres is vetsjef@gmail.com. Dankie weer aan almal wat resepte met my gedeel het, veral ’n sekere mayonnaise-sjokoladekoek (Tania de Jager) – wat ’n wenner!

Groetnis, tot volgende keer

Die Vet Sjef

 Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet (al is dit die Dros se resep vir skaapnek), vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.