Joe Makka, ons SA blogger wat in Suid-Korea skoolhou, gee die plaaslike bevolking en ’n Amerikaner ’n smakie van sy hartland.

[caption id="attachment_52856" align="alignnone" width="600"]Danspret by een van ons SA partytjies. Foto: Marco Clarkson www.facebook.com/eutychiaphotography Danspret by een van ons SA partytjies. Foto: Marco Clarkson www.facebook.com/eutychiaphotography[/caption]

OM TE reis kan prettig wees, maar om in ’n ander land te woon, veral een wat so vreeslik verskil van die kultuur waarin ek grootgeword het, bly ook net so lank ’n nuutjie. Ná 18 maande van opwinding in Seoel begin die nuwigheid sy glans verloor. Ná 18 maande het die kultuurskok al grotendeels oor jou gespoel en jou hopelik nie in die stroom meegesleur nie. Dis dan dat die verlange na enigiets Suid-Afrikaans pak ’n mens ná 18 maande kwaai beet. Of dit verlange is na jou ma se kos, Mrs Balls se chutney op jou worsrolletjie, Noot vir Noot, ’n lekker braaivleisie met pap en chakalaka of my gunsteling, Peppermint Crisp-tert, elke uitgewekene beleef die een of ander tyd hewige onttrekkingsimptome. Dis ook maklik om pas te verloor met jou Suid- Afrikaanse wortels en om ongeanker te voel in jou Suid Afrikaanse identiteit.

Dis nou tensy jy in Seoel, Suid-Korea, woon!

Daar woon ’n fantastiese groep Suid-Afrikaners hier. Daar is ongeveer 1,5 miljoen buitelanders in Korea. Sowat 20 000 van hierdie groep is, soos ek, Engels-onderwysers van die Verenigde State, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland en Suid Afrika wat hierheen gekom het. Die aantal Suid-Afrikaners in daai groep draai by omtrent 2 500. Dis ’n betreklik klein groepie, maar ons laat  nie slaplê nie. Die Saffers is van die aktiefste uitgeweke gemeenskappe in Korea. Ons kuier, ons braai en ons praat ons tale net waar ons gaan. Dis lekker om elke dag nog in Afrikaans met mense te kan omgaan al is ek nie by die huis nie.

Elke jaar in die somer, gewoonlik in Junie of Julie, trek sowat 500 Suid-Afrikaners saam vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Braai in Seoel. Dan vier ons ons herkoms, ons taal en ons kultuur saam met ons mede-uitgeweke vriende en natuurlik die boorlinge!

[caption id="attachment_52872" align="aligncenter" width="400"]Ek aan die braai by die partytjie. Foto: Melissa J. Jacobs Ek aan die braai by die partytjie. Foto: Melissa J. Jacobs[/caption]

Die braai word gehou kompleet met tjops, Suid-Afrikaanse drankies, biltong, droëwors, Suid-Afrikaanse musiek en selfs ’n melktert vir die suikertand en is die hoogtepunt van die Suid-Afrikaanse sosiale kalender in Korea. Die kameraderie en geselligheid is ’n wonderlike weerspieëling van die nuwe Suid Afrika. Daar word gedans, geeët en gekuier soos net Suid-Afrikaners dit kan doen.

[caption id="attachment_52859" align="alignnone" width="600"]Die kinders wen die waterpistool-geveg! Foto: Annie-Louise van Vreden Die kinders wen die waterpistool-geveg! Foto: Annie-Louise van Vreden[/caption]

Behalwe dat jy nader aan die huis voel, is een van die beste dinge van die geselligheid dat jy jou kultuur en jou manier van doen met jou nuwe Koreaanse en ander mede-uitgewekenes kan deel.

[caption id="attachment_52857" align="alignnone" width="400"]'n Vvuvuzela word by die partytjie uitgestal.  Foto: Annie-Louise van Vreden 'n Vvuvuzela word by die partytjie uitgestal. Foto: Annie-Louise van Vreden[/caption]

Ons doen mos maar almal dinge op verskillende maniere, maar van braai ken ons Saffers. Die Amerikaners, byvoorbeeld, het hul eie manier van braai. Volgens hulle is hulle barbeque (braai) en beef jerky (biltong) die beste, tot hulle regte Suid-Afrikaanse braaivleis proe en nie daai pak biltong wat jy vir hulle aangegee het, kan neersit nie.

[caption id="attachment_52853" align="aligncenter" width="600"]Indrukwekkende braaivleis! Foto: Annie-Louise van Vreden Watter BBQ kan nou hiermee kompeteer? Foto: Annie-Louise van Vreden[/caption]

Ek het met die laaste braai vroeër vanjaar geduldig geluister hoe ’n vriend, ’n Amerikaner, vir my verduidelik het hoe ’n mens vleis braai.

[caption id="attachment_52852" align="alignnone" width="472"]Ek en my Amerikaanse vriend Steph. Ek en my Amerikaanse vriend Steph.[/caption]

Omdat Koreane nie ’n vleis-op-die-rooster-kultuur het nie, doen hulle dinge op die Amerikaanse manier. Amerikaners eet als van die rooster af soos dit gaar raak. Hulle marineer ook nie hul vleis nie. Die speserye gaan sommer op terwyl die vleis braai.

Nes met die biltong kon my Amerikaanse vriend nie sy hande van die vleis en wors af hou nie. Ek dink sy “Joe, this tastes great!” beteken dat hy dit regtig geniet het. Om daar te kon staan en wie jy is op so ’n ongelooflike praktiese manier met ander te deel, het my onmiddellik weer geanker laat voel in my Suid-Afrikaanse identiteit. Die feit dat jy omring is deur die klanke en tale van Suid Afrika laat jou vir ’n ruk vergeet dat jy nie op eie bodem is  nie, al is dit net vir een dag.

- Joe Makka

Joe mug shot Joe Makka kom van Hopefield in die Wes-Kaap en gee tans Engels in Seoel, Suid-Korea. Lees sy vorige blogs:

Meneer Geduld

Groete uit Seoel