EK IS moeg. Ek is doodmoeg. Maar ons revue-week was amazing! Die onderwysers en leerders het dit ewe veel geniet en saam het ons baie pret gehad.

En toe die laaste note van die revue wegsterf, het ek ’n traantjie weggepik en hartseer gevoel, want dit was wow! En toe, skielik, was alles verby . . .

Dit laat my dink aan hoeveel waarde buitemuurse aktiwiteite by ’n skool het. Daardie stil, teruggetrokke leerder wat so sukkel om wiskunde deur te kom en lyk asof sy geen selfvertroue het nie, blóm op die verhoog waar sy almal verstom met haar danspassies. ’n Ander een sing weer soos ’n nagtegaal en staan met selfvertroue haar plek voor die gehoor vol.

Ek gee slegs vir een graadgroep klas. Maar tydens die revue het ek soveel leerders in ander grade leer ken. En sommiges van hulle kom loer spontaan by my kantoor in en knoop ’n geselsie aan, vra of hulle met iets kan help of kom gee my sommer net ’n staaf sjokolade en ’n drukkie.

Wanneer ’n onderwyser met sport, kultuur of sosiale aktiwiteite by die skool met leerders te doen het, word die ware menswees van die leerders dikwels eers regtig ontdek en wedersydse vertroue gebou. Terselfdertyd leer die leerders die onderwyser as mens ken en besef dat die kwaai juffrou wat raas oor die huiswerk ook ’n ander kant het.

Dit laat my dink aan die volgende teer sakie: By elke skool (en seker ook in alle ander beroepe) is daar twee soorte personeel:

Groep 1: Dié wat betrokke is en altyd bereid is om te help en hul tyd op te offer

en dan is daar

Groep 2: Dié wat nie kan wag dat die klok lui sodat hulle in hul motor kan spring en die skoolterrein kan verlaat nie

Die jammerte van groep 2-onderwysers is dat hulle nie eens besef dat hulle soveel misloop nie, én dan het hulle nog die vermetelheid om die personeel te kritiseer wat hard werk en alles insit.

Maar nou ja, die beste speler staan mos altyd langs die kantlyn . . .

Personeel wat nie bereid is om enigiets ekstra te doen nie, het soveel tyd tot hul beskikking dat hulle dit maar gebruik om in die personeelkamer te sit en skinder en fout te vind met alles wat by ’n skool gedoen word.

Ek hoop elkeen wat hier lees kan hom- of haarself eerlik antwoord oor of hulle ’n groep 1- of groep 2-werknemer is.

Maar dis genoeg gesê oor negatiewe dinge. Ek het baie dankbaarheid in my hart vir die pragtige leerders en geesdriftige personeel van my skool en die ongelooflike revue-tyd wat verby is.

Baie dankie aan elkeen van julle! Ek is só trots op julle!

En ek spog graag met ’n paar foto’s:

[caption id="attachment_49592" align="aligncenter" width="500"]Die onderwysers het die leerders verstom met hul liedjie I Will Follow Him. Die onderwysers het die leerders verstom met hul liedjie I Will Follow Him.[/caption]

[caption id="attachment_49590" align="aligncenter" width="500"]BO en ONDER: Tyd vir ruk en rol! En glo dit of nie, die een met die groen hempie is ’n juffrou. BO en ONDER: Tyd vir ruk en rol! En glo dit of nie, die een met die groen hempie is ’n juffrou.[/caption]

Clipboard03

[caption id="attachment_49588" align="aligncenter" width="500"]Die hoofrolle: Vier onderwysers en vyf leerders. Die hoofrolle: Vier onderwysers en vyf leerders.[/caption]

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

8 redes waarom onderwys die moeite werd is

En nou sing en dans ons!

Onnies: Ses wenke vir die derde kwartaal

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens