Die Vet Sjef  van Nieu-Seeland berei ribbetjies vir die braai – en vertel jou wat ’n sjef sal maak as jy oor die kos in sy restaurant kla . . .

EK WEET ek is nou soos ? predikant wat Sondae vir die bekeerdes preek, maar julle kan my boodskap weer verder versprei. Ek is seker julle het almal al die ou by die ander tafel gesien, daai een wat sy tafelgenote hul kop in skaamte laat sak. Die een wat met alles op sy bord fout vind. Ja, daai een – die ou wat so mooi vra dat die sjef hom met ’n ligte pan ses van die bestes teen die agterkop gee.

Natuurlik is daar soms regtig ’n probleem en dan moet ’n mens kla. Maar ek praat nou van daai grootbekklaer wat al wat TV-kookkompetisie is, kyk en dan die glanssjef (die een wat so (F)loek) wil na-aap. Onthou net, daai ouens doen dit vir die TV omdat dit reaksie by jou uitlok. Dink so daaraan: Jy as kyker het nie ? kloe hoe daai bord kos ruik of smaak nie, jy kan dit net sien. So, om jou te laat dink jy weet, span hulle sielkunde in deur die gooi van tantrums, (f)loek en ander swak gewoontes.

As jy ? boek lees, teken die skrywer met woorde vir jou ? prentjie wat jy in jou kop kan sien. Op TV het jy klaar die klank en die beeld – jy moet net nog die reuk en smaak inkleur, dan het jy ? driedimensionele prentjie. Dis daai glanssjef se werk om dit vir die kyker te doen – maar weet jy werklik of hy die geskroeide haar van ? skeurbuik- seerower in die sop kan proe, of het hy dit net gesê om jou te laat dink: “Sies poef jig, dit is hondsleg en ek sal dit nie laat wen nie”?

As jou mediumgaar T-been dus volgende keer te rou is, pas op voor jy kla en onthou daai ligte pan waarmee die sjef werk. Die sjef het moontlik al duisende gebraai en weet hoe moet daai bees-tjoppie wees as hy mediumgaar is. Hy gaan ook iewers ? kookboek of twee hê met prentjies in wat wys hoe so ? vleisie moet lyk. Glo my, jy gaan soos daai seerower voel, die een wie se haar vir die sop geskroei is, as hy die kookboek vir jou tafel toe stuur om ? punt te bewys. Sjefs kan nogal naar wees wat sulke goed betref.

Maar as jy dalk reg is – goeters gebeur – behoort daai vleisie gratis oorgedoen te word en die sjef behoort na jou tafel te kom en om verskoning te vra. Wees dan maar asseblief die groter mens. As daai sjef daar langs jou kom staan en sê: “Ghm pfrofl jwi wenf”, aanvaar dit as ? verskoning en voor jy iets sê, enigiets, onthou die ligte pan . . .

As jy werklik ’n klagte het, kla – jy betaal vir die kos. Maar as jy wil slim wees voor jou vriende en dit kom uit dat jy eintlik besig is om die hele tafel se naam met ? plank te slaan, vat jou pak soos ? man en sit ys op jou agterkop.

Nou vir hierdie week se resep, wat gelukkig nog net lof in ons eetplek uitgelok het . . .

Kolaribbes – my manier

RIBBETJIE

  • 2 kg ribbetjie met redelik baie vleis aan
  • 2,5 L kola (die rooi bottel of die rooi, wit en blou een, maak nie saak nie – net nie dieetkola nie, dit werk nie regtig nie)
  • 4-8 huisies knoffel of meer, gekneus
  • 1 groot ui, grof gekap
  • 2 lourierblare
  • 20 naeltjies
  • 1 t (5 ml) swart peperkorrels
  • 2 e (30 ml) gerookte paprika
  • 1 e (15 ml) fyn koljander
  • 1 ½ t (7 ml) soutimage2

VERFSOUS

  • 1 middelslag-ui, fyn gekap
  • 2 huisies knoffel, fyn gekap
  • 1 k (250 ml) tamatiesous van ’n goeie gehalte
  • 2 e (30 ml) Engelse of ander mosterd
  • ¾ koppie(180 ml) sagte bruinsuiker
  • 1 t (5 ml) worcestersous
  • sout en peper na smaak

So maak mens:

RIBBETJIES

1 Sny die ribbes in stroke of in enkelporsies (ek verkies dit so) en plaas in ? groot kastrol.

2 Plaas die res van die bestanddele vir die ribbetjies ook in die kastrol en bring tot kookpunt. Stel die hitte laer en laat prut sowat 90 minute tot die ribbetjies sag is, maar nie van die bene afval nie.

3 Verwyder die ribbes en giet die vloeistof deur ? sif. Plaas die vloeistof terug op die stoof en kook dit af tot 450-500 ml.

VERFSOUS

image3

1 Plaas al die bestanddele vir die sous in die pot saam met die afgekookte sous. Laat prut tot die sous stroperig word maar nie te dik nie. In sjefiaans moet dit die agterkant van ? lepel kan bedek.

2 Maak fyn in ? voedselverwerker of met ? stokmenger binne-in die pot. Die tekstuur moet ’n klein bietjie meer loperig wees as daai bekende tamatiesous wat jy vir jou sous gebruik het.

AFRONDING

1 Verf al die ribbes met die sous (moenie suinig wees nie)

image4

2 Braai op die kole tot die ribbetjie donker en taai is. Pas net op, weens die suiker kan dit taamlik maklik aanbrand.

OF

Bak dit 45-60 minute teen 180 °C. Taai en donker is die geheim.

image5

Moenie by die vuur proe nie, want jy gaan waaragtig alles opeet voor dit by die mense kom! Wenke

  • Jy kan die ribbes met hoendervlerkies vervang. Maar sny dan eers die puntjies van die vlerkies af en kook dit dan net 45 minute.
  • Pleks van die afgekookte sous kan jy skoon kola gebruik wanneer jy die verfsous maak.

Volgende keer vertel ek hoe om varklieswiele te maak soos ons hulle hier by die Cashmere Club berei. Baie maklik en verskriklik lekker.

Groete tot dan!

Die Vet Sjef

 Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet (al is dit die Dros se resep vir skaapnek), vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.