Deur Mari-Louis Guy

[caption id="attachment_97750" align="alignnone" width="600"]Die beoordelaars, Elizabeth, Tiaan en Mari-Louis, saam met die tien finaliste. Die beoordelaars, Elizabeth, Tiaan en Mari-Louis, saam met die tien finaliste. [/caption]

Die Koekedoor-vraag wat ek tot dusver die meeste moes beantwoord, is hoe ons op die uiteindelike 10 finaliste besluit het. Ek vermoed half dat almal wat die vraag vra, ’n binnebaan soek in geval ’n seisoen 2 aangekondig word...

Nou toe, hier is die storie van 1 000 koeke en ’n pad wat lank was, hoewel goed versuiker!

Eers moes die voornemende deelnemers ’n vraelys beantwoord en ’n takie bymekaarsit. Daaruit het ons probeer agterkom of daar baktalent is, of die persoon aan ons kriteria voldoen en by ons produksiedatums sou kon hou.

Daarna is ’n paar honderd genooi om ons met hul beste geleentheidsgebak te kom vermaak. Die groepie wat die berg lekkernye moes proe, het bestaan uit die drie beoordelaars (ek, Tiaan Langenegger – die sjef met ’n voorliefde vir brode en wenner van Kokkedoor 1 – en Elizabeth Cloete – bekende beoordelaar van die VLU) en Errieda du Toit, ons eie nimlike Huiskok en inhoudsprodusent van Koekedoor. Dan was daar ook natuurlik die vervaardigers en inhoudsvervaardigers wat die deelnemers as mense van nader wou leer ken om te kyk of hulle die druk van ’n werklikheidsprogram sou kon hanteer.

'Elke koek is gesny en deur elke paneellid geproe en bespreek.'

Elke koek is gesny en deur elke paneellid geproe en bespreek.

Dan was daar ’n gelek van vingers en gekrap van koppe voor die volgende koek ’n snybeurt gekry het.

Dié wat na die volgende ronde deurgedring het, moes agter die stoof inklim en binne 20 minute 10 perfekte skons lewer.

Hulle kon enige kinkel byvoeg; die enigste maatstaf was dat hulle binne die gegewe tyd perfekte, ligte skons moes prakseer. Ons het hulle deurentyd met bakvrae gepeper om vas te stel hoe wyd hul bakkennis strek.

Het hulle dié ronde oorleef, was daar nog die stresvolle televisietoets. Kyk, daar het die onderlippies begin bewe, so met ’n kamera in die gesig terwyl die inhoudspesialiste indiepte-vrae vra.

Teen dié tyd was almal baie goeie bakkers en kon ons begin sorg dat ons ’n goeie mengsel persoonlikhede bymekaarsit.

Dat Suid-Afrika van goeie bakkers wemel, dít weet ons ná daardie koekproetoer, maar uiteindelik kon daar net 10 wees. Ek glo ons het goed gekies.

[caption id="attachment_97751" align="alignnone" width="620"]Mari-Louis in die Koekedoor-kombuis Mari-Louis in die Koekedoor-kombuis[/caption]

Mari-Louis het met ’n paar deelnemers oor die skon-uitdaging gesels.

Klik hier vir Mari-Louis se resepte vir Tennisliga-skons en Volkoring-soutskons.

Murray

Ek het dadelik geïntimideer gevoel omdat ons net 20 minute gekry het. Ek weet skons moet gewoonlik 15 minute lank bak en daarom het ek besluit om myne heelwat dunner te maak as wat ek normaalweg sou om seker te maak dit bak deur.

Ek het nie heeltemal by die resep gehou nie – ek het 125 ml gerasperde cheddarkaas, 45 ml room en sowat 2 ml swartpeper by my beslag ingemeng. As ek dit weer moes doen, sou ek dit presies dieselfde benader het.

My bakraad Maak altyd seker dat jy jou tyd so beplan dat jou gebak heeltemal gaar word. Dis vir enige resep die belangrikste oorweging.

Gerda

“Ek was taamlik senuweeagtig opgewonde daaroor. Dit was die eerste keer dat ek aan ’n bak-uitdun deelgeneem het, en dit in ’n vreemde kombuis. Ek het besef ek moet net kop hou en kalm bly. Ek het die basiese resep aangepas met 'n eier en my kinkels was ’n bietjie suiker en bosbessies. Dit het vir my gewerk! Die tyd was genoeg.

My bakraad Lees jou resep en maak seker van die maat: Is dit gramme of milliliters? Dit kan ’n resep maak of breek!

Louise

Die spanning het my geheuverlies laat ly en ek het skoon van die insnymetode vergeet. Ek was tot by my elmboë vol skondeeg teen die tyd dat hulle oond toe is. Gelukkig was hulle heerlik.

Martjie

Die skon-uitdaging was opwindend. ’n Skon is so klassiek en ek wou nie graag ’n kinkel byvoeg nie. Die tyd was net-net genoeg en ek moes dus vinnig werk om die perfekte skon te kry.

My bakraad: Skons se beslag moenie te veel hanteer of oorgemeng word nie. As jy vinnig meng tot die bestanddele net bymekaarkom, sorg jy dat jou skons lekker bros is.

Mareli

Vir my was die skon-uitdaging maklik. Ek het die voedselverwerker gebruik om die botter mee in te vryf. Ek dink die tyd was net te min en ek sou daarvan gehou het om die skons drie minute langer te kon bak.

Gerrit

Ek het lemoen as kinkel gekies. Die tydsbeperking was ongelooflik spannend en ek sou graag 10 minute meer wou gehad sodat die druk net minder kon wees. As ek dit oor moes doen, sou ek die deeg nie heeltemal so vinnig en intens gemeng het nie, want dit beïnvloed die rysproses. Skons moet net liggies gemeng word, maar onder druk het ek dit te intens gemeng.

[post-slider]

Mari-Louis Guy is 'n beoordelaar van kykNET se Koekedoor-werklikheidsreeks, professionele kosstilleerder en resepontwikkelaar. Sy gaan gereeld vir Huisgenoot.com blog oor Koekedoor en so 'n kykie agter die skerms gee.

Koekedoor word Donderdae 20:30 op kykNET uitgesaai.