Maar wat gebeur nou eintlik met die knippies? Waarheen gaan dit en hoe kry ’n mens ’n rolstoel daarvoor?

Dit is die dinge waaraan Mary Honeybun van Vishoek gedink het toe sy gevra is om broodknippies vir haar kleinkinders se skool te versamel. Sy het ondersoek ingestel en gevind dat daar in die meeste gevalle niks van hierdie projekte gekom het nie. Maar dit het nogtans haar belangstelling geprikkel en het besef dat sy tyd sou hê om dit self te doen na haar aftrede.

“Dit is ’n baie tydrowende werk, maar ek hoef bloot te dink aan die mense wat so dringend wiele nodig het – een seuntjie het gesê dis soos om ’n nuwe fiets te hê. Nog ’n aspek is dat ons die knippies uit die omgewing hou en jong kinders leer om te herwin.”

Mary kry haar knippies by skole en kerke in die gemeenskap en het ook dames in Worcester en Jeffreysbaai en ’n gesin in Oos-Londen wat vir haar knippies versamel. Met die hulp van drie goeie vriende word die knippies gewas en, as daar nog papier aan vasklou, in vloerstroopmiddel geweek om dit af te kry. Dit word dan op handdoeke gepak om droog te word en aan die einde van die maand, wanneer sy ’n halfton het, kom ’n herwinner die knippies koop, wat hy dan weer in saailing- en ontkiemingsbakke verander.

Die geld is genoeg vir twee rolstoele vir voorafgekose individue in die Wes-Kaap en Suid-Afrika. Buiten die rolstoele, word looprame ook gekoop vir kinders met serebrale gestremdheid.

“Ek werk deur arbeidsterapeute en ander beroepslui wat die pasiënte se behoeftes kan identifiseer. Dit is baie belangrik dat die pasiënt die regte rolstoel kry, omdat hulle verskillende behoeftes het.”

En wat wil hierdie 78-jare ouma met ’n hart van goud terughê? ’n Foto van die persone asook die toestel wat hulle ontvang het.

“Dit is die mense wat ons help. Die terugvoer en die gelukkige gesigte, dis wat my motiveer.”

Sedert 2008 het Mary al 392 van hierdie foto’s ontvang en sy is naby haar teiken van 400 toestelle teen die einde van die jaar.

Indien jy besluit om Bread Tags for Wheelchairs te help om hulle teiken te bereik deur broodknippies in jou area te versamel, sal jy beslis ’n skriftelike dankiebrief van Mary kry, wat sy aan al die bydraers stuur. Om meer knippies te versamel, wil hulle ook ’n webtuiste opstel. Hoewel hulle ’n domeinborg het, het hulle iemand nodig om die webtuiste vir hulle te bou.

Dit is Mary se verhaal van hulp. As jy graag wil help:

Mary Honeybun
(t) 021 789 1831
epos: zkvlei@mweb.co.za

Lees meer hier

#YouCanHelp