Om die waarheid te sê roep winkeltrollies, hoender en bevrore ertjies nie werklik beelde op van outydse vuisgevegte soos in die geval van countrymusiek, rietspiritus en Coca-Cola nie.

Tog was ek daar en het ek gesien hoe die kassiere my kraakbeskuitjies en varktjops oplui, terwyl ek in stilte nadink oor Donald Trump se jongste skandaal, toe ’n jong paartjie en ’n ouer man reg langs my byna handgemeen raak.

Ek was aan die peins oor die rede waarom mense voorgee hulle is geskok oor Trump se skynbaar kenmerkende opmerkings toe my gedagtegang ongepoets onderbreek is deur ’n jong vrou wat skielik begin om hoenderborsies in die winkeltrollie van ’n skynbaar fikse kaalkopman begin terugdruk.

“Dis nogal vreemd en – Jislaaik! – sy lyk opgewonde,” dink ek nog.

Die oorsaak van die spanning sou binnekort aan die lig kom.

Die betrokke jong vrou het die inkopie-doodsonde gepleeg deur in die tou agter my in te val sonder dat haar inkopies by haar was, en dit het die man, wat gereed was met sy winkeltrollie vol goed, grensloos kwaad gemaak.

“Jy kan nie in die tou staan sonder ’n winkeltrollie nie,” het die man, wat gelyk het asof hy in sy laat sestigs is, gesis terwyl hy voortgaan om sy trollie leeg te pak, terwyl die blondine (van iets in die twintig) haar arm ferm op die toonbank plak en sy kruideniersware terugstoot na die punt van die toonbank toe.

En dis hier waar haar kêrel met genoemde verlore trollie aankom en die man met ’n onbeskofte opmerking as “kwaad en oud” afmaak, maar hy kom tot verhaal toe hy voorstel hulle “los dit” (die kinders leer deesdae al hul maniere by Frozen) en hulle loop weg.

“’n Stem van rede,” fluister ek, ekstaties in die wete dat ek die ondraaglike wit middelklasdrama vrygespring het wat so amper hier afgespeel het, toe die kêrel skielik terugkeer.

“Is jy hartseer? Is daar enigiets verkeerd, iets wat jy met my wil bespreek?” grynslag hy teenoor die besliste koper, terwyl hy sy goed uit die pad stoot en dit met hul inkopies vervang. Hulle begin toe liggies aan mekaar stamp.

“Hmm,” besef ek toe, terwyl ek ongeveer ’n meter na regs beweeg, reguit voor my uitstaar en enige oogkontak met die bakleiers vermy terwyl hulle hul stem verhef en van die ander klante begin staar.

Ek het nog net tevore op televisie gesien hoe mense mekaar slaan en ek was nie van plan om voor ontbyt in die kruisvuur van ’n geveg oor kos te wees nie. (Ja, ek weet: daardie sin is ’n goudmyn in ’n essay oor wit bevoorregting, maar ‘los dit’.)

“Help! Kan iemand asseblief die veiligheidsmense roep om hierdie man te verwyder!” roep die jong, blonde vrou en daarmee onttrek die koper hom en laat vaar sy najaging van geregtigheid in die winkelgangetjies.

Terwyl hy wegstap – die hartseer gesig van sy voorraad vir die week op die toonbank agtergelaat – draai die vrou na haar kêrel en roep uit hoe hoflik sy eintlik was.

“Werklik?” wou ek ’n kwinkslag waag, maar my maag het begin grom en daar was reeds ’n honger, omgekrapte man op vrye voet in Kaapstad se strate. Ek kon nie die risiko loop om my kruideniersware op te offer ten bate van die massas nie.

Ook, was die honger koper reg? Het hy skotvry afgekom van hierdie nare inkopietoneel? Wat sou gebeur indien hy bloot anderpad gekyk het, die jong vrou toegelaat het om in die tou te staan sonder ’n trollie, te betaal vir die kruideniersware en huis toe te gaan? En sy? Sou sy onherstelbare skade gely het indien sy teruggetree het, ingeval het by die tou en tien minute langer aan haar inkopietog bestee het?

Laat my toe om ’n blaadjie uit ons beleërde Houdini van SAUK-faam se boek te neem en myself af te vra (in die derde persoon, natuurlik): Wat sou Almari doen? Sou Almari haarself die vraag afvra wat die weergalose mnr. Chow herhaaldelik uiter in die Hangover-franchise: “Maar, is jy dood?”

Nee. So, los dit en maak vrede daarmee. Dit is bloot nie die moeite werd om jou Sondag te bederf deur in ’n opstootjie betrokke te raak oor wie die eerste in die tou gestaan het in ’n kruidenierswinkel, en ’n gekneusde ego, nie.

Terwyl ek so staar na die man se goed wat oor die toonbank gestrooi is, het ek geswets op die selfsugtige wêreld waarin ons leef. Hoekom leef ons in ’n tyd waar selfs die geringste ongerief rakende jou persoonlike gerief mense oor die rand kan stoot?

Is dit nie hoog tyd dat ons, in die moderne wêreld van selfbelang, “ek voor jy”, Donald Trumps, Hlaudi Motsoenengs en onophoudelike selfies, ons geswolle ego’s ’n bietjie temper nie?

En vriendelikheid gaan jou beslis nie doodmaak nie.

Almari out. (Mic drop.)