Facebook is ’n wonderlike tydverdryf en ’n fantastiese manier om kontak te behou met vriende en familie, veral vir iemand soos ek wat ver van my familie af woon. My gunsteling-eienskap van Facebook is dat dit die beste plek is om foto’s te bêre wat nooit andersins behoue sou gebly het nie. Sonder Facebook sou ek bloot die foto’s uitdruk en teen dié tyd sou dit al lankal weggeraak het omdat ek die afgelope dekade so baie verhuis het.

_CMS3596

Sosiale netwerke is eintlik nog ’n baie nuwe verskynsel en ons pas as’t ware nog aan by hoe dit ons lewe kan raak. Wat is dus positiewe en negatiewe aspekte van Facebook?

Vir enkellopendes is dit ’n goeie manier om iemand te vind van wie jy hou, sy of haar foto’s en inligting deur te gaan en so agter te kom hoe die mens is. As jy hou van wat jy sien, kan jy die volgende treetjie gee. Buitendien, Facebook is tog geskep sodat mense kan netwerk en ’n kykie in mekaar se lewe kan kry deur die inligting wat elkeen op sy of haar profiel bekendmaak. Nadat jy al jou “navorsing” gedoen het, kan jy dus besluit of jy die mens wil kontak of nie. Maar . . .

Lank gelede het ek op ’n afspraak gegaan met ’n ou wat ek deur Facebook ontmoet het. Hy het vir my ’n Facebook-vriendskapsversoek gestuur en nadat ek ’n bietjie na sy inligting en foto’s gekyk het, het ek ingestem om saam met hom ’n drankie te gaan drink. Ons het ses vriende gemeen gehad en ek het gedink dis dus heeltemal veilig.

Omdat ek na sy profiel geloer het, het ek ’n goeie idee gehad van waarvan hy hou. Of so het ek gedink. Die afspraak was ’n algehele ramp; sy Facebook-profiel was glad nie ’n goeie weerspieëling van sy persoonlikheid nie en ons het absoluut geen belangstellings gedeel nie. Die aand het met ’n “tot siens, laat dit verder goed met jou gaan” geëindig. Dis seker maar hoe die afspraakspeletjie werk wanneer Facebook in die prentjie is.

Aan die ander kant: Facebook kan ’n groot probleem word as jy reeds in ’n verhouding is. Dink maar aan ’n gestry weens Facebook . . .

* Voorbeeld 1 – Hoe lank lê jy nou al op Facebook rond? Dis belaglik. Waarmee is jy heeltyd besig?

* Voorbeeld 2 – Wie lê so styf teen jou in hierdie foto wat Vrydagaand geneem is?

* Voorbeeld 3 – Wie is daardie sletterige meisie/spiertier met wie jy vriende is op Facebook? Hoe ken jy haar/hom?

* Voorbeeld 4 – Ons is in ’n restaurant, los asseblief jou foon uit. Is jy al weer op Facebook? Ek kon net sowel alleen kom uiteet het!

Klink dit bekend?

Hierdie vrae het al dikwels veroorsaak dat paartjies mekaar in die hare vlieg. Sedert sosialenetwerk-webtuistes geskep is, het ek daardie vrae al keer op keer gehoor en het vriende vertel hoe dit tot ’n gestryery aanleiding gee.

Sosiale netwerke kan ’n teelaarde wees vir vertrouensprobleme en versoekings; dit kan selfs jou verhouding laat vou.

Soveel ouens wat ek ken plaas ’n eindelose stroom kaalbolyf-foto’s van hulleself op Facebook met die spiere so uitgedruk dat jy kan sien die ou is kwaai ongemaklik. Al probeer die ouens meisies met sulke foto’s beïndruk, vind ek dit glad nie aantreklik nie.

Dan is daar die meisies: foto ná foto van hulle in piepklein bikini’s en met teepot-houdinkies en foto’s van bo om hulle beter bedeeld te laat lyk. Die meisies dink hoe slettiger hulle lyk, hoe meer aandag sal hulle kry.

Die manne is natuurlik net te bly en kyk ure lank na foto’s van hierdie meisies. Dan stuur hulle dit vir hul vriende, asof dit goue muntstukke is wat in ’n ou skatkis ontdek is.

Ja, natuurlik is dit tot op ’n punt skadeloos (ek beklemtoon – tot op ’n punt), maar eintlik lei dit tot baie meer versoekings en bring dit in baie mense bekruipermaniertjies uit!

Ek wil graag weet: Kan ons steeds ’n balans handhaaf? Dat ons ’n bietjie kan kyk, maar die versoeking kan weerstaan . . . en steeds eintlik niks verkeerds gedoen het nie?

Daar is natuurlik altyd die risiko dat een party ’n dwalende oog of agterdogtige streep het. Dit kan sekerlik veroorsaak dat hulle op een mens begin konsentreer en daardie mens selfs kontak . . . met slegte voornemens. En dis juis waar die probleem lê.

Een van my pelle was 10 jaar lank in ’n verhouding . . . tot Facebook op die toneel verskyn het. Sy vrou het ’n profiel gekry en omdat sy baie mooi is, wou baie mans haar op Facebook bevriend. Die versoeking was net te groot. Sy het my pel gelos vir ’n volslae vreemdeling. Dit was verskriklik; mense het seergekry en ’n huwelik het gevou – en dit alles oor Facebook. Ek kan maar net my kop skud!

Maar was verhoudings “veiliger” in die tyd voor sosiale netwerke? Het ons voorheen hegter bande gesmee en was daar altyd so baie versoekings?

Terwyl die wêreld ontwikkel en ons elke nuwe uitvindsel opraap (veral wat die internet betref), begin ons nou maar eers die gevolge besef van so baie inligting in die openbare domein deel. Ons leer ook nou eers die soet saam met die suur hanteer.

Op Facebook en Twitter adverteer ons elke klein besonderheid van ons lewe; ons stel dit oop sodat die wêreld daarop kommentaar kan lewer . . . of ons kan verkleineer. Tog kry ons steeds nie genoeg nie. Die aantrekkingskrag daarvan om alles van iemand anders te weet sonder dat ons enige vrae hoef te vra, is duidelik ’n behoefte wat ons ontwikkel het. Al is ons mal daaroor, moet ons pasop dat ons internetbande nie ons bande in die “regte” lewe knou nie.

Studies het getoon mense bring gemiddeld 15,5 minute per dag op Facebook deur. Enigiets meer word as uitermatig beskou.

Almal is deesdae aktief op sosiale netwerke – hoekom sou jy al die aksie wou misloop? Natuurlik wil jy nie. Die geheim is om minder tyd op die net deur te bring sodat dit nie jou gesonde, gelukkige verhoudings in die wiele ry nie. Te veel internetsessies is boonop nie goed vir jou brein of jou verhouding nie.

As jy saans meer tyd afstaan aan jou tuisblad, profiel, inboks, Twitter of Instagram as aan geselsies met jou geliefde, boet jy kosbare tyd in waarin jy ’n dieper band met jou lewensmaat kon smee. Dit kan later tot groter probleme lei.

Facebook is ’n wonderlike ding, maar gebruik dit versigtig en met respek. Dis hoogs verslawend en kan maklik ’n pad oopdring tot in jou verhouding. Wees dus op jou hoede en moenie Facebook laat oorneem nie!

- Morgan Deane Smith

* Morgan Deane Smith is getroud met die krieketster Graeme Smith