Dit klink na iets uit ’n goeie oorlogsrolprent: ’n Beeldskone meisie en ’n aantreklike soldaat wat tydens die Tweede Wêreldoorlog ontmoet en met die eerste oogopslag verlief raak.

Maar vir die Kapenaars Jan Fourie (92) en Lulu Kroukamp (88) was dit werklik die begin van hul 70 jaar lange sprokie, ’n huweliksherdenking wat hulle op 9 Maart gevier het.

Tannie Lulu vertel hoekom hul huwelik so suksesvol is. “Dit was net die Here se genade. Ons lees elke oggend en aand ons Bybel en bid saam. Lees net jou Bybel en praat met die Here, dan kan jy ook ’n lang, gelukkige huwelik hê.”

Dié oupa- en oumagrootjie, wat die byname Lekker ou Jan en Liewe Lulu het, bly deesdae in Kuilsrivier en het tot onlangs nog konfyt gekook, by stalletjies uitgestal en hul groenvingers met tuinwerk besig gehou.

Hulle het ses kinders, 11 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.

– Christiaan Boonzaier