Dis vreemd hoe ’n mens se liggaam gewoond raak aan min tot geen slaap. Die hoop en illusie beskaam nie dat jy wel eendag ’n goeie nagrus gaan hê. Dis nie dat jy glad nie slaap nie; inteendeel, as jy die ure bymekaartel, klink dit heel billik en heeltemal normaal. Maar dis die onderbroke slaap wat ’n mens vang.

Die eerste week jaag elke piep en kwê jou op, saam met die opwinding en onsekerheid en die feit dat die klein bliksempie nie die bors wil vat nie. Terwyl sy moeder dus sit en uitpomp (elke twee uur), verander jy in die melkman – gewapen met ’n spuitnaald en voedingsbekertjie, want die kind moet drink.

Die eerste paar sessies as melkman het maar beroerd gegaan, en ná ’n uur se geworstel was daar darem 25 ml in die klein lyfie. Dan die winde (droog en nat), doeke ruil, skoon aantrek en dan hopelik ’n halfuur se slaap voor die proses van voor af begin. Boonop is hondekind Ragel se roetine ook omvergewerp en wil sy skielik gereelder uitgaan om ’n draai te loop.

Ek moet wel meld ons geval is ’n bietjie anders is as die meeste mense s’n.

Bababeer het op die ouderdom van 28 weke en vyf dae besluit om sy opwagting te maak; dus het ons gesit met ’n vroeggebore seuntjie wat ons nie graag weer hospitaal toe wou stuur nie, want 66 dae daar was genoeg. So dit was van uiterse belang dat hy drink en gewig aansit.

Week vir week, gram vir gram, ná boererate en borsvoedingsklinieke, begin die vetjies bykom. Tog was dit ’n onheilspellende stilte voor die storm.

Hy was drie weke tuis en het net ’n roetine begin ontwikkel toe ons weer ontnugter word; melkkoors oftewel “mastitis” is nie vir sissies nie. Veral nie as die ontsteking die vorm van ’n tennisbal aanneem en jou vrou weer by die hospitaal ingeboek moet word nie.

Die “vinnige operasie” raak toe ’n naweek in die hospitaal en siedaar: Dis my en bababeer se eerste mannenaweek by die huis.

Dit was nou nie presies wat ek in gedagte gehad het nie, maar ons het toe darem al ’n bietjie van ’n roetine gehad en dit so half en half probeer volhou.

Maar skielik was die melkfonteintjie droog en moes pa noodgedwonge ’n blik poeiermelk aanskaf en hoop vir die beste. Gelukkig kan ek lees. En Google is mos ’n boesemvriend? Genadiglik was die oorgang na die poeiermelk nie so dramaties nie en kon ek steeds die titel as melkman behou.

Sowat twee maande gelede was pa en seun saam in die hospitaal. Weer was dit nie die volmaakte eerste uitkamp-uitstappie waarop ek nog altyd gehoop het nie. Tog was dit steeds ’n kans om die lewe saam met my seun aan te durf.

Op 26 Desember was dit ’n jaar sedert ons seun se geboorte. Ons kind is spekvet en gesond en seil die hele wêreld vol. Slaap bly iets wat ons voortdurend ontwyk, maar sommige nagte is dit gelukkig ononderbroke.

Maar die mens is nou eenmaal ’n gewoonte dier. Die melkman is nie meer so erg in aanvraag nie en vyfuur in die oggend is nie meer botteltyd nie; dis speeltyd.