[caption id="attachment_61982" align="aligncenter" width="600"]Jackie saam met vriende by die rehab Kollegas van Jackie, David en Collette Hurst, kom kuier saam met hul seuntjie Caymen by die rehab kort voor Jackie ontslaan word.[/caption]

DIE tyd in rehab kom tot ’n einde.

Jackie se spraakontwikkeling het ’n plato bereik en onmiddellike terapie is opgeskort. Hoewel sy balans nog sleg is, kan hy nou sonder die rolstoel regkom. Hy dra steeds doek en bad bly maar ’n stryd.

Ek voel soos ’n lafaard omdat ek so ontsettend bang is vir die permanente tuiskoms.

Behalwe vir sy naweekpas, was Jackie maande laas tuis. Ek slaap steeds op ’n matras voor sy bed. Hy sukkel om die trappe na ons slaapkamer te klim en slaap steeds onder in die eetvertrek, wat nou as ’n slaapkamer dien.

Hy haal nou moeilik asem weens ’n interne verdikking in die lugpyp, waar die keelbuisie was. Sy stem klink steeds anders as voor die ongeluk . . . die toonhoogte is beslis hoër. (Ná ondersoeke by Steve Biko- akademiese hospitaal word vasgestel die oorsaak van die nuwe toonhoogte is neurologies; sy stembande het nie seergekry nie.)

Hy soek die badkamer in die kombuis. Hy gaan nie juis buitentoe nie. Hy sit of lê heeldag op sy bed en aanmoediging om iets anders te doen, word begroet met intense antagonisme.

Hy staar voor hom uit en ek wens ek kan die knoppie vind om weer die liggie aan te skakel. Ek mis my man. En vir die seuns is hierdie mens ’n vreemdeling. Hy is duidelik gedisoriënteerd wat tyd en plek betref. En so begin die vrae. Honderd keer op ’n dag; dieselfde vrae oor en oor en oor.

'Is ons getroud?' 'Ja.' 'Wil jy skei?'

“Watter dag is dit?”

“Waar is ons nou?”

“Wat het met my gebeur?”

“Wie was saam in die kar?”

“Het hulle seergekry?”

“Is ons getroud?” En as ek hierop ja antwoord, is die volgende vraag gewoonlik . . .

“Wil jy skei?”

Ek voel of ek kan skree en wil die aflosstokkie vir iemand aangee. Ek is moeg . . . en geïrriteerd. En bekommerd . . . hoe gaan ek vir alles betaal? Ek wil nie die huis verloor nie.

Rekeninge hoop op en oproepe van mediese diensverskaffers, van wie ek nou eers bewus word, help ook nie om die spanning te verlig nie. Om al die balle in die lug te hou, verg ’n besonderse talent en ek begin twyfel aan my eie vermoë.

Maar dis Kersfees. Ek besluit om daarop te fokus. Dit sál ’n spesiale Kersfees wees. Ek koop ’n onderstebo boom waarvan die wortels na bo wys om as ons Kersboom te dien. Dalk juis omdat alles nou so onderstebo voel, asof ons ontwortel is.

Onderstebo, ontwortelde Kersboom

Ons spoor al die ou versierings en liggies op. Selfs die ou Kersvaderpak word uitgekrap. Skielik word ek kreatief en skryf ’n Kersverhaal wat die seuns op Kersdag kan opvoer.

My gesin sal lag en die wonder van Kersfees beleef, want al is alles anders, leef pappa en Jesus se geboorte sal hierdie jaar in oorvloed en met dankbaarheid in ons huis gevier word.

En al kan Jackie nie een ding daarvan onthou nie, sal óns weet . . .

[caption id="attachment_61981" align="aligncenter" width="600"]Ruben Fourie in Pretoria, seun van Michelle Fourie, by sy oom Ricus Truter Ons swaer Ricus Truter verras vir Ruben in ’n Kersvaderpak.[/caption]

Dis ’n baie spesiale Kersfees dié!

- Michelle

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog weekliks vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het.