Dag 16, 17, 18, 19, 20, 21 2 Junie 2016, 21:00

WAAR COWBOYS NOG COWBOYS IS Dit sous van die reën. Redelik stormagtig ook, en net 15 minute gelede was dit nog een van die mooiste dae. Verlede week was die weer perfek. Ek onthou die oggend sewe dae gelede toe ek om 05:00 opgestaan, my dag met ’n beker sterk koffie begin en so slurp-slurp na die berge op die horison gekyk het. Koffie bestaan nie in China nie en ook nie regtig in Mongolië nie. Winkelkoffie, wel, maar dan moet ’n mens dit in jou reeds volgestopte saalsakke of rugsak druk – en dit doen ek nou maar. Ek drink my koffie halfpad en gooi die ander helfte met ’n vinnige ruk van my gewrig voor my uit. Ek is reeds aangetrek vir die week se avontuur en stap na my perd om dit op te saal en seker te maak al die gespes is vas.
My tent en voorraad vir die ses dae se ry voor die volgende rusdag is haarfyn beplan en fisiek voel ek gereed vir die volgende 700 km deur wilde Mongolië.
Elke dag is ’n nuwe avontuur en elke dag roep ’n nuwe horison. Daar is nie oggend dat ek ’n sonsopkoms of ’n -ondergang misloop nie.
My perd in is ’n baie goeie toestand en ek kyk mooi na hom. Sy naam is Geelslang. Dis ook die einste Geelslang wat my getrou van Kaïro na Kaapstad geneem het. Ek swaai my regterbeen oor Geelslang en met die son wat skuins agter my opkom, galop ons in die rigting van die berge. Wat ’n belewenis. Die week is ongelooflik. Ek het van die intrapslag enorme respek vir die Mongoolse mense en hul leefstyl gekry. Mense hier leef uit die aarde en die meeste van hulle maak ’n nomadiese bestaan met wol en sybokhaar. Duursame sybokhaar van Mongolië is wêreldwyd baie gesog.
Waar ek en Geelslang in die lentebriesie ry, lê sneeu in die winter ’n meter dik. Dit is egter nou grasgroen en die perde en beeste wei wild en vry. Hier is baie perde. Wilde perde.
Al die cowboys hier ry ook perd. Selfs die cowboys se kinders. En ek sien gereeld hoe ’n Mongoolse cowboy op die horison van die een punt na die ander punt op sy perd galop. Dan glimlag ek en voel sommer meer tuis.
Dan en wan stop ek as daar dalk ’n klein winkeltjie langs die pad is vir iets om te drink.
Dalk ’n Coke of ’n bottel koue water. Dan gebeur dit baie dat ek met die ingaan of die uitkom by die winkeltjie se deur skouers skuur met die Mongoolse cowboys. Gewoonlik is hulle daar om iets op of af te laai en hulle doen dit met gemak. Ek sal nie sommer teen een van hulle arm druk of saam hulle wodka drink nie. Dit is sterk manne dié.
Hulle maak ook nie sommer kontak nie en sal sommer net in ’n mens se rigting knik . . . en dit seker net om my te laat verstaan dat ek ’n besoekende cowboy is. Van hulle sal na Geelslang kyk en selfs aan hom vat. En sonder om te glimlag sal hulle op hul perd klim en wegry. Regte cowboys. Ek ry voort en elke aand word kamp opgeslaan en die elemente van die natuur getoets. Hierdie tyd van die jaar wissel die temperatuur van 3 °C in die oggend tot so 30 °C in die dag. As gevolg van die bedompigheid is daar laatmiddag donderstorms.

Dit is ’n dag voor ons Moron bereik en ek kan nie wag om weer te stort, iets lekkers te eet en hopelik in ’n bed te slaap nie. Net nog 80 km vir die simplistiese luukshede. Op hierdie ekspedisie kan ’n blote warm stort vergelyk word met ’n kamer in vyfsterhotel. Dis ’n perfekte middag en ek het tyd om met die verkyker voëls te kyk. Geelslang is onder ’n boom vasgebind. Ek het my tent lekker hoog teen ’n koppie opgeslaan en die uitsig is asemrowend. Viva, Mongolië. Ek is moeg en seer, maar baie tevrede. Dit is net toe dat die wind stormagtig begin waai. Tien minute later begin druppels so groot soos albasters val. Ek het nie die reënseil oor my tent gesit nie, want ek het glad nie gedink die weer sou so drasties verander nie. In die stormwind en reën staan ek sterk en doen wat ek moet, want elke cowboy doen dit. Ek slaan penne in, trek die seil oor, maak seker die toue is stewig geanker en styf getrek.

Voor ek weer by die tent inkruip, kyk ek dapper op na die wolke en dan oor die vlaktes. Ek is sopnat, die wind ruk aan die tent en die reën val harder.

Ek voel trots. Ek voel sterk. Soos die wind sterker begin waai en dit nog harder reën, loer ek so vinnig by die tent uit. Nie ver van my af nie, onder in die vallei, sien ek ’n Mongool wat sy bokke aankeer om hulle na sy kraal te lei. Hy sit rustig, regop en baie trots in sy saal.

En doen wat elke cowboy moet doen.

Ek rits die tent dig toe, kruip in my slaapsak in en dink ek is ’n cowboy. Maar ek weet ook toe net daar: In my dreams, baby, in my dreams.

IVAN SE EKSPEDISIE HET SELFS ’N TEMALIED!

Klik op hierdie logo op Ivan se webtuiste om eksklusief na die temalied Waar Daar ’n Wil Is deur Francois van Coke te luister.

temalied

HOE KAN JY BY IVAN SE INISIATIEWE BETROKKE RAAK?

Ivan gaan met vanjaar se ekspedisie fondse insamel vir LIPCO Law for All se nie-winsgewende maatskappy, Fees for All. Die organisasie spreek studente se finansiële probleme aan deur te help om hulle regte te bevorder vir gelyke geleenthede in hoër onderwys. Die projek se doelwit is om geld in te samel vir tersiêre studies. Die #pledge30 bydraes (R30) kan via sms of Snapscan gemaak word. Lewer hier jou bydrae.

? Volg Ivan op Twitter by @IvanZimmermann1 en op Instagram: IvanZimmerman1. Die regstreekse webuitsending sal ook gevolg kan word via Periscope: @IvanZimmermann.

Ook op Huisgenoot.com

Ivan Zimmermann skryf uit China oor sy fietsry-ekspedisie: Hoe eet ’n mens ’n olifant?

Ivan Zimmermann trap voort: Twee dae in Beijing met ‘baie mense, baie fietse en baie karre’

Eksklusief: Ivan Zimmermann blog waar hy 12 300 km gaan fietstrap