Die akteur en avonturier Ivan Zimmermann het Sondag 15 Mei op nóg ’n ekstreme fietstoer vertrek – hierdie keer 145 dae van Beijing tot in Istanboel. In ’n eksklusiewe blogreeks vir Huisgenoot.com deel hy sy fisieke en sielkundige uitdagings. Lees sy eerste inskrywing hier.

The Summer Palace, Beijing, China. The start of #beijing2istanbul @TraineesSAICA @FeesForAll #leadersneverquit

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

In sy tweede inskrywing vang Ivan sy eerste twee dae in Beijing vas:

DONDERDAG, 13 MEI (20:20)

Beijing een, Ivan nul

Liewe Huisgenoot,

My ego het vandag ’n ligte blou oog gekry. Ek het om 00:30 veilig in Beijing aangekom. Ek dink hul lughawe is so groot soos die hele Centurion, want ek moes ’n trein soortgelyk aan die Gautrain neem om my bagasie, en die heel belangrikste – my fiets – by ’n ander punt op die lughawe te gaan oplaai.

So far so good. Alles het netjies bymekaar staan en wag.

Daar is meer toerusting en fietsonderdele as klere en ek wonder die laaste paar dae oor die hoeveelheid verstand wat ek ontvang het. Miskien is dit die somtotaal van die hoeveelheid penne wat my tent moet vashou in die wind en weer.

Dis nie nou die tyd om te dink oor wat my IK dalk kan wees nie. Ek is op ’n avontuur wat min mense beskore is en waarvan die meeste net kan droom. ’n Mens pak nie ’n avontuur aan om jou IK te toets nie.

Ek dink die proses moet die belangrikste wees. Hoe eet jy ’n olifant? Stukkie vir stukkie. ’n Mens moet leer om die beste te maak van elke stukkie. In my geval het ek dit al gedoen in my reis van Kaïro na Kaapstad. Dit is dalk hoekom ek my verstand in twyfel trek.

Wanneer ’n mens van oos na wes reis is die vlugvoosheid die ergste. Ek het oor wenke teen vlugvoosheid opgelees en vanoggend taamlik vars opgestaan. Die belangrikste is om genoeg water op die vlug te drink en seker te maak jy val by die slaappatroon van jou bestemming in.

Ek het my fiets aanmekaargesit en seker gemaak alles binne my sakke is in een stuk en werk. Ek het gereed gemaak om Beijing te verken; sommer per voet. Gou het ek besef niemand hier praat Engels nie. Niemand wil ook nie. Hulle het nie nodig om Engels te praat nie. Die meeste het net skaam gegiggel toe ek aanwysings vra. Wat sou die mense gedink het wat dit aanskou het? Sommige mense het net gelag, omgedraai en weggeloop as ek aanwysings vra. Dan lag ek maar saam. As niemand jou verstaan nie, gaan min dinge help dat hulle verstaan.

Ek het in my peetjie in verdwaal. Wat ’n vinnige verkenningstog moes wees, het ’n drie en ’n half uur lange staptog om ongeveer drie blokke geword. Op die meeste vier blokke. Ek het seker in ’n figure of eight gestap. Toe ’n figure of four. En toe ’n figure of two. Ek het gesukkel om weer by die stert van die agt te kom. Baie mense woon in Beijing. En daar’s baie fietse. Ek is dadelik terug hotel toe en het besluit om op die fiets verder te verken. Baie mense. Baie fietse. Baie karre. Ek onthou deur Afrika was daar min mense en min donkiekarre.

Beijing is ’n stil stad vir die hoeveelheid verkeer en mense wat daar woon. Ek dink wel daar gaan ’n dag kom dat iemand sy moer hard gaan strip vir ’n ander bestuurder. Ek het ver gery, maar omgedraai om betyds by die hotel te wees voor die son sak. Dit sal waarskynlik ’n onbegonne taak wees om in hierdie verkeer in die aand op ’n fiets te sit. En ek het ook nie gekry waarna ek gaan soek het nie – koolstofmonoksied-silinders waarmee ek my bande kan pomp. Genoeg vir die volgende 145 dae. Môre moet ek weer terug stad toe. Dalk ’n vinnige Uber?, het ek gedink. Dalk spaar ’n Uber my lewe in hierdie mal besige, stil stad. En soos ek deur die hotel se hek ry met ’n stert wat amper in my speke hang en die son wat net-net gaan sak, hoor ek so ’n blok verder hoe iemand in Chinees iets skree en ek hoor ’n moer val . . .

21:30 SATERDAG, 14 MEI

Ivan een, Beijing . . . sê maar twee

Ek het Beijing vandag weer gaan verken. Ook my silinders gekry, twee van hulle. Ek het ten minste tien nodig. Vanoggend het ek met mening opgestaan en dadelik teruggery na waar ek gister ophou verken het.

Ek wonder steeds hoekom Beijing verkeersligte het. Niemand steur hulle daaraan nie.

Ek het dadelik straataf gery met Ideal Plaza deur Zhongguancun, verby Weigongcun, links in Xizhimen Outer Street verby die Beijing-dieretuin, straataf in Fuxingmen, toe links in Xidan en ’n vinnige stop en deurstap by Die Paleismuseum en toe ek deur die laaste tempel is, voel ek hemels.

Al die tempels verteenwoordig die fases waarin jou lewe beweeg tot jy “heilig” is. Of sommer dalk net dood. Daarna is ek straataf in Ciqikou. Ná gister se fietsrit voel ek skielik baie bekwaam. Regs in Quiaowan, regs in Guangqumenwai. Die verkeer is weer ’n chaos; ek ry ook nou oor die rooi verkeersligte. Ek het vinnig by die winkel ingehardloop, die silinders gekoop en met dieselfde pad teruggery hotel toe. Ek wil rus. Môre is die groot dag. Dag 1.

Julle kan my 24 uur van elke dag volg op ivanzimmermann.com.

IVAN SE EKSPEDISIE HET SELFS ’N TEMALIED!

Klik op hierdie logo op Ivan se webtuiste om eksklusief na die temalied Waar Daar ’n Wil Is deur Francois van Coke te luister.

temalied

HOE KAN JY BY IVAN SE INISIATIEWE BETROKKE RAAK?

Ivan gaan met vanjaar se ekspedisie fondse insamel vir LIPCO Law for All se nie-winsgewende maatskappy, Fees for All. Die organisasie spreek studente se finansiële probleme aan deur te help om hulle regte te bevorder vir gelyke geleenthede in hoër onderwys. Die projek se doelwit is om geld in te samel vir tersiêre studies. Die #pledge30 bydraes (R30)  kan via sms of Snapscan gemaak word. Lewer hier jou bydrae.

? Volg Ivan op Twitter by @IvanZimmermann1 en op Instagram: IvanZimmerman1. Die regstreekse webuitsending sal ook gevolg kan word via Periscope: @IvanZimmermann.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Meisie smeek om na selfdoodkliniek geneem te word elf jaar ná geheimsinnige goggabyt

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder

Pieter Koen en Cordelia wil harte verower met dié liedjie

Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoekto