Die akteur en avonturier Ivan Zimmermann het Sondag 15 Mei op nóg ’n ekstreme fietstoer vertrek – hierdie keer 145 dae van Beijing tot in Istanboel. In ’n eksklusiewe blogreeks vir Huisgenoot.com deel hy sy fisieke en sielkundige uitdagings.

Lees ook ander eksklusiewe inskrywings deur Ivan:

Ivan Zimmermann trap voort: Twee dae in Beijing met ‘baie mense, baie fietse en baie karre’

Eksklusief: Ivan Zimmermann blog waar hy 12 300 km gaan fietstrap

Dag 1. Beijing na Yanqing (96 km)

15 Mei, 22:12

KIEKIES

Ek onthou hoe vreeslik koud ek gekry het voor die hotel in Kaïro, slaggereed vir die avontuur van ’n leeftyd. Soos ’n droom wat waar geword het. Ek onthou hoe opgewonde ek was oor die feit dat ek so ’n wilde besluit geneem en uitgevoer het. Talk is cheap. En nou praat ek nie meer nie. Nou doen ek.

En hier staan ek weer. Dié keer amper aan die ander kant van die wêreld. Ek het gisteraand amper ’n traan gepink en gedink wat die hel doen jy, Zimmermann? Dis amper soos voor ’n reksprong.

Ek wou vir ’n oomblik net terugstaan en almal laat weet ek het ’n fout gemaak en gaan nie my besluit deurvoer nie. Ek was selfs bereid om die vernedering soos ’n man (of ’n lafaard) te vat.

En voor ek my kom kry, begin die ekspedisie trap en die meeste van die negatiewe gevoelens raak met elke trapslag beter.

Weer besef ek hoe belangrik dit is in die lewe om altyd vorentoe te beweeg. Al is dit hoe stadig. En nooit stil te staan nie. Dit is die stilstaan wat met ’n mens se kop smokkel. Stilstaan word die duiwel se oorkussing.

Hier ry ek, gewapen met ’n Rocky Mountain en ’n kamera deur die strate van Beijing.

Ek is nou al gewoond aan hoe sleg mense hier bestuur en hoe min waarde die mense aan verkeersligte heg. Ek is ’n vreeslike slegte ryer en oortree saam met die ander 12 miljoen mense al die reëls.

Beijing is ’n mooi stad. Die strate is ongelooflik skoon, maar die lug laat my neus brand en my oë is bloedrooi. Binne 5 minute voel ek al baie beter as gisteraand en besef ek weer wat die doel van hierdie ekspedisie is. Ek raak sommer weer opgewonde.

Dis die volmaakte dag om te begin. Die son skyn en daar’s ’n ligte briesie. Die eerste hoogtepunt van die dag is om by The Summer Palace vir ’n kiekie te stop. Daardie mooi rooi paleis wat so uitstaan in die sneeu in die winter.

En met al die groen bome in die somer. Ek neem ’n kiekie. Die tweede hoogtepunt van die dag is die Groot Muur van China. Nou is ek al 30 km uit Beijing. Dit is werklik merkwaardig om die muur te sien seil soos ’n groot luislang oor die heuwels en berge. Ek neem nog kiekies.

Ek hoor toe later met groot teleurstelling dele van die muur is gebou om dit meer toeganklik te maak vir toeriste. Dus is die muur waarna ek nou kyk niks merkwaardigs nie, maar ek neem nog een laaste kiekie en dink ek gaan niemand daarvan vertel nie. My bene brand nadat ek ’n paar bulte uitgery het en ek besef ek kon fikser gewees het vir die begin.

Net 5 km van Yanqing af slaan my agterwiel vas en my ketting val. Ek kan nie glo wat gebeur nie.

Hierdie ekspedisies word so aanmekaargesit dat ’n mens nie mag tou opgooi nie. Of dit nou is as gevolg van meganiese probleme en of dit nou oor gesondheidsredes is. Maar as jy tou opgooi, kry jy nie jou medalje nie en kry jy ook nie die gesogde EFI (Every F...... Inch )-status nie.

[caption id="attachment_127248" align="alignnone" width="600"]Ivan ontdek China op sy fiets. Foto: Verskaf Ivan ontdek China op sy fiets. Foto: Verskaf[/caption]

Van Kaïro na Kaapstad het ek geen meganiese probleme ondervind nie – ook nie siek geword nie. Behalwe een aand in Kenia, waarvan ek later sal vertel. En hier kry ek op die eerste dag al moeilikheid! Ek het nog 144 dae oor.

Ná ’n paar paniekbevange ure het ek eindelik – ná verskeie oproepe, gesprekke en kiekies van die fiets – die probleem opgelos. Dankie, Jacques (OB) Oberholzer. (Ek gaan julle nie verveel met die detail nie.)

Met groot verligting lê ek in my bed en kyk na die dag se foto’s om te besluit watter ek wil hou en watter gaan deur die druk van ’n knoppie die ewigheid in verdwyn. Dit kan belangrike besluite wees. Ek staar na elke foto van die dag. Ek kyk na die een, dan na ’n ander een, dan weer terug na die vorige een.

En skielik besef ek die beste foto’s is dié met mense in. Hoeveel keer kan ’n mens na ’n foto van ’n muur kyk? (Al was dit die regte muur).

Dis asof foto’s met iemand of mense in, ’n hartklop het.

[caption id="attachment_127249" align="alignnone" width="600"]Wat 'n avontuur! Foto: Verskaf Wat 'n avontuur! Foto: Verskaf[/caption]

Dag 2. Yanqing na Zhangjiakou

16 Mei, 20:09 (128 km)

HOE OM ’N OLIFANT TE EET

’n Mens moet baie goed voorberei vir enige uitdaging. Ná die voorbereiding glo ek dit is maar ’n kopskuif van daar af.

Hier begin ek nou met dag twee van ’n 145 dag lange ekspedisie en ek moet erken, met al die administrasie om hierdie ekspedisie ’n werklikheid te maak, het ek nog nie daardie kopskuif gemaak nie.

Ek onthou dat dit amper dieselfde was met verlede jaar se ekspedisie. Dit is visums, toerusting, fietsonderdele, die regte klere en dan natuurlik die motiveringsprogram #LEADERSNEVERQUIT en #FEESFORALL.

Net die visums vir hierdie ekspedisie was baie moeilik en tydrowend. Tien visums waarvan sewe van die lande glad nie konsulate in Suid-Afrika het nie. Met Afrika moes ek maar vir drie lande visums kry.

Die laaste drie maande was dus heel chaoties en moes ek maar altyd mooi fokus, want my aandag is vinnig afgelei. Ek het hoeka my laaste visum drie dae voor ek moes vlieg by die Chinese konsulaat gaan haal.

Die ander groot kopseer was om die pakwerk reg te doen. ’n Mens het baie beperkte ruimte en dan moet alles nog onder ’n sekere hoeveelheid kilogram weeg. Hierdie jaar is wel aansienlik beter as verlede jaar. Deur Afrika kon ek net ’n ou weermagtrommel se grootte vol klere, fietsonderdele, tent en eetgerei pak.

Dit het my laat besef met hoe min ’n mens werklik deur die lewe kan gaan en steeds gelukkig kan wees. Hierdie jaar is dit baie beter. Ek kan twee 90 L-sakke saamvat wat elk nie meer as 23 kg weeg nie.

Dit sluit al jou klere, fietsonderdele en tent in. Dus is daar ’n klein bietjie ekstra plek vir ’n boek of twee – en ’n ordentlike kamera.

En hier sit ek êrens noord van Beijing op die tweede skof van 132 km van ’n vier en ’n half maand-ekspedisie en ek probeer nou eers my kop uitpluis. Eisj!

[caption id="attachment_127250" align="alignnone" width="600"]Ivan en sy getroue ysterperd. Foto: Verskaf Ivan en sy getroue trapfiets. Foto: Verskaf[/caption]

Die pad tussen Yanqing en Zhangjiakou was baie besig. Inteendeel, die besigste pad wat ek nog ooit gery het en beslis ook die gevaarlikste. Baie vragmotors, die groot, lomp soort wat baie moeilik vir gevaar kan uitdraai. En fietsryers kry geen respek van motoriste nie. Ook nie voetgangers nie.

So vleg-vleg deur die vragmotors bereik ons toe ons bestemming. Ek voel goed. Ek is fisiek beter voorbereid vir hierdie ekspedisie as wat ek gedink het.

Zhangjiakou is ’n mooi stad. Uiters skoon, met 4,5 miljoen mense. Terwyl ek die aand die stad verken, val alles in plek. My kop is reg.

Hy het natuurlik net in Chinees begin praat en gelag. Ek koop toe twee sosaties en wonder watter vleis dit is.

Voor ek loop toe sê ek vir hom hoe ’n mens ’n olifant eet.

Jy gryp hom aan die stert, swaai hom aan die stert en moer hom links op die grond neer en dan regs op die grond neer.

Dan eet jy hom stukkie vir stukkie.

En soos ek wegstap, begin ek eet.

IVAN SE EKSPEDISIE HET SELFS ’N TEMALIED!

Klik op hierdie logo op Ivan se webtuiste om eksklusief na die temalied Waar Daar ’n Wil Is deur Francois van Coke te luister.

temalied

HOE KAN JY BY IVAN SE INISIATIEWE BETROKKE RAAK?

Ivan gaan met vanjaar se ekspedisie fondse insamel vir LIPCO Law for All se nie-winsgewende maatskappy, Fees for All. Die organisasie spreek studente se finansiële probleme aan deur te help om hulle regte te bevorder vir gelyke geleenthede in hoër onderwys. Die projek se doelwit is om geld in te samel vir tersiêre studies. Die #pledge30 bydraes (R30)  kan via sms of Snapscan gemaak word. Lewer hier jou bydrae.

? Volg Ivan op Twitter by @IvanZimmermann1 en op Instagram: IvanZimmerman1. Die regstreekse webuitsending sal ook gevolg kan word via Periscope: @IvanZimmermann.