“Ontwaak in hierdie uur van nood, laat die storie aan jou behoort . . .” weergalm die woorde van Arno Carstens se liedjie Ontwaak in my ore terwyl ek vorentoe, agtertoe, links, agtertoe, links, regs, vorentoe, links wieg en uitkyk op een van die mees dorre woestyne waarin ek al ooit was. Die temperatuur is 45 grade, die humiditeit nie minder as 80% nie. Tikke-tik, tikke-tik, tikke-tik, stoom die trein voort. Bandar Abbas na Tehran. ?Trein? Wat doen ek op ’n trein en wat doen ek in die suide van Iran?

My laaste geskrewe woorde voor ek sopas ontwaak het, was twee maande terug en selfs dít is baie onduidelik. Was dit dalk drie maande terug?? Ek het myself omtrent breindood getrap. ’n Toestand wat beskryf kan word as niks meer nie as net asemhaal, eet, slaap en ’n robotagtige roetine van fietsry.? Maar wat doen ek op ’n trein in die Suide van Iran? Ek het nie my visum gekry om deur Turkmenistan te trap nie. Die tandarts wou my nie in sy land hê nie. Die huidige president van Turkmenistan was die tandarts van die vorige president.
Dié het toe sy vriend se standbeeld, wat die son volg, afgebreek en homself op ’n massiewe perd in dieselfde plek geplaas. Ek wonder of hy regtig kan perdry. Op ’n manier is ek ook maar bly dat ek nie ’n ou geldjie uitgegee het in ’n sukkelende land wat sy eie mense onderdruk en visums sonder rede afkeur nie.? Dus moes ek van Tashkent, Oesbekistan, na Tehran via Istanbul vlieg. En boonop sit ek met twee gekraakte ribbebene wat die reis nie gemaklik maak nie.? Dit alleen was ’n groot motiveringsprobleem, aangesien my eindbestemming in Istanbul is en Tehran ’n groot stop op my roete is.
Dus sal ek moet teruggaan na plekke waar ek reeds was. En vra enigiemand wat soortgelyke avonture aanpak; dit is die laaste ding wat ’n mens wil doen. Daar is gewoonlik geen terugkeer na dieselfde plek toe nie. Dit is vorentoe . . . en dit is al.

Slegs vorentoe. ?Ek sit wel met ’n baie warm hart op my tweede oornag trein saam met drie wildvreemde mense. Ons ken mekaar glad nie, verstaan nie, maar die gebroke Engels wat nou en dan baie? help, is genoeg vir my om te besef Iran is ’n land met ongelooflike gul mense.

Mense wat onderdruk word deur ’n godsdienstige regering en uitgehonger is vir groei en verandering. En vryheid. En vir my is die ergste dat ek besef soos wat hulle praat en verduidelik, dat dit nie sommer gou gaan gebeur nie.?In die 12 dae wat ek het terwyl die ekspedisie deur Turkmenistan beweeg, moes ek iets met my tyd doen.?

Dus het ek besluit om drie dae in Tashkent, die hoofstad van Oesbekistan, deur te bring. Ek sou dit korter verkies, maar as ek te vroeg in Iran aankom, gaan ek sukkel om weer uit te kom, aangesien ’n mens se visum slegs 30 dae geldig is. Ná 8 uur op die lughawe in Istanbul is ek toe op pad na die baie onbekende Iran. Ek moet erken, dit is ’n skrikwekkende ervaring om alleen ’n land binne te gaan met baie streng sensuurwette en ’n baie negatiewe beeld in die internasionale media. Net die proses om ’n visum te kry en ’n voldoende toerplan in te handig was baie intimiderend.? Ek het drieuur die oggend in Tehran geland en alles het baie voorspoedig verloop met oorvriendelike beamptes en baie behulpsame mense. Baie vreemd vir doeanepersoneel.? ’n Baie oorgretige man het my oorreed om saam met hom stad toe te ry. Natuurlik ’n taxibestuurder. ?Die rit na die stad was ’n klein avontuurtjie binne hierdie groter avontuur om met ’n fiets van Beijing na Istanbul te ry.

Tehran het ’n bevolking van 15 miljoen mense. En niemand – soos in niémand – volg die padreëls nie.?Ná ’n paar minute saam met my eerste Iranse vriend die taxibestuurder wie se bestuurvernuf beter as Giniel de Villiers s’n moet wees om te oorleef, kom die kar skielik in ’n baie donker deel van die pad reg langs ’n klein sinkhuisie tot stilstand. Dit is net hier waar ek toe dink hulle gaan die een of ander kernkragtoestel op my toets en ek gaan nooit weer gesien word nie. Die bestuurder vra my steeds oorvriendelik om te wag terwyl die motor se masjien steeds luier. Vyf minute gaan verby en ek wil net ongeduldig begin raak toe die deur oopgaan en hy met twee koppies Iranse groentee te voorskyn kom. Met ’n groot glimlag verwelkom hy my in Iran en verduidelik aan my hoe belangrik tee in Iran is en hoe hoog hulle besoekers ag.
En toe besef ek daar is lewe agter die staalmure van sensuur in Iran.?
Ons het vir die volgende halfuur tot in die stad stil geluister na Iranse opera en in die drink van een koppie tee het ek die vryheid ervaar waarna hierdie man al sy hele lewe smag.? Ons het vir mekaar geglimlag en ek het in my lewe nog nooit so welkom in ’n vreemde plek gevoel nie.

Current location.Please visit www.ivanzimmermann.com for live tracking.#beijing2istanbul #leadersneverquit

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

Van Tehran af is ek op ’n trein na Bandar Abbas, ’n kusdorp aan die Persiese Golf en toe terug na Tehran. Van daar per trein na Mashhad en dan na Quchan om die ekspedisie te kry en die laaste 4 500km na Istanbul te ry.
Ek wil graag meer vertel oor Iran. Maar dan moet ek begin waar ek 66 dae terug opgehou het – by dag 37.? Ek is nou al 14 dae gekraak en was 66 dae breindood. Maar ek is steeds lewend.

Volgende keer gesels ons vanuit Gorno-Altaysk, Suid-Siberië.

KLIK HIER vir Ivan se vorige blogs.

IVAN SE EKSPEDISIE HET SELFS ’N TEMALIED!

Klik op hierdie logo op Ivan se webtuiste om eksklusief na die temalied Waar Daar ’n Wil Is deur Francois van Coke te luister.

temalied

HOE KAN JY BY IVAN SE INISIATIEWE BETROKKE RAAK?

Ivan gaan met vanjaar se ekspedisie fondse insamel vir LIPCO Law for All se nie-winsgewende maatskappy, Fees for All. Die organisasie spreek studente se finansiële probleme aan deur te help om hulle regte te bevorder vir gelyke geleenthede in hoër onderwys. Die projek se doelwit is om geld in te samel vir tersiêre studies. Die #pledge30 bydraes (R30) kan via sms of Snapscan gemaak word. Lewer hier jou bydrae.

? Volg Ivan op Twitter by @IvanZimmermann1 en op Instagram: IvanZimmerman1. Die regstreekse webuitsending sal ook gevolg kan word via Periscope: @IvanZimmermann.