Pleks van hul vuiste gebruik baie mishandelaars hul woorde as wapen. Zelda la Grange, wat vir ons blog oor geweld teen vroue en kinders, plaas vandag verbale mishandeling onder die soeklig.

[caption id="attachment_60444" align="aligncenter" width="600"]Foto: WikiPhoto Foto: WikiPhoto[/caption]

Verbale mishandeling: Wanneer die mishandelaar sy of haar maat voortdurend met woorde aanval. Dit kan insluit belaster, verneder, onder kruisverhoor neem, beledig, boelie, blameer, slegsê, tart, afkam, uitskel, gil, beskuldig of teister.

AS ’N vrou die slagoffer is van verbale mishandeling, kan jy nie die wonde sien wat uiteindelik rofies sal vorm en hopelik sal genees nie. Verbale mishandeling is ’n voortdurende proses  waarin iemand verneder word en minderwaardig laat voel word. Dit kan onbeskryflike skade aan die slagoffer se selfbeeld aanrig.

Christa is so iemand. Sy was drie jaar lank die slagoffer van verbale mishandeling voor sy haar uit die situasie bevry het.

“Dit het my baie lank gekos om te kom waar ek vandag is. Vry! Waar ek my man kan staan en nie bang hoef te wees waar ek kyk of wat ek wil sê nie. Ek is vandag weer ’n onafhanklike vrou wat my sê terug het en my lewe weer voluit leef!” skryf sy in ’n onlangse e-pos aan Huisgenoot.

Christa het so baie uit haar bevryding geleer dat sy vasberade is om voortaan ander mense te help om dieselfde paadjie as sy te stap.

Haar storie inspireer my. Dis dapper en bied hoop aan elke vrou wat haar lewe wil terugeis sonder “hekke” om haar hart, soos sy dit stel.

Vroue stort hul emosionele, liggaamlike en finansiële lewe in hul verhoudings. En as daar dan verbale mishandeling is, beteken dit ’n algehele aanslag op al hierdie fasette van hul menswees.

Dit is waarom dit so moeilik is om uit so ’n situasie weg te stap – jou selfbeeld kan so verpletter wees dat jy begin glo jy kan nie langer op jou eie klaarkom nie.

Ons moet vroue soos Christa aanmoedig. Haar storie is ’n inspirasie vir ander om weg te breek uit verhoudings waarin hul selfbeeld vernietig word deur die skerp lem van iemand se tong.

Hierdie soort bevryding kan net begin as ons – die vriendinne, ma’s en dogters in hul lewe – die nodige onderskraging gee en aanhou om probleme te identifiseer en dinge aan hulle uit te wys waarvoor hulle dalk blind geword het.

Die pad na herstel begin met die erkenning dat hulle in ’n afbrekende verhouding is wat hulle stap vir stap moet verlaat. 16_days_logo_englishMEDIUM - Zelda  Zelda picSMALL  Zelda  la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.