In ’n inspirerende blogreeks van drie dele vertel lesers van groot veranderinge wat hulle in hul lewe ondergaan het. Eerste aan die beurt is Celeste Vandewalle, ’n haarstilis van Bloubergstrand in Kaapstad, wat ’n allemintige 42 kg binne net nege maande afgeskud het.

MY MOTIVERING om gewig te verloor het begin toe ek op my grootste was en is geïnspireer deur my man, Jonathan. Hy was op die gewigsverliespad en het toe reeds 70 kg verloor. Dit was in Maart verlede jaar en ek het 102 kg geweeg.

Ek het wakker geskrik toe ek sien ek weeg meer as 100 kg, en erger nog, dat ek meer as my man weeg!

Dit het my aangespoor om die verandering te maak. My kinders, Hayly (6) en Gina (5), was ook ’n motivering, want ek wou fikser en gesonder wees om meer dinge saam met hulle te kon doen.

Ek het eendag wakker geword, in die spieël gekyk en besef hoe ek lyk. My man het ’n nuwe badkamerskaal huis toe gebring – ons het voorheen nie een gehad nie – en hom geweeg. Hy was 98 kg. Toe klim ek op die skaal met die gedagte dat dit in die haak sal wees; ek sal soos altyd sowat 89 kg weeg. Ek was verkeerd. Dit het my in groot, helder letters getref: 102 kg. Wanneer het dit gebeur? Hoe het ek my so agteruit laat gaan?

Toe klim ek van die skaal af, huil en sê genoeg is genoeg. Ek moes iets doen. Ek weet nie wat verander het nie, maar ek het vir die eerste keer in my lewe regtig gevoel ek kan dit doen. Ek was vasberade en niks of niemand sou in my pad staan nie.

Ek het in my tienerjare begin gewig aansit weens swak eetgewoontes. Op 18 het ek begin verslank en sowat 20 kg verloor, maar dit toe weer alles aangesit. In 2005 het ek op 19 swanger geraak. Ek het weer gewig aangesit weens die verskoning dat ek vir twee eet.

Twintig maande later is ons tweede dogter gebore. Ek was toe ’n tuisblyma en het my twee kinders versorg. My verskoning was dat ek nie tyd het nie en dat dit normaal is om babagewig te hê. Ek het net voortgeploeter en alles geëet wat voorkom.

Ek was neerslagtig, al het ek dalk van buite gelukkig gelyk. Ek het lekker saam met vriende gelag, maar altyd selfbewus gevoel. Ek dink nie daar het in die twee jaar voor ek begin gewig verloor het ’n dag verbygegaan dat ek nie oor iets gehuil het nie. Soms oor onbenullighede. Maar ek weet dit het in my onderbewuste op my gewig neergekom.

[caption id="attachment_41822" align="alignnone" width="341"]Die geheim van gewigverlies: minder eet, meer oefen. Die geheim van gewigverlies: minder eet, meer oefen.[/caption]

Ek wou altyd die gewig verloor, maar het nie die dryfkrag gehad om die moeite te doen nie. Ek was ’n wipplankverslanker. Ek het elke denkbare dieet beproef. Ek sou ’n paar kilogram verloor, dan dink dis genoeg en gemaklik raak. En dan al die gewig – en meer – stadigaan weer aansit. Ek het elke paar maande met ’n dieet begin en misluk.

Ek dink my grootste motivering was om vir my klein doelwitte stel. Ek het altyd na die volgende 5 kg-merk gemik sodat dit nie lyk soos ’n reuse berg wat ek moet uitklim nie. Soos: Ek moet 42 kg verloor. Hoe op aarde gaan ek dit regkry? Vyf kilogram op ’n slag was meer realisties. Dis goed vir die brein om klein doelwitte te hê.

Ek dink nog iets wat my aan die gang gehou het, was dat die verandering nie vir ’n paar dae of maande sou wees nie, maar vir die res van my lewe.

 DIE OU EK

[caption id="attachment_41809" align="alignnone" width="334"]Voor: Celeste Vandewalle en haar dogtertjies, Hayly en Gina Celeste Vandewalle en haar dogtertjies, Hayly en Gina.[/caption]

Ontbyt Ek het gewoonlik my kinders by die skool gaan aflaai en dan na die naaste deurryrestaurant of vulstasie gery vir ontbyt. Dan het ek ’n burger of geroosterde toebroodjie geëet en altyd ’n Coke of Fanta daarby gedrink. Ek moes agterna iets soets eet en het dan ’n oliebol, muffin of sjokolade verslind.

Peuselhappie Ek het heeloggend aan tjips, sjokolade, kolwyntjies en roosterbrood gepeusel en Coke gedrink.

Middagete Middagete was gewoonlik weer kitskos of ’n pastei of twee en beslis ’n Coke of melkskommel daarby. En weer sjokolade agterna.

Peuselhappie Nog peuselhappies en verskriklik baie koeldrank in die namiddag.

Aandete Aandete was gewoonlik ’n maaltyd met ’n koolhidraatgrondslag. Een van my gunstelinggeregte was gebakte aartappels met ’n hele pak spekvleis as bolaag, toegegooi onder kaassous en kaas. Ook saam met Coke of Fanta en afgerond met iets soets soos koek of ’n oliebol.

Peuselhappie Terwyl ek die aand TV kyk, het ek dan verder gepeusel – gewoonlik aan ’n groot pak tjips en ’n blok sjokolade.

DIE NUWE EK

[caption id="attachment_41819" align="alignnone" width="600"]Celeste - nege maande en 42 kg later. Celeste - nege maande en 42 kg later.[/caption]

Ontbyt Omstreeks elfuur soggens drink ek ’n proteïenmelkskommel met kokosmelk en vlassaadpoeier in en eet ’n gekookte eier, amandels,  bloubessies en pynappel.

Middagete Omstreeks tweeuur eet ek slaai met forel of tuna en ’n halwe avokado.

Peuselhappie Biltong, amandels en nog ’n gekookte eier.

Aandete Hoender, vis of steak met baie groente.

Peuselhappie As ek lus kry vir peusel, eet ek Esseense brood met makadamia- of amandelbotter.

Ek is vir die eerste keer gelukkig. Ek het selfvertroue. Ek voel gefokus en gedrewe. Ek is gesond en my kinders is gesonder en leer gesonde eetgewoontes.

Ek is fiks en het energie. Ek was voorheen gedurig moeg. Ek voel nou wonderlik oor myself. Ek het nie voorheen gehou van wat ek in die spieël sien nie. Ek het dit gehaat dat ek die grootste klere moes koop wat ek kon kry en dat dit selfs dan soms te styf gesit het. Nou kan ek by enige winkel ingaan en enigiets aanpas en soms is selfs die kleinste nommer te klein. Dis regtig ’n bemagtigende gevoel.

Voorheen was ek in ’n emosionele warboel. Ek het gedurig gehuil en was neerslagtig. Ek het die lewe gehaat. Ek het oor alles gekla en wou nêrens heen gaan nie.

Nou is ek geheel en al anders. Ek gryp nou die lewe aan. Ek is gelukkig. Ek is vol energie. Ek is nie bang om nuwe goed te beproef nie. Ek is ’n heel ander mens, van binne en buite.

Sielkundig het dit ’n ruk geduur voor my gees met my liggaam ’n band gevorm en ingehaal het. Al het ek gewig verloor, het ek ’n ruk lank steeds ’n vet mens uit die spieël na my sien staar. Ek moes my brein afrig dat ek mooi is en trots moet wees op wat ek bereik het.

- Faiza Mallick

Celeste is 'n trotse lid van SleekGeek en 'n aktiewe rolmodel vir die SleekGeek gesond- en fiksheid sosiale gemeenskap.

Word deel van die SleekGeek gemeenskap, 'n verleidelike sosiale gemeenskap van ondersteuning en motivering van jou gesonde leefstyl-doelwitte.

Webtuiste: www.sleekgeek.co.za

Facebook: https://www.facebook.com/groups/sleekgeek