Sy en haar oudste seun probeer met die breinbeseerde Jackie gesels, maar dis byna meer ontstellend as toe hy nie kon praat nie, vertel Michelle Fourie in hierdie aflewering van haar blog oor hoe ’n motorongeluk haar en haar gesin se lewe vir ewig verander het.

[caption id="attachment_58159" align="alignnone" width="600"]Regsom van links bo: Op  ’n gesinsuitstappie, die motor ná die ongeluk, Jackie in intensiewe sorg, en ons kuier by die rehab. Bo: Op ’n gesinsuitstappie (links) en die motor ná die ongeluk. Onder: Jackie in intensiewe sorg (links) en ons kuier by die rehab.[/caption]

DIE besoeke aan Jackie in die rehabilitasiehospitaal word deel van ons daaglikse roetine.

Nadat ek my take vir die dag verrig het, sit ek op die Hoërskool Menlopark se paviljoen en wag dat Jacques, my oudste, se atletiekoefening klaar is. Sy boetie Ruben speel in die verspringput. Of hardloop saam met die atletieksterre. Hy word deel van die atletiekspan terwyl ek net meestal net voor my uitstaar.

[caption id="attachment_58154" align="alignnone" width="600"]Terwyl ek op Menlopark se paviljoen sit en wag dat die atlete klaar oefen, verskyn daar een middag ’n ongelooflike reënboog oor die sportveld. Ek word skielik weer bewus van God se nabyheid. Terwyl ek op Menlopark se paviljoen sit en wag dat die atlete klaar oefen, verskyn daar een middag ’n ongelooflike reënboog oor die sportveld. Ek word skielik weer bewus van God se nabyheid.[/caption]

Dan rehab toe.

Ruben ry in die gange rond met die rolstoele wat daar geparkeer staan terwyl ek en Jacques sinvolle gesprekke met Jackie probeer voer.

Ons wys vir hom foto’s van ons huis. Sy geliefde braaiplek, die TV-stel, die honde.

Ons kom agter Jackie praat met ons asof hy weer ’n seun is. Hy begin vrae vra soos “waar is my rugbybal?” “Is ek laat vir die oefening?" Hy praat oor ons skoolonderwysers en skoolvriende (ons het op skool begin uitgaan). Dis almal mense wat 20 jaar laas deel van ons lewens was.

Dis duidelik dat Jacques naderhand eerder met Ruben wil rolstoel-resies jaag, want kommunikasie met sy pa is beperk en onsamehangend. En ontstellend. Waar is sy pa heen?

[caption id="attachment_58155" align="alignnone" width="600"]Ons kuier by Jackie in die rehab. van links is Ruben, Jackie, ek en Jacques. Ons kuier by Jackie in die rehab. Van links is Ruben, Jackie, ek en Jacques.[/caption]

Dan begin die hallusinasies. Veral uit die armie. Hy was ’n valskermsoldaat en die weermag was dus destyds ’n beduidende deel van sy lewe. Maar skielik voel hy hy is in die spervuur. Sodra ek by hom kom, beveel hy my om hom weg te vat, want hy word aangeval. Hy hoor vliegtuie en geweerskote. En die mense om hom wil hom doodmaak. Hy beskryf met tye sy ontstellende belewenisse in die fynste besonderhede.

Ek probeer vir hom verduidelik dat dit sy verbeelding is . . . ons word nie aangeval nie. Sy reaksie is oorweldigend, want hy beleef dit intens. Hy vloek vreeslik en jaag my weg, skreeuend, ten aanskoue van besoekers wat ons met jammer oë aankyk.

Ek sit baie keer in die parkeerterrein en huil . . . tot dit voel of daar nie meer trane oor is nie.

Here, wat gaan aan? Help ons asseblief!

Dan ry ons huis toe. Huiswerk moet gedoen word.

Ons moet aangaan.

Miskien sal môre beter wees . . .

- Michelle Fourie

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.