snork

AS DIT by snork kom, is dit altyd die mans wat skuldig is. Toe ons kinders was, het ons die ooms op ons jagekspedisies met ’n bandopnemer opgeneem om vir hulle die volgende oggend te laat hoor hoe hulle in hul tente gesnork het.

Maar dat dit net mans is wat snags so raas, is nie die volle waarheid nie . . .

My vriendin Milena het vir João gelos omdat hy soos ’n wilde dier gesnork het. Dit het haar so bang gemaak dat sy al sommer die eerste aand van hul huwelik al uit die kamergesluip en in die sitkamer op die bank gaan slaap het. Die deure en mure van hul woonstel was te dun en later het haar ma diskrete uitnodigings aan haar dogter gerig sodat sy naweke alleen by hulle aan huis kon gaan uitrus. Dit het goed gewerk.

Gelukkig het João vir sy werk begin rondreis en die huwelik het ’n verdere ses maande gehou.

Snork is vir party mense angswekkend. Dis nie net die klank nie. Dis die feit dat die gesnorkery gewoonlik nie egalig is nie en ook nie die hele tyd dieselfde klink nie. Dit klink baie keer soos ’n trap wat kraak, of ’n venster wat oop en toe klap, voetstappe, ’n spook . . . Partykeer selfs soos ’n mens.

Baie jare later loop ek vir toe vir João in die Waterfront in Kaapstad raak en terwyl ons oor die ou dae gesels, vra ek toe wat van Milena geword het. João het nie geweet nie en hy erken toe ná al die jare dat al wat hy van haar kon onthou, was hoe vreeslik sy gesnork het.

En toe ek hom vra hoekom hy dan nie vir haar gesê het nie, was sy antwoord dat dit nie vir hom so belangrik was nie. Dit was sy tweede huwelik en haar snorkery was beter as sy eerste vrou se stink voete. Herinner dit jou aan ’n storie in jou eie familie? Ag toe, vertel vir my. __________________________________________________________________________________ Skokkende snorkfeite

Sleep-With-a-Snoring-Partner-Step-5

  • Mense wat saam met snorkers slaap, verloor sowat een uur slaap per nag en hul bloeddruk is hoër as gevolg daarvan.

  • Vier uit elke 10 mans snork. Drie uit elke 10 vroue snork.

  • 25 persent van die wêreld se bevolking snork.

  • Net in Amerika, Duitsland en Engeland is daar gesamentlik 70 miljoen snorkers.

  • Dis jou ouers se skuld dat jy snork. 70 persent van snorkers het die snorkery geërf.

  • ’n Hamster snork ook.

  • Mense verloor gemiddeld twee jaar van hul lewe deur na ’n snorkery te luister, sê die Britse Snorkvereniging.

 “Lag en die wêreld lag saam met jou, snork en jy slaap alleen.”

Anthony Burgess, skrywer

-  Janie du Plessis

Foto en illustrasie: WikiPhoto

Janie du Plessis Janie du Plessis is bekend as ’n TV-persoonlikheid, joernalis, sakevrou, motiveringsspreker, kankeroorwinnaar en toegewyde ma van twee seuns. HUISMOLES is haar blog vir Huisgenoot oor die wel en wee van gesins- en familielewens. Een van haar groot passies is om mense bewus te maak van dinge waaroor hulle dikwels te skaam is om te praat, sodat dit nog hartseer en pyn in families veroorsaak. Haar positiewe uitkyk op die lewe en hoe sy die uitdagings wat oor haar pad kom aanpak en oorkom met ’n glimlag en sin vir humor, bly ’n inspirasie vir baie mense. Neem deel aan haar gesprekke hier op Huisgenoot se blaaie of gesels saam op haar facebook-blad en webtuiste.