[caption id="attachment_56966" align="alignnone" width="486"]Vir wie kry 'n mens die skaamste: jou stoute kind of jou man wat hom bydam? Vir wie kry 'n mens die skaamste: jou stoute kind of jou man wat hom bydam? Foto: The Simpsons[/caption]

’n Brief daag op en die vrou beken dat sy skaam is vir haar familie en vra of ek kan help . . .

Ag mevrou, ons raak maar almal skaam vir ons familie, moenie worry nie.

As ek in die supermark loop en daai gillende kinders se ouers is so moedeloos, dan verstaan ek dit so goed. Slaan jy, kry jy skaam. Slaan jy nie, kry jy ook skaam.

Maar ten minste is dit nie ’n skande nie.

Daar’s ’n verskil tussen skaamkry en ’n skande. ’n Skande is iets waarvan jy later eers uitvind en dit is blywend. Jy het terapie nodig om dit uit jou kop uit te kry. Skaamkry kan ’n mens vergeet en skaamkry vir jou familie is eintlik net jou eie probleem want gewoonlik is dit iets wat jou ’n paar jaar later laat glimlag omdat jy dit verstaan.

Toe my oudste, Misha, klein was het sy pa hom uit pure uitputting voor al die mense in die vertreksaal van die lughawe ’n helse pak slae gegee. Ek kan nie onthou of ek skaam was oor my kind nie of skaam was oor my man nie. Nie een van die twee sal dit vandag eens onthou nie. My man omdat hy dood is, en my seun omdat hy klein was.

Ag, en wat van ouers! Hoe skaam ons ons nie vir hulle as ons tieners is nie? My ma het eenkeer in ’n naelloop by die laerskool so geval dat haar rok skoon bo oor haar kop beland het en sy disnis gelê het met haar bene uitgestrek en haar wit broekie wat vir die toeskouers blêr.

Ai, en my broer is eenkeer in die kas van die dameskoshuis gevind toe hy by sy meisie ingesluip het in die nag. Daar was ’n klop aan die deur van die koshuiskamer en toe hy gespring het om in die kas weg te kruip, was die kas te vol en al wat kon inpas was sy kop!

En ek? Ek het maar min dinge . . . Die enigste ding waaroor ek skaam is, is die helse balk in my eie oog.

- Janie du Plessis

Janie du Plessis Janie du Plessis is bekend as ’n TV-persoonlikheid, joernalis, sakevrou, motiveringsspreker, kankeroorwinnaar en toegewyde ma van twee seuns. HUISMOLES is haar blog vir Huisgenoot oor die wel en wee van gesins- en familielewens. Een van haar groot passies is om mense bewus te maak van dinge waaroor hulle dikwels te skaam is om te praat, sodat dit nog hartseer en pyn in families veroorsaak. Haar positiewe uitkyk op die lewe en hoe sy die uitdagings wat oor haar pad kom aanpak en oorkom met ’n glimlag en sin vir humor, bly ’n inspirasie vir baie mense. Neem deel aan haar gesprekke hier op Huisgenoot se blaaie of gesels saam op haar facebook-blad en webtuiste.