Moet jy jou kind ná matriek ’n brugjaar toelaat? Die bekende TV-aanbieder en vrou-van-vele-ander-talente Janie du Plessis begin vandag vir ons blog oor die wel en wee van gesins- en familielewens. Sy noem haar blog HUISMOLES en vandeesweek vertel sy hoe huiwerig sy was om haar jongste, 'spesiale' seun ’n brugjaar toe te laat, en hoekom sy vandag so dankbaar is sy het dit wel gedoen.

[caption id="attachment_54660" align="alignnone" width="600"]Janie en Benito die dag voor sy hom by die Warriors-kamp gaan aflaai het. Janie en Benito die dag voor sy hom by die Warriors-kamp gaan aflaai het.[/caption]

DIÉ tyd van die jaar is die gapjaar-debat in baie huise in volle gang. In ons huis was die argument ’n hewige een. Ek was sterk daarteen gekant. As dit nie was dat my ma, ’n oud-onderwyseres, my omgepraat het om my oudste seun, Misha (nou 22), ’n paar jaar gelede op ’n brugjaar te stuur nie, sou ek dit seker nooit gedoen het nie.

Uiteindelik was dit die beste besluit wat ek kon neem. In alle opsigte het dit hom van baie nukke en jeuke ontslae laat raak wat die een of ander tyd moes uit. Hy was nege maande weg van die huis af en wat ek nie kon sien nie, kon my nie pla nie.

Die eerste ding wat hy gedoen het, was om sy hare en sy sagte melkbaardjie te laat groei en ek weet nou, agterna, dat sy stapelvoedsel in daardie jaar meestal maar bier was. Nietemin, hy’t gekrap waar dit jeuk en hy is daardeur.

Toe is Benito in matriek, en verlede jaar hierdie tyd was ek ’n algehele wrak. Benito is nie soos sy broer nie en dieselfde opsie sou nie vir hom werk nie. Aan die ander kant was hy nog nie gereed om verder te studeer of ’n loopbaan aan te pak nie. Ek het nagte wakker gelê en my bekommer oor wat ek moes doen. Benito is my “spesiale” kind en was in ’n “spesiale skool” saam met ander “spesiale” kinders. Hulle noem die kinders leergestrem, maar ek het nog altyd net gedink hy is ’n bietjie eksentriek.

Op sosiale vlak was hy onvolwasse, baie loskop en onrealisties in sy verwagtinge en begrip van wat hy vir sy brugjaar moes beplan. Sodra hy ’n nuwe program op die Discovery-kanaal gesien het, wou hy dieselfde avontuur meemaak. Eers sou hy Rusland toe gaan om ysbokke of iets te skiet. Toe wou hy ’n huursoldaat word, en toe gaan goud myn iewers in ’n koue land. Sy brugjaardroom het selfs ’n draai gemaak op ’n olieveld in Irak.

Hoe meer ons gepraat het, hoe meer het ek besef dat my jongste seun eintlik maar net ’n jaar lank ’n held moes wees. Hy was daai outjie wat nooit die span gehaal het nie en die boelies het van graad 1 af hul tande vir hom geslyp. Hy moes eers ’n bietjie voel hoe dit is om te wen voor hy nog ’n tree kon gee en sy volgende lewensfase binnegaan.

En dit is hoe hy uiteindelik by die Warriors uitgekom het.

Die kursus het ’n ekstreme lewensavontuur beloof met besige dae wat gevul sou word met uiteenlopende aktiwiteite wat drie getikte bladsye in die brosjure vol gestaan het. Waardevolle lewenslesse, avontuur, dissipline en struktuur, plus hope en hope pret, was die ervaring wat ek gevoel het hy nodig het.

As ek nou terugkyk, kan ek skaars glo dat ek getwyfel het of hy daarby sou baat, want dis die beste belegging wat ek nog ooit gemaak het. Die verandering in my seun is verstommend. Dit waarvoor ek gehoop en gebid het, is ’n honderd keer meer teruggegee .

Warriors

Die Warriors-kursus is een van ’n paar in Suid Afrika. Dis ’n ekstreme avontuur vir jong mense en duur tussen sewe en 10 maande. Die aktiwiteite is baie uiteenlopend en die jong klomp word met elkeen uitgedaag om ’n ander les te leer. Gesond eet en gesond lewe en dink vorm die fondament van die kursus. ’n Normale dag skop so sesuur af met hardloop of fietsry, dan ontbyt en kamerinspeksie en dan teoretiese klasse soos noodhulp, naaldwerk, kook, joga, dieetkunde, entrepeneurskap, en nog baie meer.

[caption id="attachment_54671" align="alignnone" width="600"]Benito en sy mede-Warriors in Magoebaskloof. Benito en sy mede-Warriors in Magoebaskloof.[/caption]

In die middag is dit weer sport soos abseil, fietsry of swem. Al die kinders neem aan alles deel, al kom hulle net halfpad deur die aktiwiteit.

[caption id="attachment_54674" align="alignnone" width="600"]Fietsrytyd Fietsrytyd[/caption]

Baie van die maande reis hulle deur die land en bly in tente in die bos, op die strand of in ’n karavaankamp. Die hoogtepunte is die oorlewingsoefeninge, diepseeduik, valskermduik, vlieërplank ry en talle staptoere en natuurkampe wat hulle in die middel van nêrens opslaan.

Toe ons hom Februarie vanjaar in die woude van Magoebaskloof gaan aflaai het, het ek met ’n knop in my keel weggery. Die basiskamp bestaan uit ’n paar houthutte in die middel van ’n skilderagtige woud in die berge bokant Tzaneen. Elke houthut huisves vier mense en het ’n klein badkamertjie en een lig in die dak. Die meisies se hutte is ’n entjie weg van die seuns af. Buite op die stoep staan die fietse, hang die drafskoene en ’n hangmat, en binne-in die hut is daar skaars plek vir vier mense om te staan. Aan die een kant van die grasperk is ’n afdak met ’n oop kombuis en hier word gekook, geleer en gesels sonder dat ’n grootmens in sig is.

Die instrukteurs is almal jong mense wat lewensafrigters is en die positiwiteit waarmee elke dag aangepak word, is aansteeklik. Tumi en Ruan hou hulle besig en Rowena werk met hul koppe. Oom Rudi en tannie Renè, die ouers van die Warriors, bly ver van almal af bo-op die berg en hou alles met ’n valkoog dop. Die kinders kom van oor die wêreld heen. Almal word in spanne gedeel en beurte word gemaak met die kook, onderhoud van die kamp en skoonmaakpligte. Selfone word slegs een keer per week vir ’n paar uur uitgedeel en namate die weke verbygegaan het, het ek verstom besef dat hy ál minder huis toe bel. Hy het gevorder van bang tot braaf, van alleen en verlore tot gelukkig en uiteindelik baie gelukkig.

[caption id="attachment_54685" align="alignnone" width="600"]Regsom van links bo: Lekker vuil in die veld, by die damwal af, kamp opslaan in die middel van nêrens, en van bang na braaf! Regsom van links bo: Lekker vuil in die veld, by die damwal af, kamp opslaan in die middel van nêrens, en van bang na braaf![/caption]

Benito het geleer dat alles in die lewe moontlik is as jy net daarin glo. Hy het geleer dat hy spesiaal is en dat hy ook belangrik is. Hy het die waarde van familie begin verstaan en die selfsug van die bedreigde mensie wat hy was, is weg. Voorheen het hy sy frustrasie en woede tydens argumente moeilik binnegehou, nou is dit heeltemal weg.

Met sy tweede vakansie by die huis het my skaam, bleek en maer seun met sy fobies en sosiale eienaardighede bruingebrand in die sitkamer gesit en ons met blink oë en ’n glimlag vertel van die gevorderde diepseekursus wat hy in Mosambiek voltooi het, net nadat hulle in die Drakensberge in die sneeu byna dood is van die koue. Hy het geesdriftig vertel hoe hy uitgesien het na sy derde semester, die valskermduik wat voorlê en die oorlewingsmaraton wat in die berge gaan plaasvind.

[caption id="attachment_54691" align="alignnone" width="600"]Diepsee duik (links) en by ’n waterval af in die Drakensberg (regs) Diepsee duik (links) en by ’n waterval af in die Drakensberg (regs)[/caption]

Ek het hom gevra wat die les is wat hy geleer het. Sy antwoord was: “Mamma, daai storie van die skilpad en die hasie. Ek’t geleer dat ek die skilpad is, maar ek is nie meer bang nie. Ek kan enigiets doen met net ’n rugsak op my rug, stoksielalleen”.

Met die grootmaak van ’n man is daar partykeer moeilike stadiums waardeur ’n mens moet kom. Warriors was die Red Bull in Benito se lewe. Dit het vir hom die vlerke gegee wat ek nooit kon nie.

Benito toe en nou

 - Janie du Plessis

Janie du Plessis Janie du Plessis is bekend as ’n TV persoonlikheid, joernalis, sakevrou, motiveringsspreker, kankeroorwinnaar en toegewyde ma van twee seuns. HUISMOLES is haar blog vir Huisgenoot oor die wel en wee van gesins- en familielewens. Een van haar groot passies is om mense bewus te maak van dinge waaroor hulle dikwels te skaam is om te praat, sodat dit nog hartseer en pyn in families veroorsaak. Haar positiewe uitkyk op die lewe en hoe sy die uitdagings wat oor haar pad kom aanpak en oorkom met ’n glimlag en sin vir humor, bly ’n inspirasie vir baie mense.Neem deel aan haar gesprekke hier op Huisgenoot se blaaie of gesels saam op haar facebook-blad en webtuiste.