Ek weet nie hoe lank ons so na die gapende wond in die aarde staan en staar het nie. Sebastian, toe 21 maande oud, op my skouers met sy vingertjies deur die veiligheidsheining gedruk.

Ek was onbewus van die Amerikaanse nuusfotograaf wat ons afneem tot hy met my kom praat het.

Wie is julle, waar is julle vandaan? Het julle ’n geliefde hier verloor? Hy het net so effens afgehaal gelyk toe hy besef ek het geen roerende verhaal van verlies hier by Ground Zero om te deel nie.

Op 11 September 2001 het ek en my kollegas in Beeld se nuuskantoor in Johannesburg vasgenael gekyk hoe vliegtuie soos missiele vol mense na die World Trade Center in New York geslinger word.

Oor en oor het die brande torings op die televisieskerm ineengestort.

In daardie herhalende oomblikke van kykweer-terreur het ek nooit vermoed dat ek net meer as ‘n jaar later self by Ground Zero sou staan as Media24 se verteenwoordiger in Washington, DC, nie. Op die oog af was net ’n omheinde konstruksieterrein, ’n reuse-uitgrawing voor jou voete. Maar die kaartjies met woorde van smart en plastiekblomme en teddiebeertjies aan die heining het die ware storie vertel. Ground Zero was ’n oop, le? massagraf.

A photo posted by @insfredgram on

Die oorblyfsels van die meeste van die 2 983 slagoffers is met die ineenstorting van die torings deur staal en sement fyngemaal en onopspoorbaar met die puin vermeng.
En mettertyd saam met die puin verwyder en elders gestort. Dit was ’n plek van onaardse, gewyde stilte waardeur downtown Manhattan se klankbaan van motortoeters nie kon dring nie. In my drie jaar in Amerika sou ek keer op keer na Ground Zero terugkeer. Dit het my soos ’n magneet getrek. Nader jy Manhattan uit die lug, per pad of per spoor sien jy die haasbek in die betonlandskap waar die wolkekrabbers soos twee tande uitgeslaan is. En soos jy die omgewing rondom Ground Zero en die stad verken, sien jy hou die oorblyfsels van daardie dag uitgekring het: By die eeue-oue St. Thomas-kerk, waar stukke van rekenaars en ander puin tussen die ou grafstene neergere?n het en net so gelaat is as ’n soort museum.

In die diners in die finansi?le distrik, waar Ground Zero se konstruksiewerkers in smerige oorpakkke en landsvlag-bandannas om hul koppe gewoel saam met die Wall Street-yuppies in besigheidspakke eet.

En in die Ierse en Poolse buurte van Queens en Brooklyn, die tuiste van baie van die brandweermanne en polisiemanne wat in die torings gesterf het.

Hier sien jy hulle foto’s, jonk, laggend en vol lewe, in die vensters van die werkersklas-kroe? waar hulle saam met hul makkers gedrink het.

Ground Zero was maar net die sigbare deel van die diep letsel wat 9/11 op die Amerikaanse psige gelaat het. Vrees, woede en patriotisme was die oorheersende simptome. Amerikaners is ’n uiteenlopende spul. ’n Ou van New York en ’n ou van Texas kan netsowel van verskillende planete kom. Hulle verstaan mekaar nie en laaik mekaar nie en hulle uitkyk verskil hemelsbreed. Maar word hulle land van buite bedreig, staan hulle saam – en hulle wys ditmet hul landsvlag. Na 9/11 was Amerika ’n see van wapperende vlae – motors, voorstedelike huise, woonstelvensters, brûe oor snelwe?, restaurantvensters, kantoorgeboue, reus-vlae wat van hyskrane af hang.

A photo posted by Amanda ? (@x0x0mandaa) on

Saam met die patriotisme was daar die gemeenskaplike rou – en die behoefte aan wraak. Bom die bliksems wat dit aan ons gedoen het. Wys hulle jy mors nie met Amerika nie.

Die nuanse van wêreldpolitiek, waarom dit gebeur het, was nie deel van die sypaadjie-diskoers nie. En dan die vrees: waar en wanneer slaan Osama bin Laden weer toe? Op die moltrein, by ’n bofbalwedstryd?

Lees ook: Die afgryslike dag van die ‘ystervoëls’

Amerikaners het hul dae volgens ’n kleurkode begin leef wat deur die federale regering ingestel is: groen vir geen bedreiging; geel vir verhoogde bedreiging; rooi vir kritieke bedreiging.

In my drie jaar in Amerika sou dié gevaarligte gereeld tussen rooi en geel wissel, maar nooit groen word nie. Patriotisme, vrees en ’n nasionale woede kan gevaarlike wapens wees om in die hande van politici te plaas. George W. Bush en sy kliek het dan ook dié emosionele snare hard getokkel terwyl hulle ’n vals klagstaat saamgestel het ter regverdiging van die inval in Irak. Dit was onwerklike tye. Skerpskutters op die dakke van regeringsgeboe, lugafweermissiele in lowergroen parke, Blackhawk-helikopters wat nag en dag oor ons huis in Springfield Drive dreun. Enigiemand in uniform kry ’n byna goddelike status.

A photo posted by Fulvio Pieri (@fumeblack) on

“Wapens van massavernietiging” oorheers mense se gedagtes en gepsrekke.

Gasmaskers en boetiek-bomskuilings vir jou huis is op die internet te kry. Leer ken die ontruimingsplan en ontsnaproetes vir jou kontrei!

Vroue raak onsteld oor gerugte dat die skandeermasjiene by lughawens deur hul klere en onderklere kan “sien”.

’n Informele verbruikersboikot teen Franse wyne en kos omdat die land nie Bush se koalisie teen Irak steun nie. “French fries,” soos slaptjips voor 9/11 algemeen in Amerika genoem is, word tot “Freedom Fries” herdoop en Franse toeriste kla hule voel nie welkom nie.

Oor dit alles kyk die standbeeld van Lady Liberty, ’n geskenk van ’n bewonderende Frankryk aan ’n jong Amerikaanse nasie, swygend toe.

Op die talle gesinsuitsappies na die die skilderagtige dorp Annapolis op die oewer van die Chesapeake-baai het een mylpaal ons altyd opgeval: die klein plaaslike lughawe langs die snelweg, waar twee van die 9/11-vliegtuigkapers gaan vlieglesse neem het voor ter voorbereiding vir die terreuraanvalle.

Bush bid alleen in die donker tuin van die Withuis, spoeg sy propagandamasjien uit net voor die eerste Amerikaanse kruisermissiel gelanseer word, 33 maande na 9/11.

Dat Saddam – monster wat hy was – niks met 9/11 uit te waai gehad het nie, is nou geskiedenis.

Ook dat daar geen wapens van massavernietiging was in Irak waarmee Saddam van plan was om Amerika en Europa mee aan te val nie. Bush se inval in Irak het ’n nuwe oproep tot ’n heilige oorlog vir Moslems regoor die wêreld geword.

Soos gewone Amerikaners se ontnugtering oor die bloedige gemors in Irak toegeneem het, is die teelaarde geskep vir ’n geskiedkundige oomblik – die verkiesing van die eerste swart Amerikaanse president, Barack Obama, met sy inspirerende boodskap om ’n verdeelde Amerika weer heel te maak.

Dis ’n ou politieke laai van die Republikeine – veral sedert 9/11 – om te waarsku dat ’n Demokraat in die Withuis te slap sal wees om Amerika teen sy vyande te beskerm.

Maar ironies was dit Obama wat vanuit die beheersentrum van die Withuis met regsteekse satellietvoer toegekyk het hoe Amerikaaanse spesiale magte sy bevel uitvoer en Osama bin Laden, die meesterbrein agter 9/11, in sy skuilplek in Pakistan doodskiet – net voor die 10de herdenking van die terreuraanvalle.

By Obama het Hillary Clinton – vandag die eerste vroulike presidentskandidaat – met een hand oor haar mond gesit.

Die dood van Bin Laden het gaandeweg ook die verbrokkeling van sy terreur-franchise Al-Kaïda beteken – maar terreur het in vele ander gedaantes verrys, waarvan die Islamitiese Staat, oftewel Isis, vandag die mees gevreesde is. Die bom- en skietaanvalle aanvalle in Parys en elders in die wêreld is selfs vreesaanjaender as dié van 9/11, want dis nie meer hoogs simboliese teikens soos die World Trade Center, die Withuis en die Pentagon wat geteiken word nie.

Dis hotelle, vakansieoorde, restaurante, konserte, redaksiekantore . . .

Enige tyd, enige plek, deur klein groepies aanvallers wat onafhanklik van ’n sentrale struktuur of plan werk – en dus onvoorspelbaarder is. Saam met ’n nuwe generasie militantes en terreur in nuwe gedaantes het ’n nuwe psigose van vrees gekom – en die haters wat die vrees uitbuit. Slim politieke ontleders het baie te sê oor hoe dit kon gebeur dat iemand met die walglike sienings van ’n Donald Trump vandag ’n Amerikaanse presidentskandidaat is. Die antwoord moet jy vyftien Septembers gelede by daardie gat in die grond gaan haal.

A photo posted by San (@sangabrielle) on

- Deon Lamprecht