Al is dit seker nie ’n welbekende feit nie, weier ek om boeke te lees wat kwaai onder kritiek deurgeloop het. Tog kyk ek na enige denkbare rolprent wat kundiges as verskriklik swak beskou.

Al ooit The Breed of selfs The Reef gesien? Toemaar, mense wat saak maak, het dit ook nie gesien nie. Maar as jy jou ooit wil verlustig in ’n rolprent oor bloeddorstige honde wat aan ’n mensgemaakte soort hondsdolheid ly of ’n pellie-pellie-rolprent oor ’n boot wat omdop in water wat wemel van haaie, kan ek hierdie twee rillers hoogs aanbeveel.

Toe een van my heel beste vriende, ’n hoogs intelligente omgewingskonsultant, voorstel ek lees The Twilight Saga deur Stephenie Meyer, het ek beleefde geweier. Ek kon my net nie sover kry om ’n vampiertrilogie te lees wat op jong volwassenes gemik is terwyl ek ná wat soos jare voel steeds met David Foster Wallace se epiese roman Infinite Jest worstel nie.

Maar het ek gekyk na al vier daardie weersinwekkende rolprente wat gelei het tot die geboorte van die Bella-Swan-Edward-Cullen-fenomeen? Natuurlik!


Ek meen, ’n kind met die naam Renesmee (Het hulle gom gesnuif toe hulle dit uitgedink het?) is uit hul verbintenis gebore; hoe kan jy nou nie daarna kyk nie?

Dit was afskuwelik vermaaklik en onbedoeld snaaks. Die oomblik wat ek die meeste geniet het, was toe die uiters aantreklike Edward (stywerig uitgebeeld deur Robert Pattinson) glinster in die sonlig wat hy so gedienstig vermy; hy is immers ’n vampier. Sy bleek lyf begin soos ’n disko-bal by ’n partytjie in die 1970’s lyk. Dan draai hy na sy geliefde Bella (vertolk deur Kristen Stewart) en sê: “Kyk na my, ek is ’n monster.”

Toe genoemde vriend dus begin lees aan die pittige bewonderaarsfiksie (’n antwoord op die kuise liefde tussen Bella en Edward) het ek sommer geweet ek gaan toustaan om na Fifty Shades of Grey te gaan kyk wanneer die trefferreeks onvermydelik uitgereik word as ’n supertreffer-rolprenttrilogie.

En toe die koudbloedige Christian Grey (vertolk deur die smeulende Jamie Dornan) mymerend aan die verwarde Anastasia Steele (liefdevol deur Dakota Johnson vertolk) verklaar hy is “50 shades of f*****-up”, is my lagbuie dikwels onderbreek deur vriende wat my met die elmboog in die ribbes stamp om my in die teater te gedra.


Ek het selfs nie eens omgegee dat Jamie se wisselvallige aksent in sommige tonele ’n sterk Ierse ondertoon gehad het nie, want ek was 50 skakerings oortuig. Sal ek die opvolgprent gaan kyk? Natuurlik!

Bewonderaars van die romans was glo teleurgestel deur die gebrek aan eksplisiete sekstonele in die eerste aflewering, Fifty Shades of Grey. Die regisseurs wou duidelik die grafiese inset verhoog in Fifty Shades Darker, maar hulle het vir seker die standaard verlaag wat die werklike ontknoping betref.


’n Samevatting van die intrige (moenie bekommerd wees dat ek ’n kinkel gaan verklap nie, want daar is regtigwaar nie iets om te verklap nie) sou soos volg lui: Anastasia oorweeg dit om die blomme weg te smyt wat Christian vir haar gestuur het (vaas en al). Sy bedink haar dan (het sy gekliek glasstukke gee ’n gemors af?).

Hulle raak versoen (h’m, het hulle dieselfde skakering pienk lipstiffie aan?). Bla-bla-bla. Ongebreidelde sekstoneel. Iemand is amper bokveld toe. Openhartige sekstoneel. Demonstreer opwindende seksspeelding.

Bla-bla-bla.

Aksie in Christian se geheime sado-masochistiese kamer. Iemand kom amper om. (Dalk ’n wenk vir die rolprentmakers: Jy kan nie ware spanning skep as die gehoor weet die akteurs het hulle reeds tot die opvolgprent verbind en dat hul dood dus hoogs onwaarskynlik sal wees nie. Tensy julle reeds oorweeg om hulle in vampiere of zombies te verander wat in die derde aflewering uit die dood herrys. Dalk ’n verskriklike idee.)

Ná genoemde noue-ontkomingstoneel gaan stort hulle met hul klere aan. Bla-bla-bla. Iemand verskyn wat Christian se hand in die as kan slaan (en dit berei ons onbeskaamd voor op ’n derde rolprent), en dan is dit klaar.

Was dit sleg? Ja. Het ek dit geniet? Jy vra nog!

Op die ou einde weet almal tog as jy ’n swak fliek geniet, verbeter jou bui van 50 skakerings van die donkerste grys tot die vrolike pienk skakerings wat die bemindes se lippe versier. (En die gatskop-klankbaan, die manier waarop Jamie daai blou jeans dra en ’n onweerstaanbare stoppelbaard was ook nog nooit te versmaai nie.)