Anrich Herbst wonder hoekom hy so baie omgee oor hoe hy lyk en wat ander van hom dink – hy behoort immers vere daarvoor te voel.

VIR die meeste van ons is dit belangrik om goed te lyk. Die vere maak nie die voël nie, maar ’n mens voel tog beter oor jouself as jy van die prentjie in die spieël hou. Of dalk is dit die beheptheid met die eie ek wat hier deurslaan, en in my geval het die bekendheid wat daarmee gepaardgaan om ’n TV-‘ster’ te wees dit nie makliker gemaak om minder in myself belang te stel nie! Ek onthou die verbasing (en groot verligting) toe ek eendag in 1999 op ’n roltrap in Eilat, Israel, agterkom niemand kyk vir my nie!

Ek het my lot egter grotendeels aanvaar. Uit die aard van die saak deel nie almal die onnatuurlike aandag wat met bekendheid gepaardgaan nie, maar my belewenis en interpretasie van my wêreld vergelyk meestal goed met dié van my vriendekring, en ons spot almal lekker met mekaar se boeps.

Soms wens ek ek het ’n bietjie minder omgegee oor hoe ek lyk. Dat ek met meer gemak die dele van my lyf (en dalk ook my persoonIikheid) wat nie heeltemal so fatsoenlik is nie, bloot kon aanvaar en ten toon stel. Vir my is dit egter moeilik om dit te doen omdat ek hoë standaarde stel en baie omgee oor wat ander van my dink. Maar daar’s ’n deel van my wat nie meer soveel wíl omgee nie, wat ’n veer wil voel vir hoe ek lyk en wat ander van my dink. Veral vir wat ander van my dink! En dalk is dit juis hier waar ek die spyker op sy kop slaan. Ek het nodig om ’n bietjie ’n veer te voel vir wat ander van my dink!

Maar hoekom is dit dat ek tog nog soos ’n rebel voel as ek sulke gedagtes koester? Die imposter aan die binnekant hou daarvan om ’n front voor te hou en dinge voor te gee. Dis ons taak om die imposter te ontmasker en met hand en tand te beveg.

Dus: ‘Laat jouself gaan’ en omarm jou ware self wat van nature na vore wil tree. En stoot jou boep so nou en dan uit!

En, sterkte.

* Anrich Herbst is ’n akteur, stemkunstenaar en ’n omroeper by die Kaapse radiostasie Kfm.

Lees Anrich se vorige blog:

Anrich Herbst: Pa’s, maak tyd vir jouself…