FRANCOIS . . . Ek ontmoet hom Vrydag, want hy het gesê hy sal vir my liefdesbriewe skryf. So eenvoudig is dit. Ek stel nie belang in geld nie, ek stel nie belang in voorkoms nie – ek soek net my sielsgenoot. Meneer Romanties. Meneer Mal oor My. Meneer Skryf Liefdesbriewe Omdat Hy Kan.

Hy sit reeds as ek opdaag. Ja, ek soek nie ‘’ aantreklike man nie, maar genade, mooi was nog nooit lelik nie. As hy glimlag, helder sy hele gesig op en ek smelt.

“Jy lyk glad nie soos jou foto nie,” blaker ek dit uit.

Ek bedoel eintlik hy lyk veel aantrekliker. Sy wenkbroue verf die plafon, so hoog skiet hul op.

“Dis nie juis ’n intelligente ding om te sê nie,” merk hy koel op. “Natuurlik gaan ek nie lyk soos my foto nie. Dis tog net visuele uitbeelding. Ek het darem ’n beter opmerking van ’n skrywer verwag.”

In my gedagtes skeur ek al sy bleddie liefdesbriewe net daar op.

Van daar af voel dit of ek op die afgrond staan en aftuimel, aftuimel hel toe. Eers vermaak hy my met sy herinneringe aan sy dae as eerstespan-rugbyspeler. Dertig jaar gelede. Ek kan voel hoe my brein – veral daardie kant wat vervelige feite moet baasraak – afskakel. Die kreatiewe kant is besig om oortyd te werk – aan planne om vinniger weg te kom.

Ek het my storie net agtermekaar toe hy vir ons ’n pizza bestel. Daarna trek hy weg met sy staaltjies oor die weermag. Natuurlik was hy in die parabats. Natuurlik. Onwillekeurig dink ek aan vlermuise – sien ek klein bats met piepklein valskermpies wat uit die lug uitspring. As elke man wat sê hy was in die parabats regtig daar was, dan was dit een enorme groot eenheid. Dis al wat ek wil sê.

Die pizza daag genadiglik in die middel van die valskermstories op en ek kry so paar happe in voor ek met my verskoning vorendag kom: Ek het ’n blogsperdatum waarvan ek vergeet het en moet dringend dit gaan skryf.

“O, oukei,” sê hy. “Ek moet sê dis moeilik om jou te peil. Jou oë lyk so onpeilbaar, so half glasig.”

Dis glasig van verveling, wil ek eers sê, maar hou eerder my mond. Sodat ek so gou moontlik kan wegkom.

Nodeloos om te sê is my hele naweek goor. Ek twyfel oor mans, ek twyfel of ek ooit liefde gaan vind.

Dan ontdek ek ’n nuwe liefdeswebtuiste. Hier is almal min of meer my ouderdom, en lyk hul nie soos bats from hell of na dié met valskermpies op nie. Ek sit my profielfoto op.

Maandagaand kontak hy my op die bloute.

“Ek is mal oor jou oë. Ek kan nie ophou na jou foto’s kyk nie.”

Sy profielnaam is B. Sy foto piepklein. Dit vertel my nie veel nie. My vingers vlieg oor die rekenaar en ek tik en klik tot ek by sy groter foto uitkom.

Op sy foto staan hy op ’n krans en my maag gee ’n paar draaie. Agge nee. ’n Buitelug-mens. Presies wat ek nie nodig het nie.

Hy is Afrikaans. Hy is geskei. Hy het twee kinders. Hy is ’n paar jaar ouer.

En hy is skielik aanlyn.

Ek bedinges my omtrent. Dis asof hy kon sien ek kyk vir hom. Waar ek in my bed sit met die laptop op my skoot, trek ek die lakens hoër teen my ken op. ’n Mens weet nooit nie.

“Jy fassineer my,” skryf hy.

En daar begin die gesprek.

Ek dink die laaste tyd baie oor sielsgenote. Dis heel verbasend hoe baie mans daarbuite sê dat hulle vir een soek. ’n Paar dekades gelede, toe ek enkellopend was, het mans begin hiperventileer as jy die woord sielsgenoot net geuiter het. Deesdae knip niemand ’n oog nie. Maar dan weer: Dit kan natuurlik net ’n foefie wees om jou met ’n stywe riem te vang (met permissie gesê).

B vertel dat hy ’n sielsmaat soek. ’n Vrou wat saam met hom kan sit in sy huisie by die see. Hy sal sommer die huisie koop. Net daar.

“Ek sal jou onder die sterre bad en dan dra na ’n groot bed . . .”

My hart gaan staan. Dan klop dit weer. Maar die ritme is ’n wals. My hart dink al weer sy is Aspoestertjie op die bal en dat haar prins Sjarmant opgedaag het.

Hou op wals, jou stupid sot, raas ek met my hart. Elke keer begin jy dans en dan trap die man net op jou tone. En dan kom huil jy agterna by my.

Ons praat die hele dag lank. Hy soek liefde. Iemand wat omgee. Iemand om sy lewe mee te deel. Hy dink ek is anders. Oorspronklik. Uniek. Selfs perfek vir hom.

Ek begin onmiddellik fout soek.

Met hom self kan ek nie fout vind nie. Hy klink opreg. Goeie hart. Dan stuur hy vir my ’n gedig. Dis hartverskeurend mooi. Ek vlieg onmiddellik terug na sy profiel. Iewers moet daar fout wees . . .

Dan vind ek dit. Onder sy status het hy geskryf dat hy welgesteld is. Aha! Watter soort man skryf sy geldstatus neer? Net ’n man vir wie dit baie beteken. En ek was juis in my vorige verhouding in ’n situasie waar geld en welgesteldheid ál meer begin beteken het. Ryk mans staan my net nie aan nie.

“Ry jy ’n fênsie kar?” vra ek. Hy kom onmiddellik agter ek is teleurgesteld.

“Ek sal dit verkoop.”

“Ha ha,” snork ek. “So watter kar is dit?”

“Wel, ek is nou te bang en sê vir jou wat ek ry. Maar ek sal die kar gaan inruil, ek belowe.”

“Kry dieselfde een as myne, ’n Hyundai 110.”

Veel later duik daar egter ’n probleem van ’n meer logistieke aard op. Hy is in Durban vir sake. ’n Week lank. Sy een maatskappy is daar. Weer ruk ek my hart van die dansvloer af en gaan plak haar op die stoel neer. Ryk mans – soos my vorige man – is mans wat hard werk. Hulle het nie tyd vir ’n mens nie.

Ek gaan slaap met ’n swaar hart. Dinsdag lui my foon.

“Ek is op die lughawe.”

“Ek glo jou nie!”

Hy stuur vir my onmiddellik ’n foto van die lughawe.

My hart storm terug dansvloer toe en begin hip-hop.

“Ek vlieg af om jou te sien. Ek moet weet.”

“Wat weet?” vra ek.

“Ek weet nie. Maar ek moet weet. Hoe jy voel . . .”

Maar al wat ek twee uur later voel terwyl ek in die restaurant sit en wag, is angs. Dis aaklig. Senutergend. ’n Man los sy besigheid, vlieg al die pad om te kom kyk of jy die “regte een” is . . . Ek voel hoe die druk op my toesak. Druk . . . en sweet!

Eers ignoreer ek dit. Ek is nooit iemand wat baie sweet, of eens na sweet ruik nie. Die sweet wat egter skielik op my lyf uitslaan, stink so dat selfs die knoffel op die pizzas op die tafel langsaan se ogies begin traan.

Hoekom nou?

Dan sien ek hom deur die groot venster van Primi Piatti aangestap kom. Ek kan hom nie miskyk nie, want hy ry in ’n Hyundai 110. Hy het wraggies presies dieselfde kar as myne gaan huur! Weer kan ek voel hoe die angssweet uitbars . . .

Ek staan op as hy instap en wil hom omhels, maar onthou dan van die sweet. Ek klap my arms styf teen mekaar. Hy gee vir my ’n bos laventelblomme – presies dieselfde blom waarvan hy die vorige dag vir my ’n foto deurstuur het.

erla2

Ek wens ek kan die blomme onder my stinkende armholtes vee sodat die sweet kan verdwyn. Ek kan glad nie konsentreer nie. Glad nie.

Hy het die mooiste oë. Ek verkyk my daaraan. En die mooiste baadjie. Ons oë ontmoet. En ek weet . . .

Hy is nie die een nie.

Ek weet nie hoekom ek so dink nie, maar ek dink so. Hoekom voel ek nie dieselfde opgewondenheid as wat ek die vorige twee dae gevoel het nie? Hoekom voel ek so gespanne? So angstig? So asof alles op die spel is – of dalk niks nie? Ek probeer ontspan. Ek probeer, maar al waaraan ek kan dink is dat hy seker so vies moet wees dat hy al die pad afgevlieg het vir niks nie.

Die res van die middag gesels ons, en dit begin darem voel asof ek ophou sweet het. Ons praat oor die Uilhuis. Oor ons kinders. Maar min oor die liefde. Glad nie oor sielsgenote nie.

Dan is dit tyd vir hom om terug te vlieg. Ek is lus en huil. Ag, ek lieg. Ek huil wel. Want hoekom het ek nie die vonke gevoel nie? Waar was Kupido? Waar?

Volgende keer sal ek meer voorbereid wees – met reukweerder.

– Erla-Mari Diedericks

Hooffoto: Rob op Flickr

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com.

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs:

’n Foto spreek 1 000 woorde

En hier word ek ’n vampier

Ek en die blommeverkoper

Die stories wat geskeide mans vertel!

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn