Huisgenoot het Sasha gekontak en hier is haar storie:

Ek soek my pa vandat ek in gr. 4 en 10 jaar oud was. My pa is ’n Duitser en my ma was net 17 jaar oud en nog op skool toe sy swanger raak met my. Sy was ’n belowende atleet, maar my biologiese pa, wat veel ouer as sy was, het toe uit die prentjie verdwyn. Toe hy haar los, moes sy skool los.

Ek het by my ma en ouma grootgeword. My ma het ’n nommer van my pa gehad. Ek het die nommer op ’n stuk papier geskryf, wat ek elke liewe dag van my lewe aan my lyf in my skooluniform se sak gedra het.

Ek het my pa vir die eerste keer van aangesig tot aangesig gesien toe ek agt jaar oud was. Ek en my ma het hom by die winkels raakgeloop in die plek waar ons gebly het. Hy was ook altyd daar naby. Ek het toe gesien ek is my pa se ewebeeld. Daar is geen manier dat hy nie geweet het ek is sy kind nie.

In gr. 4 het ek hom vir die eerste keer probeer bel. My vriendin het haar pa van ’n telefoonhokkie gebel en hulle het so ’n lekker gesprek gehad en ek was so jaloers. Toe dink ek: Maar wag, ek het mos ook ’n pa en ek het sy nommer en ek gaan hom bel. Toe hy die foon optel, het ek vir hom gesê wie ek is. Ek het vir hom gevra hoe dit met hom gaan. Hy het geantwoord: “Hi, ek is reg. Tot siens.” En toe het hy die foon neergesit.

Toe ek ná skool by die huis kom, was my ma daar. Dit was ’n verrassing aangesien sy veronderstel was om by die werk te wees. Ek het in daardie stadium by my ouma gebly. My stiefpa en ma is getroud toe ek agt jaar oud was en ek het tot ek 13 jaar was by my ouma gebly. Dit is omdat ek aan die begin gesukkel het om my stiefpa te aanvaar.

Ek was dus verras toe my ma by my ouma se huis is. My ma het my gevra of ek my pa gebel het. Ek het vir haar gesê ek het. Sy het gesê sy het so gedink aangesien hy ’n klomp geld in haar rekening inbetaal het. Oor die jare het hy net R500 per maand vir my onderhoud betaal, wat nie eens my skoolfonds sou dek nie. Maar ek het nooit sy geld gesoek nie. Ek wou net met hom praat – sy stem hoor.

Nadat ek gebore is, het my ma twee werke gehad om vir my te kon sorg en in die beste skole te hou. Dit het so aangehou toe sy met my stiefpa trou. Hy was ’n baie goeie man en sou kilometers werk toe stap sodat daar genoeg geld vir my busgeld skool toe was.

Toe ek in matriek was, het my ma my pa gebel en gevra of hy my universiteitsgeld sal help dek. Hy het gesê hy het nog kinders en het nie die geld nie. Sy het gevra of hy dalk R150 kan betaal vir die gebruik van ’n mooi motor om my na my matriekafskeid te neem. Hy het gesê hy het dit ook nie. Wie kan nie ’n plan maak om R150 vir hul eie dogter se matriekafskeid by te dra nie? Ek het nooit die geleentheid gehad om universiteit toe te gaan nie, maar dit was ook oukei. Weer het dit nie vir my gegaan oor die geld nie. Ek wou net hê hy moet deel wees van my lewe.

Eendag, toe ek reeds uit die skool is en ’n goeie werk in Kaapstad kry, het ek hom weer gebel. Ek wou hom van my nuwe werk vertel en hom na my 21ste verjaardagpartytjie nooi. Hy het net kortaf gesê: “Ek is nie in die land nie,” en die foon neergesit. Ek was verpletter.

Drie maande voor ek getroud is, het ek my man se Islamitiese geloof aangeneem. Ek het my Duitse geboortenaam na Sasha verander en my man se van aangeneem. My man weet van die pyn diep binne my – my hunkering om ’n band met my pa te vorm.

Oor die jare op Vadersdag of Kersdag, toe ek dit nog gevier het, sou ek in die badkamer verdwyn en op my knieë gaan. Ek sou God vra om vir my pa ’n boodskap te gee om te sê ek dink aan hom. Vandag nog dink ek elke dag aan hom. Ek weet nie hoekom nie. Ek wens hy kon net een keer vir my ja sê.

Ek sien op Facebook hy is gelukkig met sy tweede vrou en neem haar en hul honde met vakansie.

Januarie vanjaar het ek my pa se naam gegoogle. Die naam van sy onderneming het opgekom. Ek was eers nie seker of dit syne is nie – toe sien ek sy telefoonnommer.

Dieselfde een wat ek al die jare gehou het. Ek en my man bedryf ’n suksesvolle supermark en ons verdien goeie geld. As ek my pa net kon vra: Hoe het hy my ma ontmoet? Ek het haar nooit veel uitgevra nie, want ek kon in haar gesig sien dit is te seer. My enigste droom is om hom te leer ken, waar hy grootgeword het en sy belangstellings.

Ek en my man het sy onderneming gaan soek, maar verdwaal en by ’n ander soortgelyke onderneming uitgekom. Die eienaar het vir ons gesê hy ken my pa en het gehoor hy is ’n week gelede oorlede. Weer was ek verpletter. Ek het steeds besluit om na sy onderneming te gaan soek; dalk kon ek met sy kollegas of vrou praat. Miskien sou een van hulle my meer oor my pa kon vertel.

Hy was daar toe ek daar aankom. Sy vrou ook. Ek was verlig om te sien hy lewe nog. Hy het sy vrou verjaag en my gevra om sy huwelik te respekteer. Ek het omgedraai ná nog ’n teleurstelling om te probeer uitreik. Ná 25 jaar word ek steeds weggesteek. My seuntjie is nou twee jaar en nege maande oud. Hy het nog nooit sy oupa ontmoet nie.

Ek sal dalk nooit my pa leer ken nie, maar ek hoop as enige ander pa my storie lees, sal hulle na hul kind uitreik en hom of haar leer ken.

Weens alles sukkel ek om ’n verhouding met my kind en man te hê en dit breek my aan die binnekant.

* Skuilnaam