“Ek is ’n ma van in my dertigs. Ek en my 12-jarige seun was onafskeidbaar. Ek het hom amper twee jaar gelede laas gesien. Ek mis ons geselsies en sy soene met sy armpies om my nek as hy van die skool af kom en dat ek sy bed vir hom kan regmaak voor slaaptyd.

“Ek en sy pa was amper 13 jaar getroud en is nou al vier en ’n half jaar geskei. Hy het kort daarna weer getrou. Toe ons skei het die hof my seun in my sorg geplaas. Maar ek het uit Mpumalanga verhuis en wou in daardie stadium nie my seun se lewe te veel ontwrig om by ’n nuwe skool te begin nie. Ek het hom toe by sy pa gelos tot ek my voete in Gauteng kon vind.

“Ná ’n paar dae kry ek ’n oproep van ’n landdroskantoor gekry wat laat weet het ek moet oor twee dae in die hof wees. Ek het geen idee gehad wat die rede is nie. In daardie tyd het ek en my seun se pa taamlik goed oor die weg gekom en het ons mondelings ’n ooreenkoms gehad oor my seun se toekoms: dat hy ná die skoolkwartaal by sy pa na my toe sou kom.

“Hy het egter agter my rug werk daarvan gemaak om my naam by ’n maatskaplike werker by ’n plaaslike kinderbeskermingsvereniging te beswadder. Hy het aan haar vertel ek het my seun daar gelos en dat hulle geen kontak met my het of geen idee waar ek is nie. Ek is volgens hom ook ’n onbevoegde ma en ’n alkoholis. En om alles te kroon het hy gesê ek is te onstabiel om na my kind om te sien. Hy het ook beweer ek het van die een man na die ander gespring. Dis ’n blatante leuen.

Lees ook: ’n Begrafnis vir my huwelik – ’n leser se aangrypende brief

“Met al hierdie bewerings het hy sonder my wete ons seun in sy sorg gekry. Ek is intussen getroud en het van die een prokureurskantoor na die ander gegaan en elke keer by ’n doodloopstraat uitgekom. Ek het intussen na ’n dorp in die Vaaldriehoek verhuis. Hier het ek by ’n welsynkantoor om hulp navraag gedoen.

“Ek is vir sielkundige toetse van die een maatskaplike werker na die ander gestuur. Ons moes meer as twee weke vir dokumente wag van die maatskaplike werker in Mpumalanga om agter die kap van die byl te kom oor die redes waarom my seun van ons weerhou is.

“Ek is toe na ’n plaaslike prokureur verwys. Hulle het na my egskeidingsdokument gekyk en gesien my kind is in my sorg geplaas en dat ek hom sonder enige probleem mag gaan haal.

“In daardie stadium het ek nie van die dokumente geweet dat my seun reeds in sy sorg geplaas is nie. Dit is van my weerhou. In April verlede jaar het ek een oggend douvoordag gereed gemaak om ver te ry om my seun weer te sien. Daar was blydskap in my hart – maar ek het nie geweet wat die dag vir my gaan inhou of die tranedal wat wag nie.

“Ná ure se ry het ek en my nuwe man eers by die dorpie se polisiekantoor stilgehou soos ons prokureur voorgestel het ons doen. Ons is toe saam met ’n sersant na my seun se skool om met die hoof te gaan gesels. Maar steeds is ek nie toegelaat om my seun te sien nie.

Lees ook: ‘Swanger…en dit op 44!’

“Ek is na die hof op die dorp verwys om met die maatskaplike werker daar te gaan praat. Ons is toe na die landdroskantoor en dis waar ek vir die heel eerste keer dokumente gesien het wat my inlig my seun is nou in sy pa se sorg geplaas. Volgens die maatskaplike werker moes die balju van die hof ’n dokument aan my gestuur het sodat ek dit kon teken.

“Sy het my na die vereniging op die dorp gestuur wat na kinders se regte omsien. Ná ’n lang gesprek wat my soos ’n straatvrou laat voel het, het sy toe my seun se pa na haar kantoor ontbied. Hy het soos ’n buffel daar ingestorm en my gedreig. Hy het my daarvan beskuldig dat ek iets in die mou voer.

“Hy het op my geskree terwyl ek stil sit en luister het. My tweede man was nie saam in die kantoor nie, maar dit het hom baie ontstel. Hy het by my skoonouers op die stoepie buite gesit. Hy wou inkom, maar omrede hy die derde party is, het hy hom ingehou.

“Eindelik, ná ’n gesoebat kon ek my seun ’n uur lank in die kantoor sien. Dit het so vinnig verbygegaan. Dit het vir my so onregverdig gevoel. Ek het omtrent heelpad terug huis toe gehuil.

“Dit het my net nog meer vasbeslote gemaak om te bly veg. Ek het sedertdien aansoek gedoen deur my maatskaplike werker dat my seun hierdie vakansie by my kan kom kuier. Weer en weer; keer op keer, is daar verskonings dat my seun nie kan nie. Elke keer as ek my seun bel, sit sy pa die foon op luidspreker om te hoor waaroor ons praat.

“Ek sukkel nou al vier jaar lank om my kind terug in my sorg te kry. Intussen het ek met ’n onderneming begin om leerders te help om hul volle potensiaal te bereik en hul punte te verbeter.

“Ek wens ek kon my eie kind ook onder my vlerk neem en koester.

“Wanneer sal dit ooit gebeur?”