Dollage

OUKEI, jy onthou daai geroeste gietysterpot wat ouma Nellie vir jou gegee het, ja die een wat saam met haar ma-hulle oor die Drakensberge gekom het, nie die een met die drie pote nie, daai platboom-een? Loop haal hom uit en stof hom af en moenie nou al te veel oor die bietjie roes warrie nie, hier kom ? ding.

As jy gelukkig is, is dit ? pot wat met baie liefde gebruik is en met groot sorg getemper (ge-season) is en is daar nie ? kolletjie roes op hom nie. As daar is, kyk daarna, roep die gesin nader en deel hierdie wonderlike natuurverskynsel met hulle want hopelik sal hulle dit nie weer op daai pot sien nie.

Myne, ? klein pannetjie wat saam met my ouma Lena van Holland na SA verhuis het, het met ? gawe roeskol uit ? boks gekom ná ons paar maande in transito terwyl ons besig was om Nieu-Seeland toe te trek.

roeskol

Ek wys hieronder met die pan wat jy met jou pot moet doen. Die ding van gietyster is dat dit baie poreus is en dis waarom dit maklik roes. In uiterste gevalle vreet die roes te veel van die pot weg en kan die pot nie gered word vir kookdoeleindes nie, maar hy kan ? tweede lewe kry as versiering of iets in die kombuis. (Dit werk goed langs die stoof met al jou botteltjies speserye in.) As jou pot geroes is en hy is redbaar, is dit die laaste keer wat jy ekstreem met hom hoef te raak. pot met kol en spons OPERASIE RED JOU GIETYSTERPOT

skrop

Skrop daai roes af, maar as jy kan, moenie staalwol of metaal-potskuurders gebruik nie. Dit maak hom te glad en jy gaan later die ding waarop jy sit afsukkel om die pot getemper te kry. Gebruik seep, maar onthou, seep is gietyster se vyand. Dit haal jou temper af en dan roes die pot weer van voor af – maar moet jou nie nou daaroor bekommer nie, ek sal jou later weer herinner.

Die oomblik dat jy tevrede is dat jy al die roes afgewas en geskrop het, moet jy die pot vinnig afdroog en olie regoor vryf.

skoon pot

Plaas nou ? paar lae foelie onder in jou oond en verhit hom tot 180 °C. Wanneer jou oond warm genoeg is, smeer weer ? laag olie (olie wat hoë hitte kan hanteer, soos druiwe- of kanola-olie – beslis nie olyfolie nie) oor die hele pot en plaas hom onderstebo op ? oondrak in die warm oond.

pot in oond

Die onderstebo deel is nodig sodat die oortollige olie kan afdrup en die foelie is nodig sodat dit nie jou oond bemors nie. Moenie die pot se deksel vergeet nie – gee hom dieselfde liefdevolle behandeling.

Wanneer die pot klaar is, behoort hy so ’n donkerbruin lagie oor hom te hê. Dit lyk amper taai.

bruin lagie Hierdie lagie is wat jy soos ? kind moet oppas, maar anders as ? kind moet hy verkieslik nie weer seep sien nie – dit verwyder daai temperlagie in ? japtrap. Sien, ek het jou gewaarsku dat ek dit weer gaan sê. Moet ook nie bang wees vir bakterieë en ander dergelike goggas nie – die hoë hitte vermoor hulle gou-gou. As jy voel jy moet seep gebruik, bak maar net elke keer ná die seep weer jou pot met sy olielaag in die oond. Namate jy die pot gebruik, bou sy kleefvrye laag op en word dit net beter en beter. As jy meer wil weet of vrae het, e-pos my gerus by vetsjef@gmail.com. BAK NOU ’N BROOD IN JOU POT

Nou vir hierdie week se resep en as jy gedink het jy kan nie ? behoorlike brood bak nie, dink weer. Dié bekende nie-knie-resep is deur ’n New Yorkse deli geprakseer en het die eerste keer in die New York Times verskyn, maar ek het hom so effens verander sodat hy meer na suurdeegbrood proe.

NIE-KNIE-BIERBROOD

bestanddele

  • 3 k (425 g) witmeel (broodmeel werk die beste)
  • ¼ t (1 ml) kitsgis (moenie dink dis te min nie, dis regtig genoeg)
  • 1½ t. (7 ml) sout
  • 200 ml water teen kamertemperatuur
  • 85 ml bier (Ek hou daarvan om Lager te gebruik)
  • 1 e (15 ml) witasyn
Wenk  Jy kan ook nie-alkoholiese bier gebruik, maar wat is dan die doel, vra ek jou. In vir ’n pennie, in vir pond.

So maak mens

1 Meng die droë bestanddele saam en roer deurmekaar.

2 Roer die vloeistowwe by en roer goed deurmekaar.

deeg

3 Spuit kleefwerende middel oor die deeg en bedek die bak met kleefplastiek.

4 Bêre dit 8 tot 18 uur in ’n kas (hoe koeler die kas, hoe langer moet dit daarin bly). Die deeg moet in volume verdubbel en sulke gesellige borreltjies maak.

borreltjies

5 Wanneer hy op hierdie punt is, strooi ? bietjie meel op ? werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Vou nou die deeg 15 keer op soos jy ? stuk papier sou opvou. Nie meer nie, al raak die speletjie leker.

6 Vorm nou die deeg in ? bal, plaas dit op bakpapier en strooi ? goeie strooisel meel (mieliemeel werk baie goed) bo-oor. Bedek met kleefplastiek.

7 Laat dit weer 30-40 minute tot dubbel die volume rys.

8 Verhit jou oond tot 260 °C met jou gietysterpot (die een waarin mens ? potbrood bak) binne-in.

9 Haal die pot uit die oond wanneer die deeg klaar gerys het. Wees versigtig want hy is baie warm. Laat sak die deeg met die bakpapier binne-in die pot in. (Soos jy kan sien het ek nou maar ’n gewone ou pot hier vir die foto ingespan wwant my ysterpannetjie uit Holland deug nie heeltemal vir ’n brood nie.)

brood in pot

10 Plaas die deksel op, draai die oond af na 220 °C en plaas die pot terug in die oond.

11 Bak 30 minute, haal die deksel af en bak nog 15 minute.

12 As jy een van daai fênsie termometers het: Die interne temperatuur van die brood moet tussen 90 en 95 °C wees, dan is hy reg vir die plaasbotter en appelkooskonfyt.

 gaar brood Tot volgende keer, mooi kook. NB. Praat tog net met my, my e-pos is vetsjef@gmail.com

Groetnis

Die Vet Sjef

 Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet (al is dit die Dros se resep vir skaapnek), vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.