[caption id="attachment_43923" align="aligncenter" width="616"]Joe Makka word op sy eerste dag in Seoel deur kollegas verwelkom. Joe Makka word op sy eerste dag in Seoel deur kollegas verwelkom.[/caption]

GROETE uit Seoel, die hoofstad van Korea en ’n metropool met 25 miljoen inwoners. Dis presies vyf jaar sedert ek hier in Korea aangeland het om Engels vir vyf- tot 12-jariges te kom gee.

As ’n mens in Korea aankom, word jy in goeie Engels deur die Koreane op die lughawe gegroet, maar dit kan misleidend wees. Dan klim jy op ’n bus na jou bestemming in ’n land kleiner as die Wes-Kaap, en jy besef dat net ’n handjievol mense daar buite in die ‘regte’ Korea jou verstaan. Dit was eers nadat ek van die bus afgeklim het dat ek die ‘regte’ Korea leer ken het.

Daai eerste aand het drie van my kollegas my by die bushalte kom haal. Nie een van hulle kon vlot Engels praat nie, maar soos ek later sou uitvind was hul Engels die beste in die hele laerskool waar ek sou gaan werk.

Ek stel my toe voor deur baie stadig te sê: “Hello, my name is Joe.” Ek kan nie ontken of bevestig dat ek dit só gesê het dat mense sou dink die driestuks is dom en doof nie. In elk geval, Koreane, nes ons Suid-Afrikaners, hou daarvan om hul gaste kos te gee. Die eerste ding wat hulle dus ná die ongemaklike “My name is Joe”  gedoen het, was om my vir aandete Pizza Hut toe te neem.

Ek was nie vreeslik honger nie, maar het ingestem. Of ek dink ek het ingestem sonder dat ek weet waarvoor ek ja gesê het. Baie selfbewus en onseker oor wat om te sê of te doen, sit ek toe daar met ’n massiewe stuk pizza in die hand terwyl die ouer onderwyseres my vra: “Are you Richie?”

“Nee,” dink ek, “ek het dan nou net vir jou gesê wat my naam is.” Ek herhaal dit toe selfs nóg stadiger: “M-y n-a-m-e i-s J-o-e.”

“I know,” antwoord sy, “but are you Richie?” Dis toe dat dit my tref. Dis nie Richie die naam nie, sy wil weet of ek ryk is! Ek sou later uitvind Koreane spreek vokale tussen en aan die einde van lettergrepe uit waar daar nie vokale in die Engels is nie. Ek verduidelik toe geskok dat ek uit ’n baie gewone middelklasgesin kom wat nie naastenby richeee is nie.

Die taal- en kultuurgrens sorg dikwels vir ligter oomblikke hier waar ’n mens baie van jouself en die Koreane leer. Ek sien vreeslik daarna uit om van dié stories met Huisgenoot-lesers te deel.

Tot ’n volgende keer,

Joe a.k.a. Richie

- Joe Makka