Nou die aand sit Dolla en Binneland kyk. Skielik voel ek ’n skietpyn in my regterarm. Dit voorspel niks goeds nie. Ai, kan dr. Gideon nie maar uit die TV klim en my kom help nie? Is dit net ’n kramp in my arm? Dalk ’n hartaanval?

Ek het juis deesdae so baie stres. Dis geen grap om te moet snaaks wees vir ’n lewe as politici jou werk wraggies beter as jy doen nie.

Maar terug na die skietpyn. As Gideon of selfs daai dr. Tertius my nie kan help nie, moet ek dit seker maar Google? Hulle weet mos alles.

Dolla tik in: h-a-r-t-a-a-n-v-a-l. Oukei, die skietpyn is in my verkeerde arm. Watter kant sit my hart nou weer? Dalk sit hy op die verkeerde plek. Dis onwaarskynlik, maar dit kan gebeur – en ek suig dit nie uit my lollie nie, hoor. My nig Dottie moet so ’n MedicAlert-bandjie dra, want al haar organe is omgekeerd.

Dit het hulle natuurlik eers agtergekom toe hulle haar ná ’n motorfietsongeluk op die toneel dood verklaar het. Die medic was al aan die oppak toe Dottie laken oor die kop op sy skouer tik.

Maar terug na my hartaanval. Google sê die simptome is: pyn in die bors.

Mmm . . . Nie regtig nie, maar as ek hard genoeg druk, tog ’n bietjie.

  • Sooibrand? Vir seker. En nogal erg. Maar ek vermoed dis die garage pie.
  • Nausea (feeling sick to your stomach). Inderdaad, maar dink dis dalk ook van die garage pie.
  • Vomiting. Nog nie, maar gee kans.
  • Light-headedness or sudden dizziness, or breaking out in a cold sweat. Nee, ook nie. Ek slaak ’n sug van verligting.
  • Dokter Dolla het haarself gediagnoseer: geen hartaanval op pad nie.

SARS = stres

Die eintlike rede vir my stres is belasting. Ek haat die vorms. Dit het net nooit sin nie! Vat net die geld en bou daai verdekselse voetspa in Nklanda. Maar wag ’n bietjie, Google het wraggies ’n tax calculator! En voor jy kan sê SARS, het ek ’n antwoord. My belasting is die helfte minder as my aanslag. Wie het nou ’n rekenmeester nodig?

’n Paar dae lui my telefoon; dis verkeerd-om-nig-Dottie. Haar man verneuk haar, skree sy tussen die snikke deur. “Hoe weet jy dit? Het jy hom met die flerrie in die bed betrap?” vra ek.

“Nee,” hyg sy. “Hy’s afsydig. Hy’s heeldag in die gim. Hy’s altyd laat. Hy’t ’n motorfiets gekoop. Hy... hy...”

“Het jy dit ge-Google, Dottie? Op die internet?”

Sy was nie beïndruk nie. “Dolla, ek het nie ’n rekenaar nodig om te weet wat ek weet nie.”

Oukei, so Dottie is nog nie oortuig nie, maar volgens Google het Dottie se man ’n midlife crisis. Ek is nog aan die lees oor al die simptome, toe is sy weer op die lyn. “Ek gaan hom skei. Ken jy ’n goeie prokureur?” skelvra sy.

“Vir wat?” wil ek weet. “Hulle kos net geld. Kom ons Google dit net en doen dit self, want eintlik het...”

Dottie val my dwars in die rede. “Is dit nou die einste Google wat jou amper in die tronk laat beland het met jou belastingaanslag?

“Is dit die einste Google wat jou nig Sally laat vertel het haar kind is outisties? Is dit die einste Google wat jou ouma Dowe Dolla laat oortuig het sy kan self haar worshond se gebreekte been spalk... en toe byna twee vingers verloor het?”

Oukei, oukei, Dottie het ’n punt beet. Die internet het my al ’n paar keer van die wal in die sloot gehelp. Een of ander slimkop het mos gesê: Kennis is mag, maar ’n klein bietjie kennis is gevaarlik.

- Dowwe Dolla