Zelda la Grange vertel hoe die geweld in iemand anders se huwelik haar eie lewe van stryk gebring het.

[caption id="attachment_60482" align="aligncenter" width="600"]Abusive man 3 Wikiphoto Foto: WikiPhoto[/caption]

SY HET my ná haar wittebrood gebel en vertel sy’t in die stort geval en haar arm gebreek.

Ek het nooit van haar man gehou nie. Ek kon nie regtig sê hoekom nie – hy was net ’n bietjie te oorheersend na my smaak. Ek het getwyfel of ’n mens nou regtig jou arm in die stort kan breek terwyl jy met wittebrood is, maar ek wou haar baie graag glo. Ek was baie lief vir my beste vriendin.

Ná ’n paar maande kon sy dit nie meer hanteer nie en het my vertel van die geweld in haar huwelik. Maar soos die meeste vroue in daardie situasie het sy my verseker sy het alles onder beheer en ons gesprekke het altyd geëindig met “maar ek is lief vir hom”.

Maande later kon ek nie meer die ongemak en ellende hanteer van die laatnag-oproepe wat ek altyd gekry het as sy weer eens iewers gestrand was op pad terug na haar ouers se huis toe nie. Elke keer het ek gedink “uiteindelik”.

Maar mettertyd  het dit maande geword en later jare. Ek was oorweldig deur die uitwerking van die hulpeloosheid op my en moes wegstap. Later is ek ook uitgesluit en die oproepe het minder geword omdat sy verneder gevoel het deur die feit dat sy elke keer terug na hom toe is.

Sy het jare later die lig gesien, al was sy nog met hom getroud toe hy in ’n motorongeluk dood is – die lewe se manier om haar te bevry. Ons het nou weer kontak, maar ons vriendskap het daaronder gely. Sy wil hê dinge moet soos voorheen wees. Daar was ’n tyd dat ons onskeibaar was, maar dis nou moeilik omdat ons by mekaar verbygegroei het.

Die skade is nie net aan haar arm en gesig aangerig nie, maar ook aan ons vriendskap. Dit is party van die verreikende gevolge van geweld waaraan ons selde dink.

- Zelda

 Zelda picSMALL  Zelda  la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.