Wat is die grootste leuen wat jy nog ooit vertel het? reddit.com het onlangs dié vraag op hul webwerf geplaas en hier's 'n paar van die ontboeseminge.

Werkgewer en verlof

Al het ek genoeg verlof tot my beskikking gehad, wou my werkgewer nie verlof toestaan nie. Ek wou vir 'n week met my orkes gaan toer het. Ek het toe vir my werkgewer vertel my ouma is oorlede. My baas het dit "gerieflike tydsberekening" genoem en ek het teruggekap: "Hoe durf jy my daarvan beskuldig dat ek oor my ouma se afsterwe sou jok?" Hy het so sleg gevoel dat hy verskeie kere om verskoning gevra het en my boonop 'n verhoging gegee het kort na my vakansie.

Met Ouma gaan dit goed. Ek voel glad nie sleg hieroor nie.

Einde van die rookgewoonte

Toe ek my meisie ontmoet het, het ek vir haar gejok en vertel dat ek rook. Ek het gedink dit sou my koel-faktor verhoog. Ek het vir haar gesê ek sal ophou rook as sy nie daarvan hou nie. Drie en 'n half jaar later dink sy nog steeds ek het ophou rook ter wille van haar. Ek voel ellendig elke keer as dit in 'n gesprek opduik, maar kan nie juis iets anders doen as om te glimlag en te sê "dit was niks nie."

Voorgee-siekte

'n Tydjie gelede het ek halsoorkop verlief geraak op 'n meisie. Nuwe gevoelens en diep emosies sonder enige idee hoe om myself uit te druk. My meisie het van my af begin wegdryf. Ek het haar vertel ek het 'n ernstige siekte wat baie pyn veroorsaak, soveel so dat ek dalk vir 'n operasie moet gaan. Sy het vreeslik begin huil en al hoe meer tyd by my spandeer. My "toestand" het geleidelik verbeter - en sy't nooit die waarheid uitgevind nie.

"Slaap oor by vriende"

Ek het my ouers vir twee jaar lank laat glo ek slaap by my kitaarspeler se plek na oefensessies. In der waarheid het ek by my meisie oorgeslaap (My ouers is hiper-konserwatief). Ek was amper 19, sy was 28. My meisie het selfs saam met ons op vakansie gegaan. My ouers het heeltyd bly glo sy is 23. Sy was 31 toe ons verhouding verbrokkel het.

Wat is die grootste leuen wat iemand jou al ooit vertel het? Of wat jy dalk mee weggekom het? KLIK HIER en deel jou storie met ons. Dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.