DIT VOEL asof die hele wêreld skielik aan die bak is. Daar’s ’n oënskynlik eindelose rits TV-programme wat ’n skare mense aan die bak gekry het. Ons sien elke dag hoe die verkope van baktoerusting styg, en sowel mans as vroue trek hul voorskote aan en gaan grawe vrolik hul draadkloppers uit.

Ek dink dis ’n wonderlike ding. Die grootste vraag, sou ek raai, is: Hoekom is ons skielik bakbesete ná soveel jare van winkelkoeke koop? Hier is wat ek afgelei het . . .

Gesinsbande

Ek het ’n klein dogtertjie, Sophie, wat twee jaar oud is (en verspot oulik) en daar is vir haar niks lekkerder as om haar minivoorskoot aan te trek en op die kombuistoonbank te kom sit om saam met my “koeke te maak” nie. Uiteraard beteken dit gewoonlik meel op elke moontlike werkoppervlak en hope vrolike chaos. Maar die punt is: Dis ’n eeue-oue manier om tyd saam met vriende en familie deur te bring, en dit is baie kosbaar.

Teetyd

Teetyd in die middag was nog altyd ’n geliefde ritueel in my gesin en vir ons is dit niks nuuts nie, maar dit word op die oomblik deur baie mense herontdek. Dis dalk ’n teken van nostalgie, sentimentaliteit en verlange na deftiger tye, maar dis ook doodgewoon wonderlik.

Wees rustig

In ’n wêreld wat behep is met jaag, jaag, warrel, dwarrel, is bak ’n veilige toevlug waarna ek dink ons smag. Omdat dit nie aangejaag kan word nie en jou volle aandag en sorg nodig het, beteken dit ons moet die pas verslap as ons ’n perfekte koek of baksel kleinkoekies wil maak. Dit anker ons, bring ons terug aarde toe en laat ons die eenvoudiger dinge waardeer.

Hou boek

In ’n koswêreld wat oorspoel word deur verwerkte, verpakte eetgoed wat verdrink in die MSG en preserveermiddels, is bak ’n manier om boek te hou van wat ons eet.

Kom ons wees selfvoldaan

Van alle huishoudelike bedrywighede is bak waarskynlik die een wat vir die meeste tevredenheid sorg. Daar is iets diep dankbaars aan om ’n vars brood voor te sit, of ’n sny van die saligste tuisgebakte sjokoladekoek.

Die TV

Ja, seker die belangrikste rede vir ons huidige bakbeheptheid moet die oorvloed bakverwante programme op TV wees. Mense en programme soos Lorraine Pascale, Rachel Khoo, The Great British Bake Off, die Barefoot Contessa, en natuurlik ons gunsteling-TV-kok, Nigella, het bak weer sexy help maak.

Om jou eie bakbeheptheid ’n bietjie te voed, deel ek dus met smaak my gunsteling-Maklikste Sjokoladekoek-resep.

ChocCake1

MAKLIKSTE SJOKOLADEKOEK MET GRONDBOONBOTTER EN DONKERSJOKOLADE-VERSIERSEL

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 5 minute

Baktyd: 20 minute

JY HET NODIG

Koek

1 koppie suiker

1 koppie koekmeel, gesif

¾ t bakpoeier

¾ t koeksoda

3 e (gelyk) kakaopoeier

1 t (opgehoop) kitskoffiekorrels

knypie sout

2 eiers

½ k melk

1 e kookolie

1 t vanieljegeursel

½ k kookwater

Kitsversiersel

1 e (hoog opgehoop) gladde grondboonbotter

1 e (hoog opgehoop) Nutellasmeer

1-2 e kookwater

MAAK SO

1. KOEK Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer of spuit jou gunsteling-koekpan.

2. Plaas die suiker in ’n groot mengbak. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en kakao bo-oor. Voeg die koffie en sout by.

3. Klop die eiers, melk, olie en vanieljegeursel in ’n maatbeker en voeg dit by die droë bestanddele.

4.Voeg die kokende water stadig by. Roer terwyl jy dit ingiet tot alles net gemeng is.

5. Giet in die koekpan en bak 20 minute of tot die koek net gaar is en ’n pen wat in die middel ingesteek word, skoon uitkom.

6. VERSIERSEL Meng al die bestanddele tot glad. Verander gerus die hoeveelhede om die tekstuur te kry wat jy verlang.

7. Versier die koek en sit so gou moontlik voor.

-       Sarah Graham

Sarah is kosblogger, kookboekskrywer en TV-sjef. Lees gerus haar kosmymeringe op haar blog afoodieliveshere.co.za. Jy kan haar kookboek bitten in boekwinkels koop of  op haar webtuiste. Kyk haar TV-program“bitten – Sarah Graham Cooks Cape Town” op Sondae om 16:00 op SABC3.

Lees Sarah se ander blogs vir Huisgenoot:

Sop, lieflike sop

Die pad vorentoe

Kosnostalgie