.

JA, ONS hooftaak is om vakkennis aan die leerders te onderrig, maar ons doen soveel meer . . .

Dit is nou vyfuur in die oggend en ek skryf gou my blog voor ek die dag in die ateljee aanpak saam met die revue-leerders. Het ons nie die afgelope paar dae GESING en GEDANS en GEOEFEN nie! Tussendeur word die danspassies ook nog afgerond.

My dagtaak bestaan uit skoolhou en in die eerste week is ons kliphard besig met memorandumbesprekings van die Junie-eksamenvraestelle en punte en rapporte. In ’n vry periode skarrel ek rond om die dekor, kostuums, gala-aand, kleedrepetisies, klank en beligting te reël vir die revue wat oor drie weke op die planke moet wees.

Elke middag oefen ons tot laat met die verskillende groepe.

[caption id="attachment_46025" align="aligncenter" width="640"]Ateljee-opnames vir die revue Ateljee-opnames vir ons revue[/caption]

Terwyl ek gistermiddag by ’n repetisie was, kry ek die boodskap om ’n draai by die hoof te maak voor ek huis toe gaan. Ek weet ons gaan nog baie lank oefen en glip gou weg.

Op pad kantoor toe kry my hart so ’n warm, trotse gevoel, want sover ek loop, sien en hoor ek die verskillende revue-groepe en hul onderwysers. Die musiek van Elvis, Michael Jackson, Dirty Dancing, Fame en Footloose en selfs The Sound of Music en The Great Gatsby weerklink oor die terrein.

Ek sien hoe ’n juffrou hier saam met haar groep dans en hoe hulle dit almal geniet. ’n Entjie verder sien ek die rugbyspanne besig met hul finale oefeninge vir die uitspeelwedstryde. Dan sien ek ook hoe ongelooflik dierbaar dit is wanneer die helfte van ’n rugbyspan se seuns heel voor op die verhoog hul Grease-danspassies geniet.

Ek besef hoe pragtig die leerders van my skool is en hoe die onderwysers lank ná hul verpligte werkure steeds elke oomblik saam met die leerders geniet en hul eie tyd opoffer ter wille van die skool.

Onderwysers is soveel meer as net vakkundiges. Ons is in hierdie stadium choreograwe, stelbouers, grafiese ontwerpers vir programme en kaartjies, spyseniers vir die gala-aand en klank- en beligtingstegnici! En ons geniet dit!

Tussendeur moet ons ook troos wanneer ’n skoolliefde beëeindig word, dokter speel wanneer ’n kind flou val en probeer verstaan en help wanneer ’n hartseer leerder vertel van sy moeilike huislike omstandighede of verhoudingsprobleme met ouers.

Onderwys is nooit twee dae dieselfde nie en bied soveel beloning!

Maar as jy nie kan multitask nie, gaan jy sukkel!

- Olga Channing

Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

Onnies: Ses wenke vir die derde kwartaal

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens