Erla, ons internetafspraak-blogger, se volgende aandjie uit is met ’n ou wat ’n doktorsgraad in filosofie het. Sy smag na haar nuwe vryer se  woorde van wysheid, maar die afspraak word net ál meer bisar . . .

“EK IS jammer, ek kan nie een oomblik langer bly nie, laat my uit!” Waar hy oorkant my op die bank sit, lyk Doktor Filosofie meteens baie bleek.

“Ek ken vroue soos jy . . . ek weet wie jy is!”

Hy fluister die woord. Soos ’n vloek hang dit tussen ons. Ek vat half benoud aan die klein dolkie wat om my nek hang. Hy gryp onmiddellik angstig na sy nek. Die man kan tog nie ernstig wees nie.

By die deur gluur hy my aan, skielik weer manhaftig in die koue aandlug. Dan fluister hy dit weer, hierdie keer met meer venyn:

“Jy is ’n vampier!”

Ek maak die deur saggies agter hom toe. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie. Dit, liewe mense, was my tweede varkie-afspraak (uit die drie varkie-vryers wat ek verlede week begin ontmoet het, hopende dat die sementhuisvarkie onder hulle sal wees) – en ek kan eerlik erken dat ek wel my hande – en my tande! vir myself gehou het.

Eintlik het die aand heel goed begin. Op sy foto het Doktor Filosofie nie te aantreklik gelyk nie. Sy neus was te groot, sy oë te klein, sy hare ’n bietjie te koekerig in krulle agteroor gekam. Nogtans het ek dit oorgesien, want ’n filosofiegraad beteken die man het verstand, en dat ek vir ’n slag dalk oor iets anders as eksvroue, die nuutste rugby en die feit dat dit nog steeds in die Wes-Kaap reën (in die reënseisoen, sug) sou kon praat.

Aangekom by die restaurant, is dit gou duidelik dat Dokter Filosofie net nie fotogenies is nie. Aantreklik is hy wel – en sjarmant.

Stoele word uitgetrek by die kroeg, vingers word geklap in die rigting van die kelner. Ek gril ’n bietjie vir die koloniale gebaar, maar bly stil. Nou is dit dalk nie die regte tyd nie.

“My man!” basuin hy in die kelner se rigting. “Wat is jou beste wyne?” Die kelner se mond val oop van skok, ’n klomp bierbottelproppies skiet paniekbevange die lug in. Die paar bottels wyn wat half verlore tussen al die brandewynbottels staan, giggel half senuagtig.

“Hierdie is nie ’n fênsie restaurant nie. Hulle het net ses verskillende soorte wyne agter die toonbank,” help ek hom gou reg.

“O . . . wel . . .” pof hy hom vernaam op. “Dan vat ons die duurste bottel. Dis altyd die beste.”

Ek wil hom eers reghelp en daarop wys dat duur nie altyd dui op die gehalte van die wyn nie, maar besluit daarteen. Nou is dit nie die regte tyd nie.

Dan trek hy weg en wys vir my daardie brein waarna ek so gesmag het. Hy gooi die name van fillosowe soos roosblare voor my voete rond. Ek tel dit gretig op. Hy bespreek die lewe, die werklikheid, en liefde . . . o, die liefde . . . op so ’n deurdagte manier dat ek rillings kry van lekkerte. Hy swiep my van my voete af met sy teorieë en laat my swig met sy vonkelende slimseun-humor.

Dan word ek honger.

“Jy het nie genoem dat jy wil eet nie . . . Die afspraak was net vir drankies!” Dokter Filosofie gluur my heel donker aan. So asof ek hom wil verneuk.

A . . . natuurlik . . .

“Ek sal vir myself betaal,” sê ek, ’n ou gesoute in die wêreld waar mans nie bereid is om vir die ete te betaal as jy nie hul siels- of bedmaat gaan wees nie.

Onmiddellik helder sy gesig op. Sy oë lyk weer te klein, sy neus te groot. Ek bestel soesji. Hy bestel ’n grote vis. Twee keer die prys van my gereg. Teen die einde van die aand deel hy die rekening presies in twee. So saam met die “goeie” duur wyn. Ek besluit om niks te sê nie. Nou is dit nie die regte tyd nie.

“Kan ek jou plek sien?” vra hy.

Ons is ’n klipgooi van my huis af. Ek wissel so tussen half aangetrokke en half afgetrokke. As die lewe ’n snoekertafel was, sou die bal in hierdie stadium in enige gat kon inrol.

Ek stem in.

Hy is skaars in my huis of hy storm die gang af.

“Waarheen gaan jy?” vra ek.

“Na jou slaapkamer toe!”

Ek vlieg agterna.

In my kamer is hy besig om die een kasdeur ná die ander oop te maak.

“Hei, wat maak jy!” vra ek vies. Ek hou niks daarvan as mense deur my goed krap nie.

“O, ek leer jou ken. Ek kyk hoe jy jou klere groepeer. Wat jy as belangrik ag en nie. Hoe netjies jou kaste is . . .”

Ek boender hom net daar by my kamer uit. Niemand leer my ken sonder my toestemming nie.

Terug in die sitkamer gooi ek vir hom regte goeie wyn in. Gekies volgens die jaar en die soort wyn, nie die prys nie. Hy sluk dit af soos koeldrank.

“So vertel my van hierdie boeke wat jy skryf?” vra hy. “Waar kry jy die inspirasie? Waar kom jou muses vandaan?”

Moeg van die inspanning van die aand, moeg van die regte wyn en die verkeerde wyn, en moeg van verduidelik, blaker ek presies uit wat in my kop is.

“Mans inspireer my. Hul aandag en bewondering inspireer my en ek gebruik hulle as muses. Hoe meer mans, hoe meer stories het ek.”

Hy raak net daar wit.

“Ek ken vroue soos jy . . . my professor het ’n hele teorie gehad oor julle. Vroue wat teen die norm gaan van die manlike kunstenaar, vroulike muse. Julle is vampiere! Julle suig mans se energie en gebruik dit vir julleself!”

“Waarvan praat jy?” lag ek. Heimlik dink ek egter dat dit na glad nie na ’n slegte idee klink nie.

“Bly weg van my! Vroue soos jy eet mans soos ek net op en spoeg ons uit. Jy kry nie my gedagtes nie! O nee!”

Hy spring op en begin agteruit deur toe loop. Ek begin wonder hoeveel wyn hy wel gedrink het. Met sy oë vasgenael op my loop hy agteruit by die voordeur uit. Ek wil hom eers waarsku oor die groot potplant en steil trappe reg agter hom, maar besluit dan daarteen.

Nou is dit nie die regte tyd nie.

– Erla-Mari Diedericks

Foto: crafty-dame op Flickr

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com.

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs by

Ek en die blommeverkoper

Die stories wat geskeide mans vertel!

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn