’n Vrou skryf desperaat aan Huisgenoot sy is op soek na haar biologiese suster wat sy nooit eens geweet het bestaan nie. Lees haar roerende brief hier:

My ma het in 1974 met my, Noeleen Crerar (gebore in 1972) en my suster, Maralize Crerar (gebore in 1973) uit Durban Kaap toe gekom om werk te soek. Kort nadat ons in Kaapstad aangekom het, het my ma een van haar vriendinne se suster as baba-oppasser gebruik en my en Maralize by haar gelaat.

My ma het nooit teruggekeer nie.

Die vrou by wie my ma ons oorspronklik gelos het, het my en my suster, Maralize, in pleegsorg laat geneem. Die Wynbergse welsynsafdeling in Kaapstad het die saak behartig.

Kort nadat ons in pleegsorg geplaas is, het Maralise breinvliesontsteking opgedoen en sy is as gevolg daarvan oorlede.

Ek kry steeds terugflitse van Maralize.

Ná Maralize se dood het my pleegmoeder my stories vertel oor hoe ek met my babapoppe gespeel en hulle Mala – my bynaam vir my suster – genoem het. Sy het my altyd vertel hoe emosioneel moeilik my suster se dood vir my was. Toe moes ek twee verliese oorkom: Eers het my ma my verlaat en toe is my suster oorlede.

Ek het saam met ander kinders in pleegsorg gebly. Hulle het eindelik my gesin geword, ’n plek wat ek my tuiste genoem het.

Met die jare het ek nooit weer iets van my biologiese ma verneem nie. Tot op my 13de verjaardag. Maar dit was nogeens net ’n geval van weer in en uit my lewe.

My ma is weer getroud en sy het ’n nuwe lewe saam met ’n nuwe gesin begin.

Toe ek 18 jaar oud word, het ek weer ’n groot verrassing gekry. Ek het nog ’n suster gehad. Sy is ook weggegee vir aanneming. Die Wynbergse departement van welsyn het my ingelig oor haar bestaan en die aannemery.

Ek het vir die eerste keer uitgevind ek het nog ’n suster en haar naam is Catherine.

Ek onthou die nuus het my geskok en oorweldig. Ek het aanhou vrae vra. Ek het die welsynsbeampte gevra of ek nadere inligting kon kry. Ek onthou hulle het gesê dis ’n geslote aanneming.

En daar sit ek toe met al hierdie vrae wat in my kop rondmaal en nie een sou beantwoord word nie. Ek is toegang geweier tot die suster van wie se bestaan ek pas bewus geword het.

Die welsynsbeampte het my aangesê om die kantoor te verlaat. Ek is daar uit met ’n gevoel van leegheid, ’n gevoel dat ek iets agtergelaat het . . .

My instink het my gedwing om terug te draai en aan te dring dat die welsynsbeampte die vrae beantwoord wat deur my kop gesmaal het. My binneste het leeg gebly terwyl ek na Wynberg se stasie gestap het. Daar was so baie emosies wat oor my gespoel het.

In die trein op pad huis toe het ek besef dat daardie dag my vir altyd verander het.

Terwyl ek besig is om my verhaal neer te skryf, voel ek baie emosioneel. Die skryf hiervan het ’n klomp emosies wakkergemaak wat ek met die jare onderdruk het.

Ek moes met my lewe voortgaan en aanvaar dat ek nie veel kon doen nie. Die reëls ten opsigte van aanneming was nie in my guns nie en ek het hulpeloos gevoel.

Ek is in 1993 getroud en het, met die hulp van ’n ondersteunende man, vier pragtige kinders grootgemaak.

Die dae het maande geword en die maande jare. Ek het in 2006 besluit om die registrateur van aannemings in Pretoria te nader. Ek het in aanraking gekom met ’n aannemingsbeampte wat na my verhaal geluister het.

Sy het verduidelik dat sy niks kon doen om my te help nie aangesien my suster Catherine nooit enige navraag gedoen het by hul kantoor nie. Dit het een van twee dinge beteken: Catherine wou nie gevind word nie of sy het nie geweet sy is aangeneem nie. Ek het my kontakbesonderhede by die aannemingsbeampte gelos sodat sy dit in die lêer kon hou as Catherine ooit hul kantoor sou nader om inligting.

Ek het die afgelope 10 jaar gereeld my kontakbesonderhede by die registrateur van aannemings op die hoogte gebring.

Ek het in Oktober 2015 weer besluit om met my soektog voort te gaan deur daardie selfde beampte by die registrateur van aannemings te nader en haar te vra of daar enige nuwe besonderhede oor Catherine was.

Ongelukkig was daar niks tot op datum nie. Ek vra haar toe of daar enige manier is waarop ek my soeke kon begin. Sy het aan my verduidelik dat net die biologiese ma navraag kon doen.

En dis presies wat ek gedoen het. Ek het die biologiese ma gevra om die nodige dokumente in te vul sodat die soektog kon begin. Eindelik het ons die bal aan die rol gekry.

Daar is so baie stories oor my suster se aanneming. Ek het verneem my suster is nie wettiglik aangeneem nie aangesien die biologiese ma nie die kind vir aanneming afgeteken het nie. Die aanneming is deur die staat gedoen.

Toe was daar gerugte dat my suster Catherine onder die ou apartheidswette herklassifiseer is as kleurling toe sy uitgeplaas word vir aanneming. Ek het gehoor ’n Indiërgesin het Catherine aangeneem. Die een aanneemouer was ’n dokter.

Ek het so baie vrae gehad, maar niemand kon met die regte antwoorde vorendag kom nie.

Ek het besluit om terug te gaan na die plek waar die aanneming die eerste keer plaasgevind het. Ek het die welsynskantoor waar die storie begin het, genader en het by ’n pragtige dame uitgekom wat my saak aangehoor het en die prosedure aan my verduidelik het, ’n prosedure wat ek teen hierdie tyd uit my kop geken het.

Sy het inligting ter stawing van wie ek was en wat my verwantskap met die biologiese ma was, van my verlang. Sy het die nodige stappe gedoen deur na haar base te gaan en het verlof gevra vir toegang tot die inligting waartoe ek toegang kon kry.

Sy het eindelik na my teruggekom met ’n bietjie agtergrondinligting oor my suster voor sy by haar aanneemouers geplaas is. Die welsynsbeampte het ’n paar stukkies van die legkaart vir my teruggeplaas.

Die aanneming is wettiglik deur die staat gedoen. Toe my suster op die ouderdom van drie maande verwerp is, het die welsyn haar geneem. Die welsynsbeampte het bevestig dat al die welsynskantore in Durban, Johannesburg en Kaapstad hiervan in kennis gestel is.

Alle polisiekantore in en om Durban, Johannesburg en Kaapstad het ook kennisgewings gekry. Hulle het probeer om die biologiese ma deur vriende en familie op te spoor, maar niemand het geweet waar sy was nie.

Die welsyn het besluit hul laaste hoop was om dit in Januarie 1975 in nuusuitsending van die SAUK uit te saai.

Nadat alle pogings om die biologiese ma te vind, vrugteloos was, is my suster Catherine teruggeneem na haar geboorteplek, die Addington-hospitaal in Durban, in die hoop dat die biologiese ma die baba sou kom soek.

My suster het van Februarie tot Junie 1975 in die Addington-hospitaal gebly en is in die pleegsorg geplaas van die paartjie wat haar aangeneem het toe sy 18 maande oud was.

Soos ek die saak verstaan, was Catherine se rasseklassifikasie onbekend aangesien sy nie by geboorte geregistreer is nie. Ek is nie seker of dit die waarheid is nie, maar daar word geglo dat kinders eers op die ouderdom van 18 maande geklassifiseer word wanneer alle gelaatstrekke of velkleur duidelik word.

Die eerste keer toe ek uitvind ek het ’n suster wat vir aanneming afgegee is, het ek begin gerugte hoor dat ’n dokter of verpleegster haar aangeneem het. Nadat ek ’n paar feite oor my suster se lang verblyf in die Addington-hospitaal gehoor het, sou dit sin maak dat die gerugte waar was. Moontlik het iemand wat aan die Addington-hospitaal verbonde was, van my suster gehou en besluit om haar aan te neem.

Die registrateur van aanneming probeer tans om die aanneemouers vir ons op te spoor deur middel van binnelandse sake. Die amptenaar by die registrateur het my ingelig dat die opsporing tot ’n jaar kan duur en ons kan moontlik nie suksesvol wees nie.

Die opsporing sal beëindig word as albei die aanneemouers reeds oorlede is. Ek het met haar in aanraking gebly, en ek verstaan ten volle hoe besig sy is en beloftes oor terugvoer het nooit werklikheid geword nie.

Ek het vandag uitgevind sy het afgetree. Vrydag 21 Oktober was haar laaste werkdag. Waarheen nou? Moet die hele proses dan nou weer van vooraf begin?

Ek het vandag uitgevind die lêer om my suster op te spoor, is nog nie eens geopen nie. Hulle het my in Maart vanjaar gesê die opsporingspoging gaan begin. Ná volgehoue oproepe kon ek uitvind die lêer lê steeds op iemand se lessenaar.

Ek weier om moed op te gee, selfs al raak dit ook soms hóé emosioneel uitputtend. Al wat ek soek, is hoop en iemand wat my kan help. My suster Catherine sal op 1 November haar 42ste verjaardag vier en ek bid dat ek met haar volgende verjaardag by haar sal wees.

"Aan Catherine

Waar jy ook al in die wêreld is, wens ek jou ’n gelukkige verjaardag toe, liewe suster, en jy moet weet iemand is lief vir jou en dink elke liewe dag aan jou. Altyd in my hart.

Liefde ?

Jou suster Noeleen"

*Minimale redigering is gedoen.