[caption id="attachment_47831" align="alignnone" width="600"]Illustrasie: Wikihow Illustrasie: Wikihow[/caption]

IS EK reg om weer mans te ontmoet? Is ek gereed vir liefde? Ná my rampspoedige afspraak met Boepman waar hy my daarvan beskuldig het dat ek sy tyd gemors het (Ek soek na liefde – aanlyn), dink ek nogal baie daaroor.

Dit duur nie lank voor ek by die antwoord uitkom nie. Ek maak die sommetjies en besef dat ek in 20 jaar tegnies nog net sowat ses maande lank enkellopend was. Ek is die soort vrou wat van die een verhouding na die ander verhouding vlieg, soos ’n sweefkunstenares. Van die een paar sterk hande na dievolgende vlieg ek deur die lug. En elke keer is daar ’n man om my te vang.

Die probleem is net: Ek vlieg sonder ’n beskermingsnet. Tans is ek ’n enkellopende ma. Ek huur ’n woonstel. Ek het nie juis ’n inkomste om van te praat nie. Kan ek regtig bekostig om elke keer van voor af te begin wanneer ’n langtermyn-verhouding nie werk nie? Kan my hart dit bekostig?

As ek aan my hart dink, sien ek een van daardie porseleinborde wat al so baie gebreek het, hulle is meer krake as bord. Dalk is dit tyd om eerder op te hou om die bord te probeer las en die mosaiëk-roete te kies. Iets nuuts te skep. Met ander woorde: Dalk is dit tyd dat ek vir die eerste keer in my lewe in die bondel vry en nie te gou betrokke raak nie.

Hier teen Dinsdag se kant begin dit vir my na ’n ál beter idee te klink. Dinsdagaand besluit ek om my vangnet wyer te stel en die ouderdomsgroep waarin ek belangstel, te vergroot. Vergeet van mans tussen 40 en 50 – dis uitgaanmateriaal daai; mans met sterk arms wat my sal vang en dalk selfs sal vashou. Wat ek nodig het, is eerder ’n man wat net saam met my sal vlieg – heen en weer, deur die lug.

Sommer net daar verander ek dus die ouderdomsgroep. Na tussen 25 en 45 jaar. Waarom nie?

Woensdag is my inboks so vol jong mans wat wil weet of ek van jong mans hou dat ek net daar besluit: of ek nou van jong mans hou of nie, dis hoog tyd dat ek een uitprobeer. Daar is nogal ’n hele paar om van te kies. En jy weet hoe is jong mans, die ene spiere en sexy glimlaggies met ’n spasie vol belustigheid waar die brein moet wees. Ek besluit dus om te begin met ’n proses van eliminasie.

Eerstens verwyder ek almal onder 29 jaar. Dan laat gaan ek die onaantreklikes. ’n Paar bly oor. Dan begin ek hulle boodskappe lees. Genugtig. Daar is ’n hele paar wat glad nie kan spel nie. En ek praat nie van tikfoutjies of vingerglip-foutjies nie. Ernstige spelfoute. Spelfoute wat kentekend is van die huidige onderwysstelsel en die feit dat hulle dalk nog net nie oud genoeg is om behoorlik te kan spel nie. Dit sal my leer. Dus waai al dié wat nie kan spel nie.

Aansienlik minder bly oor.

Dan begin ek met hulle gesels. Die gesprekke is pynlik met tye. Hulle noem my angel. Of babe. Darem nie tannie nie. Hulle wil ontmoet. Besig raak. Moet ek of moet ek nie?

Donderdagaand inboks ’n man my. Ek hou van sy naam. Op sy foto lyk hy in sy 30s. Hy is reusagtig lank. Hy het klaar gestudeer. Hy werk. Maar hy is 27 jaar oud – en bly nog by sy ma (ek gril, maar probeer om nie daaraan te dink nie). Tog klink hy darem volwasse (menende hy vra my eerder uit oor wat ek doen as oor die grootte van my borsmaat). Teen Vrydag weet ek dat hy nog altyd net met ouer vroue uitgegaan het (wat beteken hy sal darem nie gillend wegstorm van my dikmiddelse middeljarigheid af nie), dat hy iemand soek vir vlieg en nie vir vang nie, en dat hy wegskram van jonger vroue omdat hulle wil trou en kinders hê, iets waarvoor hy nie gereed is nie.

Saterdagoggend ontmoet ons vir koffie. Sommer in ’n koffiewinkel by Melkbosstrand. Ek is half senuagtig, want ek kan skaars onthou wat om vir ’n vreemde man te sê, wat nog van een wat gebore is toe ek 19 jaar oud was.

Op pad na die koffiewinkel dink ek terug na daardie tyd. Ek was in my derde jaar op universiteit. Madonna was toe nog jonk en vars. Selfone het nie bestaan nie. Internet ook nie. Ek was darem vetter toe as nou. Troos ek myself.

Hy sit en wag vir my as wanneer instap. Staan op as hy my herken. Ai, ai, ai sing my hart. Hy is groot. Sterk. Die ene spiere. Hy dra ’n moulose frokkie wat sy bruingebrande gebulte spiere en sy tatoes (daar is baie, genoeg om my ’n hele aand besig te hou) vertoon. Hy dra ’n hoed. Hy lyk soos ’n rapper. Wel . . . daar is altyd ’n eerste keer.

“Wil jy iets drink?” vra hy.

“Cappuccino,” antwoord ek.

Ons oë ontmoet. Hy is regtig, regtig aantreklik.

“Jy is baie mooi,” fluister hy en vat aan my hand.

En op daardie oomblik vergeet ek alles. Sy ouderdom, die hoed, die feit dat hy nie een enkele plooi op sy gesig het nie. Al waaraan ek kan dink, is vlieg. En hoe hoog.

Dan daag die kelnerin op.

“Is julle gereed om te bestel?” vra sy glimlaggend.

“Ja,” antwoord hy selfversekerd. “My vriendin sal ’n cappuccino bestel.”

ERLA2

“En vir jou?”

Ek en die kelnerin kyk afwagtend na hom.

“ ’n Melkskommel asseblief. Piesanggeur.”

ERLA

Eers dink ek dat ek nie reg gehoor het nie. Dan begin ek lag.

“Waarom lag jy?” vra hy verbaas.

“Asof dit nie erg genoeg is dat ek 19 jaar ouer is as jy nie, moet jy dit gaan staan en invryf deur ’n melkskommel te bestel! ’n Melkskommel van alle dinge!” proes ek.

Hy kyk my vir ’n oomblik verward aan.

“Maar ek hou van melkskommels . . .”

Natuurlik, dink ek by myselwers. Jy het nog ’n melkbaard – en heel moontlik ook nog van jou melktande. Maar hou ek van mans wat nog melkskommels drink? Dis ’n gans ander saak . . .

“Komaan, het ek jou nou afgesit?” vra hy bekommerd.

“So effe,” antwoord ek.

“Wel, dan sal ek dit moet regstel,” sê hy . . . en soen my. Net daar. In die koffiewinkel.

Ons het volgende week ’n afspraak.

Want hy soen nie soos ’n man wat melkskommels drink nie . . .

- Erla-Mari Diedericks

CreditErla-Mari Diedericks is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by http://www.kalahari.com/books/Still-Standing/632/47272047.aspx?keyid=rss  Kyk ook die onderhoud met haar in die ontbytprogram Expresso op SABC 3 op Maandag 5 Augustus om 08:20.

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/