[caption id="attachment_62272" align="alignnone" width="600"]Seuntjie en dogtertjie droom op die strand Foto: Tollie Schmidt/Flickr[/caption]

AFWAGTING. Dis die woord wat ’n eerstekeer-afspraak omskryf. Elke keer as ek iemand ontmoet, het ek ’n mate van afwagting. Dat hy sexy gaan wees. Of interessant. Of dat hy, anders as wat ek verwag, my hart gaan steel.

Oor en oor ontmoet ek hulle – lank en kort, ryk en arm, vriendelik en nors. Elke keer met effense skoenlappers in die maag, my hart gereed vir die diefstal. Maar elke keer gaan ek huis toe, alleen, my verwagtinge nie vervul nie, my hart nog steeds myne. So ’n ruk gelede raak ek dus van die vlinders in my maag ontslae. Net so. Ek verwag nie meer nie. Ek daag net op. Glimlag. Eet my kos, drink my wyn, luister na hul stories. Ek is sjarmant. Ek steel harte, ek wen punte, ek sit met mans wat my skielik wil hê vir altyd, maar self . . .? Self voel ek niks. En veral – verwag ek niks. So tussen die nie-verwagtinge deur kontak ek iemand. Sommer net. Hy is nie juis my tipe nie, maar ek hou van iets in sy profiel: “Ek soek iemand om mee saam te droom.”

Man soek het vir my baie geword soos werk soek

Wie droom nog? wonder ek. Ek droom. Dit weet ek wel, maar niemand wat ek ontmoet, droom meer nie. Hulle is te ontnugter of nog te vars uit die nagmerrie van ’n vorige verhouding om te droom. Maar hierdie een wil droom.

Ek kontak hom. En vergeet summier van hom.

“Hei, wat het van jou geword?” skryf hy ná ’n ruk. “Kom ons ontmoet.”

Ek sug.

Verwag niks.

Dis ’n reënerige dag. Ek is besig en nie juis lus om te stort of mooi aan te trek nie, maar besluit tog om dit te doen, want ’n mens weet nooit nie.

Op pad soontoe dink ek hoe man soek baie vir my geword het soos werk soek. Jy gaan maar deur al die roetine-vrae, jy hoop nie eens meer jy kry die werk nie, jy hoop net daar is nog ’n onderhoud ná hierdie een.

Hy kry my buite die restaurant. En nee, hy is nie wat ek verwag het nie. Hy is lank. Groot. Lyk konserwatief. Baie ernstig. My hart, weet ek, is veilig.

So deur die reën deur vertel hy my van sy doktorstesis. Ek voel prikkels van belangstelling. Maar dis wanneer ons oë skielik ontmoet dat my hart begin bokspring. En dis wanneer ek nie kan of wil wegkyk nie, dat my hart begin wegkruip. Want sy weet wanneer sy gesteel gaan word . . .

- Erla

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php