Dit volg na ’n gerekende NG-dominee ’n debat ontketen het nadat hy tydens ’n onlangse Bybelskool gesê het angs en depressie kan ’n simptoom van “gebondenheid aan die duiwel” wees.

Sellofaan, watte, kop onder die water. Het jy ook al gevoel jy moet hierdeur beweeg? Dan gebruik jy dalk ook, soos ek, medikasie vir ’n psigiatriese toestand.

Jy is bewus van die krakies in jou gemoed; dat jou hart soos ’n eier in die mikrogolfoond uitmekaar gaan spat. Maar die chemikalieë in jou bloed en brein hou alles bymekaar, al voel jy heeldag naar en duiselig

Ek is sielkundig ongesteld – geestesiek – soos mense dit sal noem. Maar absoluut niks is met my gees verkeerd nie. Ek is ’n baie geestelike mens. Ek is veral nie deur die duiwel besete nie. Inteendeel. My gees is baie gesond, want ek bly hoop. Dit het, gelukkig vir my, helder begin opflikker toe ek die regte medikasie kry. Met hoop kan ’n mens oorleef, al is die newe-effekte van die pille dikwels ondraaglik.

Deur die nag en die eerste paar uur nadat ek opgestaan het, is my mond so droog, my tong voel soos skuurpapier teen my verhemelte. Daar moet altyd ten minste ’n liter water byderhand wees, anders is dit byna onmoontlik om te praat. En vir ’n joernalis wat moet onderhoude voer, is dit een van die grootste nagmerries.

’n Rukkie gelede moes ek klas gee in trauma-verslaggewing toe dit so erg raak dat ek die lesing moes kortknip.

Ek het ook heeltyd ’n onblusbare lus en selfs obsessie met carbs: brood, pasta, pasteie, tjips. Dis selfs erger as die rookgewoonte wat my ná meer as 10 jaar sonder sigarette weer beetgepak het.

Dokters noem dit “self-medikasie” en “comfort eating”. Die rokery laat die fladdering deur my lyf bedaar. Ek sal my kieste vol stop tot ek soos ’n hamster lyk. Dit laat my goed voel.

Ek het weer ná drie maande probeer teruggaan gimnasium toe, maar my rooklonge en die feit dat ek so onfiks is, suig die energie ná minder as 10 minute op die drafmasjien uit my uit. Maar ek gaan weer ophou rook as die tyd reg is. Vir nou is dit ’n trooskombersie. En dan sal ek ook weer fiks word deur Tafelberg en die Gewelberge te gaan klim. My medikasie moet net eers ’n balans in my brein bewerkstellig. Dit kan tussen drie tot ses weke duur, waarsku die psigiater.

Ek is nou op antidepressante met ’n sterkte van 75 mg en 100 mg antipsigotiese middel saans en 25 mg daarvan in die oggend. Die newe-effekte is soms baie erg, maar ek weet verseker as ek dit nie geneem het nie, sou ek dalk nie hier kon sit en skryf nie. Dit hou my aan die gang.

Een derde van alle Suid-Afrikaners het ’n psigiese siekte – en 75 persent van hulle sal nooit enige hulp kry nie. Ek is een van die gelukkiges.

Oktober is ’n bewusmakingsmaand oor psigiatriese gesondheid.

Meer as 17 miljoen mense in Suid-Afrika leef met depressie, dwelmmisbruik, angs, bipolêre steuring en skisofrenie, toon syfers van die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid. Die simptome van tussen 70 en 90 persent van psigiatriese pasiënte sal beduidend opklaar en lewensgehalte verhoog met ’n kombinasie van medikasie, psigososiale behandeling en ondersteuning.

Ek sit hier in my kantoor op die sewende verdieping hoog bo die grond. Agter het die uitsig oor die hawe die afgelope maande begin verdwyn weens ’n nuwe gebou wat ál hoër vorder. Uitsigloos?

Ek is al sedert 1999 ’n joernalis. Ek is nou 43. As misdaadverslaggewer in die beginjare het paniekaanvalle en mettertyd angssteuring my amper my werk gekos. Maar ek het gelukkig gou by ’n psigiater uitgekom.

Die medikasie waarop sy my gesit het, het vir ’n ruk gehelp, maar ek het die slaapmiddel en susmiddel begin misbruik en verslaaf geraak daaraan. Dit het ses psigiaters en drie sielkundiges gekos om by die regte behandeling en medikasie uit te kom.

En hier is ek nog. Elke dag, omring deur millennials wat multimediavaardig is en hierdie ou hond nuwe toertjies moet leer. Ek moet myself bewys. Dat ek nog hier hoort; ’n bydrae kan lewer. My gemoed is dalk gekraak, maar ek is nie gebroke nie.

Die medikasie is in hierdie stadium die gom wat my bymekaar hou. Dis niks om oor skaam te wees nie. Soms behandel mense jou of jy dom of ’n bietjie stadig is. Lag dit af. Hulle bewys net hul eie onkunde. Soms voel dit of die jonges wat saam met jou werk, respek by die venster uitgooi as hulle uitvind jy kry behandeling.

Herinner jou net heeltyd dat jou lewenservaring nie iets is wat hulle op universiteit of kollege geleer het nie. Hulle kan dalk ’n YouTube-kanaal of hul eie app bou, maar het hulle raad vir mense wat deur ’n moeilike tyd gaan? Kan hulle mense help opbou?

Mense drink pille vir hoë bloeddruk, cholesterol, hartsiektes. Hierdie pille is nie pret om te neem nie, maar depressie kan die kanker van die siel wees. En net soos jy kan sterf aan kanker wat nie behandel word nie, kan jy sterf aan depressie weens selfdood.

Mense praat van ons as die “Prozac nation”. Ek beskou ons as vegters in die daaglikse stryd teen die siektes in ons gemoed. Respekteer ons daarvoor. Gee ons ’n kans.

En vir almal van my “tribe”: Ek is hier vir myself en vir julle. Kop hoog, haal diep asem en kom ons storm die lewe tegemoet.

Hier’s hulp:

Om te lewe saam met iemand met ’n psigiatriese siekte, kan ’n uitdaging wees, sê dr. Ajesh Janki, ’n psigiater by die Akeso-kliniek in Umhlanga aan die KwaZulu-Natalse noordkus. Hy beantwoord ’n paar vrae:

Wat kan ek doen as iemand weier om hulp te kry?

Probeer om die redes te verstaan en stel hulle gerus oor hul kommer. Herinner hulle daaraan dat ’n besoek aan ’n sielkundige of dokter nie noodwendig beteken jy sal moet behandeling kry of in ’n hospitaal opgeneem word nie. En behandeling behels nie altyd medikasie nie. Daar is ook sielkundige terapie.

In ernstige gevalle waar die mens ’n gevaar vir hulself of ander mense kan inhou, kan hulle sonder toestemming opgeneem word. Dit behels ’n wetlike proses wat ’n mens dwing om in ’n hospitaal opgeneem te word.

Hoe hanteer ek moeilike gedrag?

Dit help om planne te beraam en die risiko van gedrag vroegtydig te voorkom, soos dwelm- en alkoholmisbruik, dreigemente of aggressiewe dade en dreigemente van selfskade.

Verbale of geskrewe ooreenkomste werk dikwels. Dit kan dalk beter wees om ooreen te kom om klein hoeveelhede by die huis te drink as om by ’n gefuifdrinkery op straat betrokke te raak.

Wees bewus van gedrag wat kan voorspel iemand gaan hulself of ander skade aandoen soos byvoorbeeld om die huis aan die brand te steek of buite rond te dwaal. Ontkoppel byvoorbeeld die stoof of plaas kameras by die ingang of uitgang van die huis. In uiterste gevalle moet oorweeg word of ’n sorgagentskap of tehuis genader moet word. Dit moet tot voordeel van die pasiënt wees en tot voordeel van jou of die versorger.

Wat doen ek as iemand selfdoodneigings toon?

Probeer vasstel hoe die mens voel en wat tot die desperaatheid bydra. Bied ondersteuning waar jy kan, maar onthou jy is nie ’n terapeut of psigiater nie. Daar is baie steungroepe wat kan help (sien onder).

Soek dringend hulp by ’n professionele mens en waar nodig neem jou geliefde na die noodeenheid van ’n hospitaal om vas te stel of hulle opgeneem moet word.

Vir bystand maak kontak met:

Akeso-psigiatriese kliniek, Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag), Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiatrie.